Teks: Genesis 18:16-33
Abraham het 'n besondere band met Lot, sy broerskind, gehad. Ons lees in hoofstuk 12 dat Lot saam met Abram uit Haran getrek het en dat die Here dit so bewerk het dat Lot in Sodom gaan bly het (Gen. 13). In hoofstuk 14 het Abraham gegaan om vir Lot uit die mag van sy vyand te red.
Ten spyte van Abraham se liefde vir Lot, gaan die wese van hierdie gesprek nie oor die voorspraak wat Abraham vir Sodom en Gemora doen nie. Met hierdie gesprek delf Abraham diep in die wese van God. Abraham leer hier wie die regverdige God is.
Abraham leer dat die Here se tydsberekening om 'n regverdige oordeel te vel, regverdig is, al lyk dit nie in ons oë so nie.
Abraham begin by 50 regverdiges maar stel vas dat daar nie eens tien regverdiges in Sodom en Gemora oor is nie. Die Here se oordeel is dus absoluut regverdig. Selfs die twee regverdiges wat wel in Sodom oorgebly het (vgl. 2 Pet. 2:7 & 8), veroordeel God nie saam met al die ander nie. Selfs daardie twee wat oor is, word gered (vgl. Hoofstuk 19).
'n Ware geloof weet daarom nie alleen dat niks te buitengewoon vir God is nie (18:14), maar 'n ware geloof moet ook God vertrou as die regverdige. Hy weet wat die beste is. Hy ken alles en almal.
Hierdie gedeelte gaan dus in ‘n groot mate oor die leer van die uitverkiesing. Die uitverkiesing wat bepaal dat God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit het wie Hy alleen uit genade in Christus as sy kinders sal aanneem (vgl. Ef. 1:4-5).
Wanneer dit kom by die uitverkiesing wil ons vir God voorskryf oor wat regverdigheid sal beteken. Ons dink dat ons van beter weet en dit terwyl ons, net soos Abraham, beperk is in wat ons weet. Ons hoogmoed veroorsaak dat ons perspektief verloor en God blameer vir die sonde van die wêreld.
Hierdie gedeelte wys ons dat dit juis die feit is dat God Hom oor Abraham en sy nageslag ontferm het, wat die verskil gemaak het. Dis nie hulle eie krag nie, maar die hoop wat God aan hulle gegee het wat die verskil maak. Die hoop dat hulle deel is van 'n groter plan.
Netso is ons hele bestaan te danke aan God. Dit is Sy genade wat ons red en nie ons eie regverdigheid nie. Hy sou totaal regverdig wees indien hy die hele mensdom vernietig. Die feit dat Hy sy genade aan Abraham en sy nageslag betoon is maar net genade. Dit is daardie genade wat hoop gee en die hoop beskaam nie.
In Christus kry ons deel aan nog ‘n groter hoop. Ons verlossing en toekoms staan vas in Christus. Hy het ons so lief dat Hy vir ons sonde kom sterf. Daarin sien ons God se regverdigheid. Hy spreek ons nie sommer net vry nie. Hy betaal in ons plek vir ons sonde. Daarom kan Hy barmhartigheid bewys aan wie Hy wil sonder om onregverdig te wees. Dit is sy eie soewereine keuse wie Hy wil kies om deel te hê aan sy koninkryk.
Dit maak die dankbaarheid nog soveel groter in ons harte. Ons verdien niks en tog ontvang ons alles.
Daarom sal ons nie vaskyk in al die slegte dinge wat om ons gebeur nie. Ons weet dat dit alles die gevolg van sonde is, maar ons weet ook dat die genade van God vir ons genoeg is.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat leer jy in hierdie gedeelte rondom die regverdigheid van God?
b) Watter troos kry jy in hierdie gedeelte oor die uitverkiesing?
Kommentarer