Teks: Efesiërs 6: 10-20
Inleiding:
Hierdie is 'n reeks oor die wapenrusting soos dit beskryf word in Efesiërs 6. Indien jy na die ander dele van die wapenrusting wil kyk kan jy na hierdie skakel toe gaan: https://www.pdebruyn.com/wapenrusting
Geloof as skild in die hand
Daar was veral twee gewilde skilde wat deur die Romeinse soldate destyds gebruik is. Die een skild was ‘n klein en ligte skild wat gewoonlik gebruik is om die swaard van die opponent in ‘n een tot een geveg te keer.
Die skild waaraan Paulus hier dink is ‘n skild wat gewoonlik ongeveer ‘n meter hoog en ‘n halwe meter breed was. Hy het ook hake aan die kante gehad sodat dit by ander skilde aangehaak kon word.
Die hake is daar sodat ‘n hele ry soldate soos een man vorentoe kan beweeg, sonder om hulle bloot te stel aan die pyle wat op hulle afgevuur word.
Dit was ook die gebruik dat die vyand hulle pyle in pik gedoop het en dan aan die brand gesteek het. Daarom is hierdie skilde gemaak van soliede hout wat oorgetrek is met dik leer. Die leer is dan natgemaak sodat die pyl geblus word sodra dit in die skild vas geskiet word.
Enige persoon wat agter so skild geskuil het, was beskerm teen die pyle en spiese wat deur die vyand gebruik is.
Die geloof waarna Paulus met ander woorde hier verwys is daardie basiese kennis en vertroue in God. Jy moet vertrou dat hierdie skild jou gaan beskerm anders sal jy nie agter hom skuil nie. Die kategismus beskryf hierdie geloof soos volg (H.K. vraag 21):
Vraag 21: Wat is ’n ware geloof?
Antwoord: ’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit louter genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het.
Indien ons nou prakties oor geloof dink is geloof net so betroubaar en behulpsaam soos wat die betroubaarheid van die objek is waarin jy glo.
Ons glo byvoorbeeld in die veiligheid van karre en daarom is ons elke dag bereid om in ‘n kar te klim en van punt a tot b te ry. Die toestand van daardie kar sal egter maak dat jy meer of minder geloof in hom het.
Die Christelike geloof is juis kragtig en effektief as gevolg van die objek van ons geloof naamlik Jesus, die Christus. Hy is die Waarheid! Hoe beter ons Hom leer ken, hoe meer kan ons Hom vertrou. Hy word vir ons dan soos ‘n skild wat ons teen al hierdie brand pyle van die bose beskerm. Niks kan ons van sy liefde skei nie. Dis ‘n betroubare skild!
Nou, die brandpyle wat die vyand op ons afvuur is goed soos: onsedelikheid, haat, afguns, woede, hebsug, hoogmoed, twyfel, vrees, wanhoop, wantroue, en al die ander sondes.
Maar wat al hierdie sonde in gemeen het is twyfel in God. Ons doen sonde omdat ons die leuen glo dat God onbetroubaar is. Mense word hoogmoedig omdat hulle meer in hulle eie vermoëns vertrou as op God. Mens raak afgunstig op ander omdat jy nie jou omstandighede kan aanvaar nie. Jy vertrou nie dat God se doel met jou vir jou die beste is nie.
Elke versoeking wat op ons afgevuur word, is direk of indirek ‘n versoek om God te wantrou. Daarom skryf Johannes ook:
“Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.” (1 Joh. 5:10)
Geloof is uiters nodig! Die enigste manier hoe ons hierdie brandpyle smoor is deur ons skild van geloof. Geloof wat bestaan uit kennis en vertroue in ons Verlosser. Hoe meer jy Christus ken hoe meer sal jy Hom ook vertrou. Ons moet glo in Jesus die Christus.
Ons moet glo dat Hy verneder is sodat ons in ons eer herstel kan word. Hoor hoe mooi beskryf die Psalmdigter dit:
“U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem.” (Ps. 73:24)
Ons moet glo dat Hy deur God verlaat is, sodat ons met God vervul kan word. Dit beskryf Paulus weer pragtig wanneer Hy sê:
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef. 1:3)
Ons moet glo dat God ryklik aan ons sal voorsien volgens die wonderbaarlike rykdom wat ons in Christus Jesus het. In die verband staan daar:
“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil. 4:19)
So is daar duisende beloftes wat vir ons krag gee om hierdie aanslae te blus. Hierdie geloof wat ons in Christus het is ons skild wat al die leuens versmoor.
Slot:
Neem hierdie skild van geloof op sodat jy nie twyfel oor die liefde wat God vir jou het nie. Ons is vir Hom so belangrik dat Hy bereid was om met sy lewe vir ons sonde te betaal. Ons kan Hom met ons lewe vertrou!
Comentarios