top of page

Moenie jou gewete folter nie.

Teks: Genesis 19:1-16

Die feit dat Lot in die poort sit wanneer die engele daar opdaag, leer ons 'n paar goed rondom Lot se status in Sodom.

In daardie tyd het die stadsbeamptes en ander prominente burgers van die gemeenskap by die stadspoort gesit om sake te doen (vgl. Rut 4:1-4).

Daaruit kan ons dus aflei dat Lot 'n grondeienaar was en as prominente burger van die stad geag is.

Verder kan ons in vers 9 aflei dat Job ook al van tevore morele beslissings gemaak het alhoewel die mans nie nou meer sy oordeel wil hoor nie. Dit beteken dus dat hy as regter opgetree het.

Uit hierdie gedeelte leer ons dat die daaglikse blootstelling aan sonde ons later blind maak vir die effek wat sonde op ons lewens het. Petrus beskryf Lot mooi wanneer hy sê:

“Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed.” (2 Pet. 2:8).

M.a.w. al die sonde wat in Sodom plaasgevind het, was 'n foltering vir sy opregte gemoed.

Hierdie hele situasie in Sodom het so erg geword dat hy hier voor ‘n onmenslike besluit gestel word. Om die veiligheid van sy gaste te verseker, stel hy voor dat die mans eerder sy twee dogters, wat maagde is, vir hulle vat.

Lot is ernstige geestelike leed aangedoen en tog het hy nooit tot die besef gekom dat hy daar moet wegkom nie. Inteendeel, selfs toe die engel hom waarsku oor die oordeel wat aan die kom is, het hulle steeds getalm om uit Sodom pad te gee (vgl. Gen. 19:15-16).

Ons bevind onsself dikwels in soortgelyke situasies. Jou werk is dalk werklik nie goed vir jou geestelike welsyn nie, maar omdat dit vir jou 'n goeie inkomste in, aanvaar jy nou maar die leed wat daarmee saamgaan.

Of die vriendekring waarin jy is, het 'n slegte invloed op jou, maar jy bly deel daarvan vir die plesier of status wat daarmee gepaard gaan.

Die gevolg is dan ook dat hierdie situasie jou, soos Lot, dwing om tussen twee euwels te moet kies. So word jou gewete al hoe meer skade aangedoen.

Ons weet ook dat dit nie maklik is om uit so situasie te kom nie, want dit sal beteken dat jy iets moet opgee, iets wat jy werklik van hou of vertrou. Dit kan geld, status, eer of hordes ander goed wees. Dit is eintlik die god wat jy dien en vertrou en indien jy bly vashou aan hierdie dinge, sal jy ook vernietig word.

Om los te kan kom moet ons sien wie God is. Hy het mag om ons uit ons situasie te bevry. Hierdie engele slaan die mans van Sodom met blindheid en skielik weet hulle nie waar die deur is nie.

Op 'n baie heerliker wyse het God ons uit ons nood kom red. Hy red ons deur vir ons sonde te betaal. Daarin wys Hy ons dat Hy betroubaar is en ons voordeel soek. Eintlik is ons net soos Lot en verdien ons om saam met die res vernietig te word. Ons hou vas aan al die aardse geluk en eer. Ons dink dat dit sin aan ons lewe kan gee.

Tog gee die Here vir ons hierdie heerlike geleentheid deur Christus. Ons ontvang die Heilige Gees wat ons oë oopmaak om die heerlikheid van Christus se verlossing raak te sien. Ons kan die toorn van God ontsnap, maar dit beteken ook dat ons Hom moet vertrou in stede van die eer, mag en rykdom wat die wêreld ons bied.

Ons sal Hom alleen kan vertrou indien ons sien wie Hy is. Hoe lief Hy ons het. Hoe ryk ons in Hom is. Hoeveel eer ons in Hom ontvang. Hoeveel vreugde ons deur sy verlossing kan kry. Hoe vry ons in Hom is.

Moenie jou blindstaar in al die materiële goed wat jy kan verloor nie. In Christus kry ons die vrede om te kan doen wat reg is.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n situasie waar jy al moes vlug….of te laat gevlug het.

b) Watter troos en oproep kry jy uit hierdie gedeelte vir daardie spesifieke situasie?

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page