top of page

Die Struikelblokke van gebed!

Updated: Apr 28


Struikelblokke van gebed

Teks:  Matteus 6:5-8

Inleiding:

In Matteus 6:5-8 word ons bekend gestel aan veral twee gevare waarvoor ons te staan kom wanneer dit kom by gebed.

Dit gebeur so maklik dat die fokus in ons gebed ons eie eer word of dat gebed ‘n instrument word waarmee onsself wil bewys. En wat Jesus hier doen is, Hy noem dit die skynheilige en die heidense manier van bid.

"Dit is maklik om gebed te misbruik om ons eie eer te soek of om onsself te bewys."

Kom ons kyk eers na hierdie twee maniere en daarna na die oplossing.

1.    Die skynheilige soek sy eie eer

Nou, ons teksgedeelte is deel van die bergrede of bergpredikasie en met hierdie preek is Jesus besig om met sy dissipels te praat. Jesus leer hulle hoe ‘n ware volgeling van Hom moet lyk en daarom gebruik Hy in die eerste vergelyking die skrifgeleerdes en fariseërs as ‘n tipiese voorbeeld van hoe ‘n dissipel nie moet wees nie (Matt. 5:20), want Jesus verwys na hulle as skynheiliges.

Die Griekse woord, ὑποκριτὴς, of die Engels ‘hypocrite’ is oorspronklik gebruik om te verwys na ‘n akteur, want ‘n akteur is iemand wat iets voorgee wat hy nie werklik in sy wese is nie. In die antieke tyd het die akteur ook ‘n masker gedra om dit wat hy werklik is te verberg.

‘n Akteur kan byvoorbeeld die mees geliefde persoon wees, maar indien hy in ‘n rolprent die rol van ‘n Mafia baas speel, dan sal hy sekere woorde en gebare gebruik om sy rol te vervul as Mafia baas[1]. Hy hou dus iemand voor wat hy nie in sy wese is nie.

Dis die betekenis van daardie Griekse woord en dis belangrik om te verstaan, want Jesus wil nie hiermee sê dat ons nie in openbare plekke mag bid nie, dit gaan daaroor dat gebed maklik misbruik kan word vir die uitsluitlike doel om ‘n reaksie by mense te lok.

Hierdie fariseërs het op die straathoeke gestaan en bid met die uitsluitlike doel om vir hulle ‘n gehoor te trek. In stede daarvan dat hulle gedagtes op God gerig moes wees, was hulle behep met die mense wat rondom hulle staan. Hulle het uitsluitlik gedink aan hul eie reputasie[2].

Hulle sou nooit gebid het as daar nie mense rondom hulle was nie. Mense, wat hulle met hul gebede kan beïndruk. Hulle was behep met wat mense van hulle dink.

Nou, indien ons ons eie harte ken, dan sal ons weet hoe groot die versoeking is om met enige werk waar ons in die publieke oog is, daardie werk te wil doen vir die eer van mense. Daar waar jy ‘n Bybelstudie lei is jy dalk so tevrede met die goeie antwoorde wat jy gee. Of dalk is jy ‘n ouderling of diaken net vir die eer! En hoe weet ons of dit die geval is? Hoe toets ons onsself?

"Wanneer ons ons eie harte ken, besef ons hoe sterk die versoeking is om werk in die openbare oog vir menslike eer te verrig."

Een manier is om te kyk of jy ‘n persoonlike verhouding met die Here het. Maak jy tyd om ook in jou binnekamer te bid, of bestaan jou gebedslewe hoofsaaklik daaruit om as ouderling of diaken vir ander voor te gaan in gebed.

Of dalk bid jy voor ‘n groep mense of jy lees Bybel of jy sing, maar jou gedagtes dwaal na wat mense nou van jou dink. Ons gedagtes raak so maklik behep met wat mense nou van my dink in plaas daarvan om my gedagtes vol te maak met die grootsheid en heerlikheid van God. 

En wat sê Jesus daarvan in vers vyf? Hy sê dat ons in daardie oomblik die seën van die Here verruil vir die eer van mense.

So, toets jouself. Hoeveel tyd spandeer ons agter geslote deure saam met die Here. Indien ons meer bid wanneer ons tussen ander mense is as daar waar ons alleen saam met die Here is, dan is dit ‘n slegte teken. Dit wys dat ons maskers dra.

"Toets jouself: As jy meer bid in die teenwoordigheid van ander as wanneer jy alleen is, is dit 'n duidelike teken dat jy 'n masker dra."

Nee, die doel van gebed moenie wees dat my naam geëer word nie, maar dat die Here se naam verheerlik word. En dis nie my koninkryk en my wil nie, maar die Here se koninkryk moet kom en sy wil moet geskied.

Die feit dat ons ‘n privaat gebedslewe het, is die bewys daarvan dat ons hierdie konsep verstaan. Dit wys dat ons ‘n opregte soek na ‘n verhouding met die Here het.

So, dis die skynheilige manier van doen, maar daar is ook ‘n heidense manier van doen.

2.    Die heiden wil homself bewys!

Die tweede vergelyking wat gemaak word is met die heidene. Hulle gebruik weer ‘n stortvloed van woorde.

Die Griekse woord wat daar gebruik word plaas die klem op die betekenisloosheid van daardie gebede[3]. Gebed word met ander woorde bloot ‘n tegniek om die gode te oorreed om vir jou te gee wat jy wil hê.

Daarom het die heidene geredeneer dat lang gebede deur die gode waardeer word[4]. Hoe langer jou gebede hoe groter is jou toewyding en hoe beter is die kans dat jou gebede verhoor sal word.

Net so dink ons ook dikwels dat ons die Here kan beïndruk met al die statistieke rondom gebed. Die hoeveelheid ure wat ons bid en die hoeveelheid mense wat saam kom om te bid en ons kyk hoe lank hierdie kentinggebede kan duur.

Ons trap so maklik in hierdie selfde strik as die heidene. Ons probeer die Here forseer om ons gebede te verhoor deur net lank genoeg of hard genoeg of aanhoudend genoeg te bid[5]. Dis hoe maklik ons die hele doel van gebed verloor.

Die probleem met al daardie statistiek is dat ons harte en gedagtes dan besig is met al die syfers in plaas daarvan dat ons gedagtes en hart op die Here gerig is. Dis verstandelose gebede, want jou gedagtes is besig met al die somme.

Die ware doel van gebed is om met jou hele verstand in verwondering te staan voor God. Jou verstand is dan besig met die grootsheid en heerlikheid en liefde van God.

"Die essensie van gebed is om met volle verwondering voor God te staan, met jou verstand gefokus op Sy grootsheid, heerlikheid en liefde."

Die doel van gebed mag nooit wees om God te probeer forseer nie. Die doel van gebed moet alleen wees om by Hom te wees vir wie Hy is. Gebed gaan nie in die eerste plek daaroor om goed te kry nie, maar bo alles gaan gebed daaroor om in ‘n innige verhouding met Christus te staan. Ware gebed is nie een of ander tegniek of voorgee nie, maar ‘n verhouding[6].

So hier kan ons onsself ook toets. Is ons gebede bloot die herhaling van woorde, ‘n rympie wat ons opsê sonder dat ons verstand daarin is. Amper soos ‘n rekenaar wat vir jou iets voorlees! – Of getuig ons gebed daarvan dat ons besig is om met ons geliefde te praat[7].

"Ons kan onsself toets deur te vra of ons gebede werklik 'n gesprek met ons geliefde weerspieël, eerder as wat dit net die herhaling van woorde is, soos 'n rympie."

Of vra jouself ‘n slag eerlik af hoekom jy bid. Dit gebeur so maklik dat gebed vir ons ‘n straf word. Dis werk en opoffering om alles te los net om te bid.

Of ander kere bid ons weer net wanneer ons iets nodig het en dan kan ons sommer ure in gebed spandeer.

Indien ons ‘n innige verhouding met Christus het, sal gebed die geleentheid wees waarna ons uitsien. Dis die geleentheid om in die teenwoordigheid van jou geliefde te wees. Dis tyd wat jy koester! Dis tyd wat jy met niks of niemand wil ruil nie.

3.    Die oplossing: Ken die Vader!

Ons begrip van wie God is, bepaal in ‘n groot mate hoe ons bid.

En hoor hoe persoonlik is ons Vader by ons betrokke. Jesus sê in vers 8:

“Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.” (Matt. 6:8)

Ons dien ‘n God wat persoonlik by ons betrokke is, en in die mate wat ons daardie liefde en innigheid en genade van die Here ervaar, sal ons gebede ook dieper en meer innig word.

"Ons dien 'n God wat op 'n persoonlike manier by ons betrokke is, en hoe meer ons die liefde, innigheid en genade van die Here ervaar, hoe dieper en inniger word ons gebede!"

Maar nou hoor ek sommer iemand vra, maar as die Here my so persoonlik ken, hoekom is dit nodig om te bid. Hy weet mos reeds wat ek nodig het.

Indien ons daardie vraag vra, verstaan ons nog nie die doel van gebed nie, want die doel van gebed is nie om God in te lig oor al die goed wat vir Hom onbekend is of om Hom te oortuig van goed wat ons nodig het nie, so asof Hy huiwerig is om vir ons goed te gee nie.

Gelowiges bid met die doel om in verwondering te staan voor God. Ons bid om in my verhouding met Hom versterk te word en om na te dink oor wat sy wil vir my lewe is en om na te dink oor sy beloftes wat Hy aan ons maak in sy woord. Ons bid met die doel om ons Vader te eer en sy lof te besing.

En die gevolg van so gebed is dat ons van al ons bekommernisse verlos word, want ons rus in die wete dat Hy Koning van die heelal is.

Deur so gebed erken ons dat ons kan verwag dat Hy alles wat vir ons en vir ander goed is, sal gee[8], want Jesus was bereid om as vervloekte aan ‘n kruis te hang, sodat ons gered kan word. Dis hoe groot sy besorgdheid oor ons is. Dis hoe veel Hy bereid is om op te offer, bloot om in ons behoeftes te voorsien.

So, wanneer ons dan ons behoeftes in gebed aan die Here bekend maak, dan kry ons ‘n groot rustigheid in ons gemoed, omdat ons weet dat die Here in sy groot wysheid vir ons alles sal gee wat ons nodig het.

Ja, ons kan vra en die Here wil hê dat ons moet vra, maar vra is nie die einddoel van gebed nie. Aanbidding is!

Wanneer ons verstaan dat God ‘n persoon is, wat ons liefhet en ‘n verhouding met ons begeer, dan sal ons gebede drasties verander.

Slot:

Moenie gebed sien as ‘n geleentheid om jou lysie van goed wat jy wil hê aan die Here voor te lê nie en moenie gebed sien as ‘n manier om die Here te oortuig om in al jou behoeftes te voorsien nie.

Gebed is in die heel eerste plek ons poort na ‘n verhouding met God. Deur gebed kom ons voor die voete van ons Vader.

‘n Vader wat ons liefhet en ‘n Vader wat ons persoonlik ken.

En daarom kan ons al ons bekommernisse en behoeftes in die boesem van ons Vader lê en met die grootste vrede wegstap, want ons weet dat Hy vir ons alles sal gee wat ons nodig het.

Bronne:

[1] Morris, L. (1992). The Gospel according to Matthew (p. 140). W.B. Eerdmans; Inter-Varsity Press.

[2] Stott, J. (1976). Prayer — Thoughtful Not Mechanical. In John Stott Sermon Archive (Mt 6:5–13). Faithlife Corporation.

[3] France, R. T. (1994). Matthew. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition(4th ed., p. 913). Inter-Varsity Press.

[4] Morris, L. (1992). The Gospel according to Matthew (pp. 141–142). W.B. Eerdmans; Inter-Varsity Press.

[5] Carson, D. A. (2016). Religion’s Hypocrisy: Descent and Overthrow. In D. A. Carson Sermon Library (Mt 6:1–18). Faithlife.

[6] France, R. T. (1994). Matthew. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition(4th ed., p. 913). Inter-Varsity Press.

[8] Calvin, J., & Pringle, W. (2010). Commentary on a Harmony of the Evangelists Matthew, Mark, and Luke (Vol. 1, p. 314). Logos Bible Software.

Comments


©2020 by Paul Jacobus de Bruyn. Proudly created with Wix.com

bottom of page