top of page

Die put van trane, vorm ons tot groot wysheid

Teks: Genesis 41:1-16

Dit is opvallend dat die Hebreeuse woord wat in vers 14 met tronk vertaal word, ook die woord is wat in hoofstuk 37:22 gebruik is om te verwys na die put waarin Josef gegooi is.

Josef se slawerny het begin toe sy broers hom in die put gegooi het en nou, 13 jaar later, word sy slawerny beëindig deur die Farao wat hom uit die put laat haal.

Dit was dertien jaar van swaarkry en vernedering, maar wanneer Josef voor die Farao staan, dan sien ons dat die naïewe, jong en onervare Josef – ‘n wyse en ervare man van God geword het.

Hierdie put waarin hy vir dertien jaar was, en gekenmerk was deur trane van vernedering en moeilike omstandighede, het die Here gebruik as ‘n put waarin Josef se karakter en siel gevorm is.

Hierdie gedeelte openbaar aan ons dat ons toekomsvisie dikwels so anders is as wat die Here vir ons in gedagte het. Ons sien gemak en rykdom, eer en mag as die einddoel terwyl die Here geestelike volwassenheid in gedagte het.

Jakobus stel dit so mooi wanneer hy skryf:

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” (Jak. 1:2-4)

Hierdie eindpunt wat God vir ons ingedagte het is soveel beter as dit wat ons wil hê.

Hierdie selfde gedagte word soveel duideliker in Christus. Menslik gesproke lyk dit na ‘n nederlaag, want die Christus word verneder, verwerp en aan ‘n kruis opgehang.

God is egter in beheer en daarom gebruik hy daardie put van hartseer en dood, om vir ons ‘n heerlike toekoms te verseker. Jesus leef die volmaakte lewe wat ons moes leef en Hy sterf die dood wat ons moes sterf sodat ons lewe kan uitloop op volle geestelike rypheid, sonder enige tekortkoming.

Moet daarom nie vaskyk in al die hartseer en trane wat hierdie lewe oplewer nie, kyk vooruit na hierdie toekoms wat die Here vir ons in Christus bewerk het. ‘n Lewe sonder enige tekortkoming.

In Christus kry ons ook, soos Josef, die wysheid om verder as die hier en nou te kyk.

Jesus was bereid om in die put van doodsgevaar te gaan, sodat ons gered kan word. Sodat ons trane afgedroog kan word. Sodat ons sugting van verdrukking kan verander in ‘n sug van verligting. Ons is gered.

Leef met hierdie verlossing voor oë.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink na oor ‘n situasie van vernedering en swaarkry in jou lewe en hoe dit jou positief gevorm het.

b) Hoe versterk Christus se verlossing jou in moeilike omstandighede?

30 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page