top of page

Die pad van geloof eis vertroue

Teks: Genesis 13:1-18

Soos in die vorige perikoop, kom Abram weer voor 'n krisis te staan. Hierdie keer is dit die getwis tussen sy eie mense en Lot se mense. Die land kon nie in albei se behoeftes voorsien nie. Die gevolg was dat die veewagters met mekaar baklei het oor wie se vee waar moet wei.

Anders as die vorige keer (Gen. 12:12), tree Abram nie uit selfsug op nie. Hy probeer ook nie die situasie manipuleer sodat hy die beste daaruit kan kry nie.

Hierdie keer is die situasie soveel anders want hy staan nou nie voor 'n Farao wat hy nie ken en geen verhouding mee het nie. Hy staan voor sy broerskind vir wie hy baie lief was, en saam met wie hy 'n lang pad kom.

Hierdie situasie dwing hom nou in 'n posisie in waar hy God moet vertrou. Daarom gee hy Lot die geleentheid om die keuse te maak.

Vertroue is iets waarmee meeste van ons sukkel. Ons sukkel daarmee omdat ondervinding ons leer dat indien jy nie vir jouself sorg nie, niemand anders dit sal doen nie. Die gevolg is dat ons ook sukkel om God te vertrou. Daardie stemmetjie wat sê:

“Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” (Gen. 3:1)

Daardie stem veroorsaak dat ons veel eerder vir onsself wil uitkyk..…

Uit hierdie gedeelte kan ons veral drie redes kry waarom ons God kan vertrou.

1. God voorsien

In 'n sekere sin moet Abram nou noodgedwonge vertrou. Uit liefde vir Lot, doen hy afstand van sy regte en gee aan Lot die keuse van waar hy wil gaan bly. Omdat Lot kan kies, is hyself tevrede met sy keuse en kan hy ook nie later (hoofstuk 18) vir Abram verantwoordelik hou vir die lot wat hom getref het nie.

Daarin bevestig die Here weer aan die sondige en swak mens dat ons die Here ons God kan vertrou. Hy is in beheer van tye en omstandighede en sal in ons behoeftes voorsien.

2. God is getrou aan sy beloftes

Dit is ook belangrik om te sien dat God in hierdie gebeure getrou is aan sy beloftes. Hy het aan Abram die land Kanaän beloof en daarom kan Lot nie die land ontvang nie. Die Here bewerk dit so dat die Jordaan vol water is en daardeur herinner dit aan Egipte se oorvloed. Dit, sodat Lot in sy swakheid en kortsigtigheid daardie keuse maak. Sodoende word die probleem opgelos en Lot kan nie later aanspraak maak op die beloofde land nie.

Ons sien ook dat God getrou is aan sy beloftes aan ons. In Jesus het Hy ons gered van die verderf. Die Here bewerk dit so dat die Jode Hom verwerp. Hulle kyk in sy mensheid vas en kruisig Hom sodat Hy, die volmaakte Lam, vir ons sonde sterf. God is getrou al is ons ontrou. Hy red ons en niks kan daardie redding van ons wegneem nie.

3. God weet beter

Dit is ook uiters belangrik dat Abram, en elke gelowige, moet weet dat God in beheer is van elke situasie. Van buite lyk die Jordaan streek na die beter opsie, maar van binne is dit vrot. Daar word ook genoem dat Sodom en Gemora binnekort vernietig sal word (vs. 10).

Ons kennis is so beperk en ons begrip eenvoudig en daarom is dit soveel te meer nodig dat die gelowige God moet vertrou.

Ons sien ook iets soortgelyks by die dissipels. Hulle sien hoe Jesus gekruisig word. Menslik gesproke lyk dit nie of hulle die regte keuse gemaak het om Hom te volg nie, maar God is in beheer. Na drie dae wek Hy Hom uit die dood op en nou sit Hy aan die regterhand van God waar Hy as Koning regeer.

In die lig van Christus se soenoffer het ons soveel meer rede as Abraham om God te vertrou. Hy is in beheer van omstandighede en sy beloftes staan vas.

Vrae tot introspeksie:

a) Aan watter situasie kan jy dink waar dit vir jou moeilik was om op God se voorsienigheid te vertrou? Hoekom was dit so moeilik?

b) Wat het jy in hierdie gedeelte geleer wat jou sal help om volgende keer jou oë eerder op die Here te rig?

36 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page