top of page

Het jy Jesus werklik lief?

Teks: Johannes 18:12-18 & 25-27

Teksvers: Joh. 18:27

Petrus se lojaliteit aan Jesus is duidelik in die feit dat hy agter Jesus aangegaan het tot by die hoëpriester se woning.

Die dissipel wat saam met Petrus gegaan het, is heel moontlik Johannes wat dan ook hierdie evangelie geskryf het. Hy noem nooit sy eie naam nie. In hoofstuk 13:23 verwys hy ook na homself as die dissipel vir wie Jesus baie lief was.

Uit die res van die evangelie is dit duidelik dat Johannes baie kontakte onder die hoogaanstaande Fariseërs gehad het. Anders as die ander evangelies, vertel Johannes ons ook van die gesprek tussen Jesus en Nikodemus. Nikodemus wat 'n lid van die Joodse Raad was.

Verder word in vers 15 gesê dat Johannes aan die hoëpriester bekend was. Die woord verwys na baie meer as bloot kennis. Dit kan ook verwys na vriendskap (vgl. Luk. 2:44). Aangesien Johannes 'n bekende persoon vir hulle was, kon hy die deurwagter oorreed om Petrus in te laat.

Dit was juis by daardie deur waar Petrus die eerste keer gekonfronteer word met die vraag of hy nie ook 'n dissipel van Jesus is nie.

Dit is maklik om veroordelend teenoor Petrus te staan, maar die feit is, ons as gelowiges kan baie meer met hom assosieer as wat ons graag sou wou. Deur ons gedagtes, woorde en optrede misken ons ook dikwels vir Jesus.

Ons ontken Hom wanneer ons 'n leuen vertel, dalk meer gehoorsaam is aan mense as aan Hom of wanneer ons bang is om op te staan vir wat reg is.

Dis 'n verloëning omdat ons optrede, gedagtes en woorde wys dat ons iets of iemand anders meer liefhet as vir Jesus.

Jy jok dalk omdat jy nie wil hê dat iemand sleg van jou moet dink nie. Jy het dus jou aansien meer lief as vir Jesus. Jy doen wat mense van jou verwag omdat jy daardie verhouding meer liefhet as jou verhouding met Christus.

Indien ons die begeerte het om nie vir Jesus in ons lewe te verloën nie, moet ons Jesus meer liefhê as enigiets of iemand in ons lewe. Al hoe ons dit kan regkry is as ons Hom beter leer ken. Ons moet sien dat sy liefde vir ons meer beteken as enige ander persoon of aansien of mag wat ons kan besit.

Al hierdie aardse goed stel 'n vreeslike hoë eis aan ons. Jy kan alleen aansien behou as jy aanhou om mense tevrede te stel en te beïndruk. Dit word later 'n sieldodende stryd om mense te oortuig van jou waardigheid. Jy moet ook alles in die stryd werp om daardie aansien en eer te behou. Later ly al jou verhoudings daaronder.

Die rede waarom ons in hierdie tipe versoeking val is omdat dit aan ons ‘n valse liefde voorhou. Ons sal aanvaar word en geliefd wees en eer ontvang as ons hierdie prestasies bereik. Die hartseer werklikheid is egter dat dit valse liefde is en dit dreineer jou.

So is dit met enige aardse verhouding of voorwerp wat jy meer liefhet as vir Jesus.

Daarteenoor is Jesus se liefde vir ons, ewig. Dit is nie afhanklik van ons prestasies nie. Ten spyte van ons sonde en swakheid, bly Hy lief vir ons. Inteendeel, Hy gaan nog verder deur ons nuut te maak. Hy skenk sy Gees aan ons om in ons te werk.

Groter liefde as dit bestaan daar nie op aarde nie. Daarom sê Jesus ook:

“My juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:30)

Daarom moet ons fokus op daardie liefde wat ons in Hom vind. Ons moet ons gedagtes volmaak met sy heerlikheid en liefde vir ons.

Hoe meer ons besef hoe hoog en diep en wyd die liefde van Christus vir ons is, hoe minder sal ons Hom wil en kan verloën.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n voorbeeld in jou lewe waar jy Jesus verloën het en wat die rede was dat jy dit so belangrik geag het om dit te doen.

b) Hoe sal die liefde wat Christus vir jou het, jou in staat stel om teen soortgelyke sonde te stry?

26 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page