top of page

Die moeilike proses van vergiffenis

Teks: Genesis 33:1-20

In hierdie gedeelte is dit opvallend dat Jakob nou nie meer in vrees wegkruip agter al sy besittings nie. Hierdie keer loop hy voor en vertrou op God wat pas aan hom verskyn het (33:1).

Jakob maak dit in hierdie gedeelte (vgl. 33:8 & 10) baie duidelik dat hy met die geskenke probeer het om die goedgesindheid van Esau te wen. Daarom die trane van verbasing en verligting wanneer Esau op Jakob afhardloop, hom omhels en soen.

Dan maak Jakob ‘n baie interessante opmerking in vers 10. Hy sê:

“Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer ’n mens in die teenwoordigheid van God verskyn.” (Gen. 33:10)

Jakob vergelyk m.a.w. sy skuldbelydenis teenoor Esau met wat ‘n mens sal doen wanneer hy sy sonde teenoor God bely. Ons is diep in die skuld by God en wat ‘n verligting is dit dan nie wanneer ons na God toe kan gaan en ‘n vriendelike gesig kry nie. ‘n Gesig wat ons omhels en soen.

Daarom is dit belangrik dat elke gelowige ook nuut moet dink oor vergiffenis.

Een van die groot redes waarom ons sukkel om te vergewe, is hoogmoed. Wanneer ‘n persoon vir ons gejok het, sê ons maklik: “Hoe kon jy so vir my gejok het” – asof ons nooit jok nie. Asof ons nie in staat is om sonde te doen nie.

Ons leer dus die volgende belangrike sake rondom vergiffenis uit hierdie gedeelte.

Sonde maak skuld:

Wanneer jy iemand op een of ander manier te na gekom het, het jy iets van daardie persoon gevat. Dit kan besittings, eer, lewe, gesondheid of baie ander dinge wees.

Ons ingebore aanvoeling vir reg en geregtigheid, maak dat ons op een of ander manier wil probeer vergoed vir die leed wat ons die persoon aangedoen het. Daarom dat Jakob al die geskenke vooruit na Esau gestuur het. Hy het daarmee probeer opmaak vir die leed wat hy Esau aangedoen het.

Dit is ook die rede waarom ons dikwels wraaksugtig is, of wraaksugtig voel oor die leed wat mense ons aangedoen het. Deur die wraak dwing ons die persoon om ons te betaal vir die leed wat hy ons aangedoen het.

Vergiffenis eis nie vergoeding nie:

Esau het vir Jakob uit sy hart vergewe en daarom eis hy geen vergoeding van Jakob nie. Daarom kan ons sê dat vergiffenis die proses is waarin jy die leed wat die persoon jou aangedoen het, in jouself verwerk. Jy betaal vir die leed en daarom sit jy dit agter jou.

Wanneer ons so oor vergiffenis dink, dan besef ons waarom dit so moeilike proses is. Om ‘n persoon te vergewe, neem jy jouself voor om self in te staan vir die leed wat die persoon jou aangedoen het. Jy betaal.

So, hoe kan ons dit reg kry om onvoorwaardelik te vergewe?

Onvoorwaardelike vergiffenis is net moontlik indien ons Jesus se verlossing verstaan.

Deur ons sonde is ons skuldlas ontsettend groot by God. Daar is geen manier hoe ons kan opmaak vir al die sonde wat ons teen God doen nie. Ons verdien die ewige dood. Dis hoe groot ons skuld is.

Daarom kom God, in sy groot genade, en Hy dra die skuld volledig in ons plek. Hy sterf die dood wat ons moet sterf. Hy betaal volkome vir al ons ongeregtigheid. Daarom is daar niks wat ons vir God kan gee wat kan opmaak vir die leed wat ons Hom aandoen nie.

Wat wel gebeur, is dat ons harte gevul word met die grootste dankbaarheid. ‘n Dankbaarheid wat maak dat ons gehoorsaam wil wees aan Hom. Nie om op te maak vir die leed wat ons Hom aangedoen het nie, maar alleen om ons liefde en dankbaarheid aan Hom te bewys.

Dit is hierdie dankbaarheid wat ons krag gee om ander te vergewe. Indien ons soveel in Christus vergewe word, hoe kan ons dan nie dieselfde vir ander wil doen wat teenoor ons sonde gedoen het nie.

Mag ons harte elke dag vol skiet van hierdie trane van dankbaarheid oor die vergiffenis wat ons in Christus ontvang het. Ons sal net bereid wees om ander se skuld teen ons te dra, indien ons sien hoe God ons skuld volkome gedra het aan die kruis.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat sal jy sê is die rede agter die feit dat jy soms sukkel om mense te vergewe?

b) Wat sal jou help om in die toekoms makliker te wil vergewe?

22 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page