top of page

Die nabyheid van die Here is ‘n heerlike gawe

Teks: Genesis 26:23-35

Toe die filistyne sien dat Isak voorspoedig is, het hulle uit afguns al die putte wat Abraham gegrawe het, toegegooi en opgevul. Nadat hy so onvriendelik behandel was, is hy ook later deur Abimelek beveel om weg te trek (Gen. 26:16).

Daarom kom hierdie belofte aan Isak as ‘n bevestiging dat hy hom nie moet steur aan die omstandighede waarin hy hom bevind nie. Die Here se nabyheid in sy lewe is ‘n groter gawe as al die leed wat mense aan hom kan doen.

Die belofte van nabyheid en seën word dan ook bevestig, want hierdie heidense koning kom later na Isak toe en sê vir hom:

“Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou.” (Gen. 26:28)

Die seën van die Here was in Isak se lewe sigbaar. Daardie seën het vrees by Abimelek ingeboesem en daarom het hy besluit om hierdie verbond met Isak te sluit sodat daar vrede tussen die twee volke kan wees.

As gelowiges maak ons dikwels die fout om te dink dat dit net altyd goed moet gaan met ons. Hierdie gedeelte wys ons egter daarop dat die nabyheid van die Here baie beter as voorspoed is.

Die Here se nabyheid veroorsaak dat ons vergenoeg kan wees selfs al gaan dit sleg, want ons weet dat die Here ook in beheer is van die uitkoms. Ons kan Hom vertrou.

Hierdie nabyheid van die Here beteken daarom die volgende vir die gelowige:

In tye van swaarkry kan ons geduldig wees.

Net soos Isak op die Here se uitkoms gewag het, so moet ons ook geduldig wag. Ons moet geduldig wees omdat ons weet dat die Here besig is om saam met ons hierdie pad te loop.

Hy beloof aan ons ‘n heerlike toekoms en Hy sal dit ook aan ons gee. Daarom skryf Jakobus: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” (Jak. 1:2-4)

Beproewings dra daartoe by dat ons sonder enige tekortkoming sal wees. Die rede waarom ons sonder enige tekortkoming sal wees, is as gevolg van Jesus se offer aan die kruis. Hy het tekort gely want Hy is deur sy Vader in ‘n tyd van nood verlaat, sodat ons nooit verlaat hoef te word nie. Deur die Heilige Gees is God in alles by ons en Hy sorg dat ons die volle geestelike rypheid sal bekom, sonder enige tekortkoming.

In tye van voorspoed moet ons dankbaar wees

Wanneer dit goed gaan moet ons ook dankbaar wees omdat ons weet dat alle goeie gawes van die Here kom. Selfs hierdie heidense koning het dit besef en aan God die eer gegee. Hoeveel te meer moet ons dit dan nie as Christene doen nie.

Ons hele lewe moet van hierdie dankbaarheid getuig, want selfs al het ons nie materiële voorspoed nie, ontvang ons wel die geestelike voorspoed in Christus. ‘n Ryke erfenis waaraan ons moet vashou (vgl. Kol. 1:12).

Vir die toekoms kan ons vertrou.

Die toekoms lyk altyd onseker, maar die gelowige kan ook vir die toekoms vertrou dat God sal voorsien. Hy ken ons omstandighede en Hy sal sorg dat ons alles het wat ons nodig mag kry om in ons doel te slaag. Daarin moet ons Hom vertrou!

Jesus wys ons dat Hy betroubaar is. Hy het selfs gesterf sodat ons toekoms seker kan wees.

Ons moet daarom nie moedeloos raak wanneer die lewe skeefloop nie. God is baie groter as al die slegte omstandighede.

Vrae tot introspeksie:

a) Hoe maak jou slegte omstandighede jou blind, sodat jy nie die Here se nabyheid in jou lewe erken nie?

b) Wat leer jy in hierdie gedeelte oor die troos wat ons in die Here se nabyheid vind?

25 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page