top of page

Vertrou die Vader vir jou toekoms

Teks: Genesis 19:31-38

Hierdie gedeelte wys vir ons hoe die sonde die mens se wese vernietig het. Die dogters van Lot het nie alleen bloedskande gepleeg nie, maar hulle gaan ook teen die natuur in deur met hul eie pa gemeenskap te hê.

Dit alles in 'n poging om 'n nageslag vir hulleself te verseker. Daarmee word die kontras ook beklemtoon tussen die ander volke en Israel.

Israel, die verbondsvolk van God, ontstaan deur 'n bonatuurlike ingryping van God. Abraham en Sara moes wag tot die Here op sy eie tyd en manier aan hulle 'n nageslag voorsien.

Daarteenoor kom Ammon en Moab tot stand weens die onnatuurlike verbintenis. Mense wat in eie krag vir hulle ‘n toekoms probeer verseker.

Net soos hierdie dogters, verloor ons ook maklik perspektief. Ons kyk vas in hierdie gemis. In hulle geval was dit 'n nageslag, maar by ons kan dit ook voorspoed, genot, rykdom, werk, vervulling of mag wees. In die najaag van al hierdie dinge, maak ons ons eie planne, en dit ten koste van ons eie siel.

Ons probeer vir ons ‘n toekoms bewerk wat op wankelbare pilare staan.

Daarom herinner hierdie gedeelte ons weer daaraan dat die mens nie deur homself daartoe in staat is om vir hom ‘n goeie toekoms te verseker nie.

Ons het God nodig. Ons kan alleen ‘n toekoms ontvang, wat ewig bly, indien ons vashou aan die verlossingswerk van Christus.

Jesus kom voorsien in ons diepste begeertes en behoeftes deur vir ons sonde te sterf. Al ons eie pogings loop uit op die ewige dood, maar omdat Jesus bereid was om vir ons sonde te betaal, ontvang ons in Hom die ewige lewe.

Daarom bid Paulus: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het…” (Ef. 1:18)

Ons moet daarom leef met hierdie einde in sig. Ons het nie nodig om desperaat te veg vir ons toekoms nie, want ons toekoms is verseker deur die kosbare bloed van die Lam.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n situasie waar jy al sonde gedoen het, omdat jy bang was dat jy gaan uitmis op iets.

b) Hoe bemoedig die verlossing van Christus jou daarin dat jy nie bang hoef te wees dat jy in enige opsig sal uitmis nie?

53 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page