top of page

Bely jou sonde in opregtheid voor die Here

Teks: Genesis 44:1-34

Hier is dit belangrik om die volle prentjie te sien.

In die vorige hoofstuk het Josef vir Benjamin voorgetrek deur aan hom vyf keer meer te ete aan te bied as vir sy broers.

Wanneer hulle nou deursoek word vir die spesiale beker, dan word die beker in Benjamin se sak gevind. Die broers het dus oorgenoeg rede om vir Benjamin kwaad te wees en hom te verwerp.

Die teenoorgestelde het egter gebeur. Juda se jare lange skuldgevoel oor die feit dat hy voorgestel het dat Josef as slaaf verkoop moet word en die feit dat hy elke dag gekonfronteer was met die verdriet wat sy dade aan sy pa veroorsaak het, het gemaak dat hy voor Josef op sy knieë neerval en sê: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.” (Gen. 44:16)

Juda blameer nie vir Benjamin nie. Hy probeer homself ook nie verontskuldig nie. Hy aanvaar skuld en is selfs later bereid om (vs. 33) as slaaf in te staan sodat sy broers kan terug gaan na hulle pa.

Hierin sien ons die hartsverandering wat Juda ondergaan het. Hy het die toets geslaag!

Dit is so anders as waarmee ons in die wêreld te doen kry. Ons natuurlike reaksie is om ons skuld ten alle koste te ontken. In die wêreld se oë is die een wat sy sonde erken die swakkeling. Die onwaardige. Die verwerpte.

Daarom is daar ook diep in elkeen van ons die natuurlike instink om ons sonde te ontken. Ons wil nie vir mense wys wie ons werklik is nie. Ons wil nie ons swakheid bekend maak nie, want dit sal aanleiding gee tot verwerping.

In hierdie gedeelte sien ons egter dat die gelowige anders as die wêreld kan optree oor twee redes.

1. God weet alles.

Die gelowige weet dat niks vir die Here weggesteek kan word nie. Hy ken ons diepste ellende. Hy weet dat ons nie waardig is nie.

Ons kan dalk daarmee wegkom om met leuens vir mense om die bos te lei, maar die Here ken alles. Hy weet selfs wat in ons gedagtes aan die gang is en daarom kan en moet ons ons sonde voor Hom bely.

2. By Hom is ware vergiffenis.

Die tweede rede waarom ons eerder die waarheid sal kan praat is omdat ons weet dat die Here ons nie sal verwerp oor ons sonde nie. Inteendeel, Johannes skryf:

“Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh. 1:9-10)

Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar om ons te red. Daarom het ons nie meer nodig om in die vrees te leef dat ons verwerp sal word nie. Die feit dat Jesus vir ons sonde kom betaal het, verdryf al daardie vrees. Sy liefde vir ons is groot genoeg om al ons sonde te bedek.

Daarom kan ons Hom vertrou en ons sonde eerlik en opreg bely. Mense mag ons dalk verwerp, maar Hy sal ons dan juis in sy liefde omvou. Daarom die mooi woorde van Dawid:

“U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.” (Ps. 51:19)

Vrae tot introspeksie:

a) Wat het jou in hierdie gedeelte opgeval?

b) In watter opsig sukkel jy nog om eerlik oor jou sonde en tekortkominge te wees?

21 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page