top of page

Die spieël: Help ons om regverdig te wees!

Teks: Jakobus 2:1-4

Inleiding:

hierdie gedeelte gaan oor regverdigheid. Jakobus spreek dus hier ‘n saak aan wat uiters relevante is vir ons tyd.

Ons leef in ‘n tyd waar daar baie gepraat word oor die regte van die minderheidsgroepe. Die regte van vrouens en die regte van die armes en die regte van kinders wat geboelie word.

Maar dit is belangrik om hierdie gedeelte te verstaan in die konteks van dit wat Jakobus in die vorige gedeelte gesê het.

In die vorige gedeelte het Jakobus ons daarop gewys dat hoogmoed die oorsaak daarvan is dat ons nie kan verander. Hoogmoed veroorsaak dat ons in ons ou gewoontes vasgevang bly. Dis hoekom ons ongeduldig en onvriendelik en selfsugtige bly.

Daarom het Jakobus ons in hoofstuk 1:23 daarop gewys dat ons in die spieël moet kyk. Die woord van die Here is ons spieël wat ons help om te verander.

So kom ons verfris net eers gou weer ons geheue deur te kyk wat hierdie spieël ons leer. Daarna kyk ons wat gebeur wanneer hierdie spieël geïgnoreer word en laaste kyk ons na die verskil wat hierdie spieël maak, ten opsigte van ons regverdigheid.

1. Die spieël van regverdigheid

Die doel van die woord as ons spieël is tweeledig.

  • Om onsself beter te sien

Ons moet in die spieël kyk om ons eie hoogmoed te sien vir wat dit is. Ons kan nie verander, indien ons nie eerlik met onsself is nie. Ons moet in die spieël kyk om al die vuil kolle in ons gesig raak te sien, anders sal ons dit aanhou ignoreer.

  • Om Christus beter te sien

Ons kyk egter ook in hierdie spieël om God se genade en liefde raak te sien. Hy het nie neergekyk op ons swakheid en sonde en besluit om ons te vernietig nie. Hy het Homself verneder deur die menslike natuur aan te neem, sodat ons verlos kan word van ons sonde.

Dis hierdie genade en liefde wat ons in God kry wat die hoogmoed in ons vernietig sodat ons lewens vernuwe kan word.

Ons moet daarom voortdurend in hierdie spieël kyk om te onthou wie ons was en wie ons nou in Christus is. Want hoe beter ons beeld word van daardie werklikheid, hoe meer sal ons in aanbidding voor God leef[1]. Ons sal regverdig wees, soos God regverdig is.

2. Wanneer die spieël geïgnoreer word

Wanneer die Here ons in Levitikus leer wat dit beteken om ons naaste lief te hê, dan sê Hy:

“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.” (Lev. 19:15)

Hieruit is dit duidelik dat ware naasteliefde beteken dat ons ons naaste sonder enige diskriminasie moet behandel[2].

Ons gesindheid teenoor ons naaste, mag nie bepaal word deur uiterlike dinge nie. En alhoewel Jakobus hier spesifiek verwys na ons gesindheid teenoor ryk en arm, strek dit baie wyer.

Dit sluit ook ons gesindheid teenoor manlik en vroulik, blank en nie blank, cool en minder cool in[3]… Enige vorm van diskriminasie op grond van uiterlike, is oortreding van die liefdesgebod. Dit maak ons onregverdig.

Alhoewel ons almal dit weet, is dit ‘n wesenlike deel van ons lewens. Ons is almal daartoe geneig om teen mense te diskrimineer op een of ander vlak.

En die wêreld se oplossing vir die probleem is hoofsaaklik tweeledig. Aan die eenkant word reëls gemaak waarin dit duidelik is dat diskriminasie nie verdra sal word nie en aan die ander kant word daar gefokus op die individu se gesindheid[4]. Ons word geleer dat dit ‘n gesindheidsprobleem is wat jy moet verander.

Ons word geleer dat ons eenvoudig net ons gesindheid moet verander. Dis ‘n keuse wat jy moet maak!

Maar uit persoonlike ervaring weet ons dat dit nie so eenvoudig is nie. Dis ‘n probleem wat baie dieper strek as ‘n blote keuse.

Jakobus gee nou ook vir ons die rede vir die probleem. Hy leer ons hier dat ons in die verkeerde spieël kyk. Kyk wat staan in vers 2:

“Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan…” (Jak. 2:2)

Sien jy watter spieël word gebruik? Ons kyk na mense se uiterlike om ons plek in die samelewing te bepaal? Daarom wil ons assosieer met die rykes, en met die mooies, en met hulle wat aansien het.

Dis wat ‘n hoogmoedige hart doen. Hoogmoed maak dat ons graag wil assosieer met die sterkes in die samelewing en dit maak outomaties dat ons ‘n afkeer het van die swakkes.

Ons kyk in die wêreldse spieël waar jou waardigheid as mens bepaal word deur aardse goed en dis hoekom ons diskrimineer.

Ek help veel eerder die ryke, en deftige en mooi persoon – want daardie assosiasie gee aan my, bewustelik of onbewustelik, waarde.

Daarom was dit opvallend dat soveel mense ‘n selfie saam met Will Smith wou neem die afgelope tyd. Hoekom? Want hy het aansien en as ek met hom kan assosieer dan kan ek sê dat ek by hom was.

Indien die aansien van mense, bepaal hoe ons hulle hanteer, dan sal ons respek hê vir sekere mense en teenoor ander sal ons diskrimineer[5]. Dis wat gebeur as ons hierdie spieël ignoreer.

3. Die verskil wat die spieël maak

Wat Jakobus hier doen is wonderlik. Hy begin nie deur die gelowiges daarop te wys dat hulle een of ander wet oortree het en dat hulle hulleself moet reg ruk nie. Jakobus begin deur die gelowiges op die heerlikheid van Christus te wys. Hy sê:

“My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.” (Jak. 2:1)

Jakobus sê hier dat elkeen wat in Jesus glo en sy heerlikheid sien, nie mense volgens hulle uiterlike sal beoordeel nie. Hoor mooi, Jesus se heerlikheid moet gesien word.

Iemand het die mooi metafoor gebruik van die sterre. Wanneer ons na die sterre kyk, mag dit dalk lyk of een sterretjie helderder en groter is as ‘n ander. Maar wanneer die son opkom, is die heerlikheid van die son so groot dat jy nie meer een van daardie sterre kan sien nie[6].

Dis in daardie konteks wat Jakobus nou sê dat ons hierdie heerlikheid van Christus moet raaksien. Wanneer jy Hom eers in al sy glorie en heerlikheid aanskou het, sal jou hart verander om totaal anders na mense, en rykdom en aansien en eer te kyk[7].

Ons moet in die Woord as spieël kyk. Dis waar ons Jesus Christus se skoonheid en heerlikheid sien. Hy is soos die son wat die heerlikheid van God uitstraal.

Maar, die beste van als is dat Jesus nie net die heerlikheid van God uitstraal nie, Hy bring ook daardie heerlikheid na ons toe[8].

Ons sien hierdie heerlikheid oor ons kom, wanneer Jesus mens word. En onder ons kom woon.

Ons sien sy getrouheid so duidelik wanneer selfs die Fariseërs sê:

“Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.” (Matt. 22:16)

Dis die getuienis wat die Fariseërs van Hom gee. Hy was in alles en teenoor almal regverdig.

Maar ons sien hierdie heerlikheid ook in sy keuse om in die nederige stad Nasaret groot te word en Hy het Hom ontferm oor die klein plekkies soos Galilea en oor die sosiaal verstote plek soos Samaria. En Hy het tuis gegaan by sondaars en tollenaars[9].

Hierdie Jesus is van al sy heerlikheid aan die kruis ontneem toe Hy deur God verlaat is en tot in die doderyk neergedaal het. Dit sodat ons weer waardig kan wees. Sodat ons die heerlikheid kan ontvang om in God se teenwoordigheid te kom.

Dis wanneer ons in hierdie spieël kyk dat ons nie meer onderskeid sal maak tussen mense nie, want die heerlikheid van Christus staan bo alles en almal uit. Hy alleen moet geëer word. Dis nie ‘n besluit wat jy neem of ‘n wet wat jy onderhou nie. Dis iets wat jy moet sien!

In die teenwoordigheid van hierdie heerlikheid van Christus, sal jy nie anders kan as om nie onderskeid te maak nie. Jou lewe gaan oor Hom en nie mense nie.

Slot:

Jakobus leer ons dus hier dat, as die lig van Christus se heerlikheid en sy glorie nie in ons harte skyn nie, dan soek ons die heerlikheid op verkeerde plekke.

Indien ons die persoon is met die goue ring en deftige klere aan, dan sal ons nooit onder die indruk gebring kan word van die grootheid en liefde van Christus nie[10]. Al waaroor dit vir ons sal gaan is daardie geld, en eer en mag wat ek moet kry. Dit sal maak dat ons diskrimineer omdat dit oor MY eer gaan.

En indien ons die persoon is wat vas kyk in die aardse heerlikheid rondom ons, dan sal ons ook diskrimineer teen almal wat vir ons ‘n bedreiging inhou. Ons sal nie met die swakkes en die armes en die verworpenes wil meng nie, want dit is sleg vir my ego.

Indien ons dus op enige vlak diskrimineer, dan wys dit dat ons nog nie diep genoeg in hierdie spieël gekyk het nie.

Kyk en kyk diep in die woord, want die heerlikheid van Christus se liefde en genade moet so duidelik wees dat niks anders in die lewe op dieselfde lyn geplaas kan word nie.

[1] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [2] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [3] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 2:1). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [4] https://i-sight.com/resources/discrimination-in-sports-5-types-25-solutions/ [5] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [6] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 2:1). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [7] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [8] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [9] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1928). Nashville, TN: Word Pub. [10] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page