top of page

Die wapenrusting van God gee hoop! - Verkondig die evangelie van vrede

Teks: Efesiërs 6: 10-20

Ons is besig om te kyk na al die verskillende dele van die wapenrusting.

Indien jy nog nie die ander dele gelees het nie, kan jy by hierdie skakel daarna gaan kyk: https://www.pdebruyn.com/wapenrusting

In hierdie artikel gee ons aandag aan die derde deel van die wapenrusting. Dit is die skoene:

Skoene is die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig.

Die Romeinse soldaat se sandale is tot by die knie opgeryg en styf om sy been vasgemaak.

Daar word ook gesê dat Alexander die Grote wat 356 tot 323 v.C. geleef het, daarmee begin het om sy soldate met sandale te laat oorlog voer. Daar is ook seker bronne wat sy oorwinning toe skryf aan die feit dat sy soldate skoene aan die voete gehad het.

Dit is ook logies dat skoene ‘n groot verskil sal maak. Dit is tog hoekom ons ‘n groot deel van die dag skoene dra. Ons het inteendeel vir elke geleentheid skoene en meer nog ook vir elke situasie. ‘n Atleet sal byvoorbeeld nie dieselfde skoene waarmee hy in die veld hardloop gebruik om op ‘n tartan baan te hardloop nie.

Soveel te meer in ‘n oorlogsituasie waar ‘n persoon se lewe daarvan afhang. Skoene beskerm nie alleen jou voete teen skerp voorwerpe, warm oppervlaktes en rowe terrein nie, dit gee mens ook die vermoë om stewig te kan vastrap en om enige tyd gereed te wees om te reageer.

Net so is die gelowige se skoene ook uiters belangrik in hierdie oorlogsituasie teen die bose. Indien ‘n soldaat nie sy voete met die nodige voorbereiding van die evangelie van vrede beskerm nie, is die kans dat hy oorwin word baie goed. Hy sal maklik gly en val. Hy sal nie paraat genoeg wees nie.

Wat nou opvallend is, is die woord “bereidheid” wat twee vertalings moontlikhede het. In beide hierdie moontlikhede leer ons iets van wat die Evangelie vir ons moet wees. Aan die een kant kan dit vertaal word met: “Stewig gevestig”. Met ander woorde, die evangelie moet deur en deur geken word, want dit maak dat die gelowige stewig kan vas staan in dit Waarheid. Die evangelie is ons rots.

Verder kan dit ook vertaal word met: “Gereed wees”. ‘n Soldaat met skoene aan die voete is altyd gereed. Hy kan aanval wanneer hy moet en verdedig wanneer dit nodig is. Hy hoef nie bekommerd te wees oor die terrein waaroor hy moet gaan nie, want sy voete word beskerm deur die skoene. Hy kan vas staan.

As ons so gevestig is in die evangelie, gee dit vir ons goeie vastrapplek en ons is altyd gereed vir wat ook al op ons afkom. Daarom sê Paulus:

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.” (1 Kor. 15:1-2)

Hierdie evangelie maak dat gelowiges vas kan staan soos soldate in diens. Die Evangelie gee ons vrede, sodat ons nie bang word nie. Selfs al val die pyle rondom ons kan ons steeds vas staan, want die rots waarop ons staan is die Almagtige se woord. Ons kan ons opdrag uitvoer selfs al beteken dit ons dood.

Maar, hoe is dit moontlik?

Gelowiges kry daardie krag in die evangelie omdat die evangelie vertel van die Persoon wat sy lewe gegee het sodat ons seker kan wees dat ons ewig saam met Hom sal lewe. Die dood is oorwin. Die evangelie vertel ons van Jesus wat die toorn van God op Hom neem sodat ons van ons sonde vergewe kan word.

Die evangelie gee vir ons hierdie hoop dat Christus deur God verlaat is, sodat ons nooit weer deur Hom verlaat hoef te word nie.

Hierdie Evangelie maak dat ons vas kan staan selfs al word ons lewens bedreig. Jesus is ons rots waarop ons kan staan. ‘n Rots wat nie wankel nie en wat ons teen ons vyande kan beskerm.

'n Voorbeeld van hierdie vrede is die twaalf verspieders wat Moses uitgestuur het om die beloofde land te gaan verken (Num. 13). Al twaalf het presies dieselfde gesien en tog het tien terug gekom en gesê dat die volk nie moet optrek nie, want hulle lyk soos sprinkane in daardie groot mense se oë.

Twee van die twaalf het egter gesê:

"As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning... Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie." (Num. 14:9)

Dis hierdie tipe vrede wat alle verstand te bowe gaan wat die evangelie in ons harte bring. Ons het nie nodig om te vrees nie. Daarom staan daar ook:

"Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie." (1 Joh. 4:18)

Ons het die heerlike voorreg om hierdie liefde van Christus te leer ken. Dis liefde wat vrees verdryf. Ons het niks te vrees nie, want Jesus het reeds vir al ons sonde betaal. Ons dra daardie volmaakte liefde in ons hart saam.

Daarom staan dit so mooi “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” (Rom. 10:15)

Elkeen wat aan hierdie evangelie vashou, wat daarin vasstaan, is oorwinnaar. Sy voete staan stewig op die Rots, Jesus Christus. En dit gee vrede.

Slot:

Ons het ‘n wonderlike wapenrusting waardeur God vir ons hoop gee. Kom ons trek hierdie skoene aan! Skoene wat ons vas laat staan op ons Rots, Jesus Christus. Skoene wat vir ons vrede gee omdat ons weet dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie.

Leef in hierdie vrede wat Christus ons bied.

73 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page