top of page

Die stryd tussen die waarheid en die leuen

Teks: Johannes 18:28-40

Teksvers: Joh. 18:37

In vers 28 beklemtoon Johannes die feit dat die Jode nie bereid was om in die woning van Pilatus te gaan nie omdat hulle bang was dat hulle onrein sou word. Dit sou dan beteken dat hulle nie die paasmaaltyd kon eet nie.

Hierdie was een van die oorgelewerde gebruike van die Jode. Hierdie gebruik het bepaal dat wanneer 'n Jood in die woning van 'n heiden ingegaan het, hy "onrein" sou wees en daarom nie die Paasfees kon gebruik of in die tempel kon gaan vir aanbidding nie.

Jesus het die Jode telkens hierteen gewaarsku. Hulle verontagsaam die gebod van God ter wille van hul oorgelewerde gebruike (Vgl. Matt. 15:3, 6; Mark. 7:8-9, 13).

In hierdie gedeelte staan hierdie ironie ook voorop. Die Jode is hier besig om 'n onskuldige man dood te maak. Hulle kan nie eens 'n behoorlike klag teen Hom stel nie (vgl. vs. 30). Aan die een kant is hulle bereid om hulself skuldig te maak aan moord, maar aan die ander kant is hulle bang om in die woning van Pilatus te gaan omdat hulle nie onrein wil word nie.

So beklemtoon hierdie gedeelte hoe vêr die sondige aard van die mens hom verwyder van die waarheid.

As gelowiges ervaar ons ook dikwels hierdie stryd tussen waarheid en leuen in ons binneste. 'n Voorbeeld hiervan is wanneer ons die spoedgrens oortree. Jy weet dat dit verkeerd is (waarheid), maar jy oortuig jouself dat dit in hierdie geval reg is omdat jy dringend by die vergadering moet kom (leuen).

Net so weet ons ook dat dit nie reg is om omkoopgeld aan te bied nie (waarheid), maar omdat ons die goedkeuring dringend nodig het, betaal ons maar so ietsie ekstra. Almal doen dit in elk geval of dis al hoe mens dit deesdae regkry (leuen).

Jesus leer ons in vers 37 dat elkeen wat aan die waarheid behoort, na Jesus sal luister. Hulle harte sal oop wees vir hierdie waarheid omdat hulle die koningskap van Jesus Christus in hulle lewe erken.

Elke keer waar ons dus nog na die leuen luister, beteken dit dat Jesus nog nie in daardie opsig as koning in ons lewe heerskappy voer nie.

Die rede waarom ons Hom as koning in elke aspek van ons lewe sal erken, is omdat Hy die waarheid aan ons openbaar. Die waarheid oor sy betroubaarheid en dat Hy ons belange op die hart dra.

Betroubaar.

Kyk hoe betroubaar is Hy. Hy gee nooit moed op met ons nie. Aangesien ons deur die sonde nie waardig is om in sy koninkryk te kom nie, het Hy vir ons kom sterf. Hy reinig ons van al ons ongeregtighede deur sy bloed. Hy is getrou tot die dood. Nêrens op aarde is daar 'n koning wat so betroubaar is soos Hy nie. Ons kan Hom vertrou eerder as om omkoopgeld te betaal.

Belange.

Verder dra Hy ook ons belange op die hart. Hy stel in teendeel ons belange bo sy eie. Hy word 'n mens. Hy is van al sy aansien ontneem en word in 'n stal gebore. Hy word deur sy eie mense verwerp. Hy word aan 'n kruis opgehang. Dit sodat ons nie daardie verleentheid en vernedering en verwerping hoef deur te gaan nie.

So openbaar Hy aan ons die waarheid. Ons is nie waardig nie, maar deur sy soenverdienste maak Hy ons waardig. Ons het dus nie nodig om in mense se oë aansien te verkry nie, want ons is reeds kinders van God. Ons moet ons lewe toewy aan Christus soos Hy sy lewe toewy aan ons. Ons redding is alleen in Hom.

Hoe meer ons sy liefde verstaan, hoe meer sal ons in hierdie waarheid leef.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n voorbeeld waar jy onlangs geworstel het met die verskil tussen die waarheid en die leuen.

b) Wat verhinder jou dikwels dat jy die weg van die leuen, eerder as die waarheid volg?

35 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page