top of page

Moenie vrees nie...

Teks: Johannes 18:1-11

Teksvers: Joh. 18:8

Dit is opvallend dat Jesus drie keer vra vir wie hulle soek. Na die eerste keer wat Hy sê "Dit is Ek!", was die soldate met stomheid geslaan. Daar word alleen genoem dat Judas ook tussen die soldate was.

Na die tweede keer wat Jesus antwoord "Dit is Ek!", word genoem dat die soldate teruggedeins en uit vrees op die grond neergeval het.

Met die derde keer wat Jesus antwoord “Dit is Ek!”, beveel Hy hulle ook om sy dissipels te laat gaan.

Jesus se motief met hierdie gesprek word dan duidelik in vers 9 wanneer daar staan: “So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van die wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”” (Vgl. 6:39; 10:28; 17:12). In die genoemde gedeeltes het dit gegaan oor die dissipels se behoud vir die ewige lewe.

Ons word daarop gewys dat Jesus geweet het dat dit op daardie stadium van die dissipels se geloofslewe, te veel sou wees indien hulle saam met Hom gevang en dalk selfs doodgemaak sou word.

Dit is die rede waarom Jesus drie keer vra na wie hulle soek en met soveel gesag optree dat die soldate sidder van angs. Jesus het seker gemaak dat sy dissipels nie bo hulle krag beproef word nie.

Beproewings en versoekings is onvermydelik. Ons weet hoe sleg dit vir ons is om te sien hoe iemand ly of wanneer 'n geliefde sterf. Dis beproewings wat 'n mens se lewe tot stilstand ruk.

Hierdie beproewings is ook dikwels moeilik om te aanvaar en dit is baie om te verwerk. Die gevolg is dat ons soos Petrus reageer. Ons kap met die swaard. Ons probeer in eie krag uit die situasie kom en so vererger ons dalk net die probleem of situasie.

Hierdie gedeelte wys ons wat agter die skerms gebeur. Net soos Petrus is ons dalk nog blind daarvoor, maar hierdie gedeelte leer ons twee belangrike sake.

1. Ons word nie bo ons vermoë versoek nie.

Jesus ken sy dissipels se harte baie goed. Hy ken hulle vermoëns. Hy weet waartoe hulle in staat is en omdat Hy lief is vir hulle beskerm Hy hulle sodat nie een verlore sal gaan nie. Paulus beskryf dit mooi wanneer Hy sê:

"Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan." (1Kor. 10:13)

Ons is almal swak en uiters kwesbaar maar ons het 'n middelaar wat sorg dat ons behoue bly.

2. Jesus is in beheer

Nog voor die dissipels die werklike omvang van die situasie besef het, was Jesus reeds besig om die situasie te ontlont. Hy was reeds besig om na hulle om te sien.

Dit word veral duidelik wanneer Jesus vir Petrus, na hy die slaaf se oor afgekap het, vra: "Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?" (Joh. 18:11)

Daarmee verklaar Jesus sy totale bereidwilligheid om Homself te onderwerp aan hierdie lyding. Lyding wat ons veronderstel was om deur te gaan. Hy het daardie Godsverlatenheid namens ons deurgegaan sodat ons nooit deur God verlaat hoef te word nie.

Elke beproewing kan ons nou daaraan herinner dat ons nie alleen is nie. Jesus is in beheer. Selfs nie 'n haar sal van ons kop val as dit nie sy wil is nie (vgl. Luk. 21:18).

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n situasie die afgelope tyd waar vrees jou oorval het.

b) Hoe sal hierdie woorde van Jesus jou in die toekoms in ‘n soortgelyke situasie kan bemoedig?

29 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page