top of page

Die wapenrusting van God gee hoop - Die waarheid

Updated: May 25, 2020

Teks: Efesiërs 6: 10-20

Teksvers: Ef. 6: 14


Inleiding:

Paulus gebruik in hierdie gedeelte ‘n kragtige beeld. ‘n Beeld waarmee ons maklik kan assosieer. Die beeld wat hy gebruik is die van ‘n oorlog. Daar word daagliks vuurpyle op ons afgeskiet deur ons vyand en indien ons nie erns met die saak maak nie, gaan een van hierdie pyle ons een of ander tyd tref en dit kan lei tot die ewige dood.

Die hoop wat in hierdie gedeelte aan ons gegee word, is dat daar ‘n wapenrusting is wat ons kan aantrek en wat ons van hierdie aanslae kan beskerm.

Die heel eerste en belangrikste deel van die wapenrusting waarmee ons onsself moet bewapen is die:

Waarheid as gordel om die heupe

Vir die Romeinse soldate van destyds was die gordel, wat hy om sy heupe gedra het, een van die belangrikste dele van sy wapenrusting. Die gordel het ‘n twee ledige doel gehad.

Die belangrikste van alles is dat die hele wapenrusting van die soldaat op een of ander manier aan daardie gordel vas was. Sonder die gordel sou die soldaat al die wapens met sy arms moes dra. Die gevolg sou wees dat sy arms moeg is voor hy met die geveg begin.

Die gordel het met ander woorde die gewig van die wapens gedra sodat die arms van die soldaat kon rus vir die geveg. Op die manier kon die soldaat met meer ywer en krag veg.

Net so rus ons geestelike wapenrusting ook op die waarheid en Jesus is die waarheid. Die waarheid inspireer die gelowige om met meer ywer en krag te veg.

Verder is die gordel ook gebruik om die lang mantel wat die soldate van destyds aangehad het, op te bind sodat hulle voete vrylik kan beweeg sonder om oor die mantel te struikel.

Net so gebeur dit ook in ons geloofslewe dat ons eie wapens vir ons tot struikeling kan bring. Dit laat ons struikel omdat dit nie in die Waarheid gegrond is nie. Dis nie aan hierdie gordel vasgemaak nie.

Ons glo die leuen dat ons goeie dade ons kan red. Daarom fokus ons op al die goeie dinge wat ek moet doen. Ons fokus op die feit dat ons kerk toe gaan en Bybel lees en mense help. Die gevolg is dat ons vergeet om by Christus se voete te sit. Dit gaan dan nie meer daaroor om Hom te aanbid nie.

Ons is soms besig met al hierdie mooi kerk goed, maar dit is dalk net om te wys watter goeie mens ek is of om te wys dat ons dit verdien dat die Here ons moet seën met al sy seëninge. Ons word vasgevang in hierdie leuens.

Die gevolg is dat wanneer daardie pyle op ons afkom, dan is ons vinnig om te sê, “Ons is dan die Here se kinders, hoekom sorg Hy nie beter vir sy kinders nie?” Of, “Hoe kan Hy so iets met sy kinders laat gebeur.”

Ons sien ook die realiteit van hierdie leuens in die manier hoe ons kritiek hanteer. Indien kritiek ons mismoedig maak is dit 'n bewys daarvan dat ons meer op ons eie goeie werke vertrou as op die verlossing van Christus.

Net so kan dit ook gebeur dat ons ons eie sondigheid besef en dan die leuen glo wat sê dat ons nie werd is nie. Ons verdien die pyn en slegte omstandighede wat oor ons pad kom. Die gevolg van hierdie leuen is dan ook dat ons mismoedig raak.

Net soos daardie lang mantel ‘n soldaat kan laat struikel as hy hom nie opbind met die gordel van waarheid nie, so gebeur dit dat hierdie leuens ons ook kan laat struikel. Ons hou nie aan die Waarheid aan Christus vas nie.

‘n Mooi voorbeeld hiervan is Paulus. Hy was in boeie toe hy hierdie brief geskryf het. Hy was ‘n gevangene ter wille van Christus en tog het hy aan hierdie waarheid vasgehou. Die waarheid is dat hy en ons in Christus oorwinnaars is selfs al is ons in hierdie lewe gevangenes.

Hierdie waarheid het vir Paulus vrede gegee ten spyte van sy omstandighede. Dis die verskil wat die waarheid maak. Dit help ons om met ywer en krag te veg.

Ons dink soms dat ons vrede gaan hê as ons daai groot salaristjek aan die einde van die maand kan kry of as ons net daai een groot vakansies kan gaan hou. En dan kom en gaan dit en die onvergenoegdheid bly.

Daarom sê Jesus:

“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33)

Hierdie gordel van waarheid moet ons om ons heupe vasbind. Die waarheid is dat ons in Christus oorwinnaars is, ongeag wat die wêreld sê of doen. Al wat jou ware geluk en vrede kan gee is Christus self. Hy is die weg, en die waarheid en die lewe.

Om daarom soos soldate wat vol hoop is tot die einde toe te kan veg, is dit belangrik dat ons hierdie waarheid moet ken.

Die waarheid is inderdaad dat ons diep ellendige mense is. Ons verdien die ewige dood. Dit is juis hierdie waarheid wat ons nederig maak sodat ons nie uit die hoogte op enigiemand sal afkyk nie.

Maar dis net die helfte van die waarheid. Die waarheid is ook dat God ons so liefhet dat Hy sy eie Seun laat sterf het om vir ons sonde te betaal.

En dit is juis hierdie volle Waarheid wat maak dat ons tot God kan bid, “Abba” wat beteken “Vader”. Hy het ons aangeneem as sy eie kinders deur vir ons sonde te betaal.

Hierdie waarheid oor die verlossing van Christus moet ons koester. Ons moet met alles in ons aan hierdie Waarheid vashou.

Slot:

Daar is baie pyle wat in hierdie lewe afgevuur word om ons hart te besoedel met leuens. Daarom moet ons ons hart vol maak met hierdie waarheid. Dit moet ons hartsbegeerte wees om Christus so in sy heerlikheid en in sy genade te sien, want dit is juis hierdie waarheid wat ons met nuwe ywer en krag laat veg.

Ons is in Christus, meer as oorwinnaars.


Kyk gerus by hierdie skakel na die ander dele van die wapenrusting https://www.pdebruyn.com/wapenrusting

90 views0 comments
bottom of page