top of page

Dien God alleen…

Teks: Genesis 35:1-15

Die terug keer na Bet-El was ‘n belangrike gebeurtenis. Jakob het beloof dat as die Here hom behoue terugbring, hy die Here sal dien as God. Die klippilaar wat hy destyds opgerig het sal ‘n tempel wees en van alles wat hy het, sal hy vir die Here ‘n tiende gee (vgl. Gen. 28:20-22).

Nou roep die Here hom om terug te gaan na die plek waar die Here destyds aan hom verskyn het. Bet-El beteken ook huis van God en is gesien as ‘n heilige plek omdat God daar aan hom verskyn het.

Hier is dus twee redes waarom Jakob almal oproep om hulleself te reinig. Eerstens omdat hy destyds beloof het dat hy die Here sal dien as God hom veilig terugbring en tweedens omdat Bet-El gesien is as ‘n heilige plek omdat God daar aan hom verskyn het.

Die Here het sy kant van die ooreenkoms nagekom en nou is dit Jakob se beurt om ook getrou te wees aan die belofte wat hy gemaak het. Hy moet God alleen dien (vgl. Gen. 28:21).

Hierdie gedeelte herinner ons daaraan dat ons nie ander gode saam met God kan dien nie. Hy eis onverdeelde trou aan Hom (Eks. 20:5). Buitendien is daar geen God soos die God van Israel nie. Hy is getrou aan sy verbond en dit word ook weer hier sigbaar wanneer die Kanaäniete so bang gemaak is vir Jakob en sy seuns dat hulle hulle nie agtervolg nie.

Tog verloor ons so maklik perspektief deur die waarde wat ons heg aan aardse goed.

Wanneer ons terugkyk in ons lewe en die Here se beskermde hand in ons lewe sien, dan moet ons ook onsself op nuut uit dankbaarheid reinig van alle ongeregtigheid wat ons nog saam dra. Ons moet God bo alles in ons lewe liefhê.

Ons dankbaarheid word nog meer oorvloedig wanneer ons sien hoe God ons in Jesus Christus gered het van die ewige dood.

Die dood is nie meer ‘n vyand om te vrees nie. Paulus beskryf dit baie mooi wanneer hy sê:

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.” (1 Kor. 15:54-57)

Christus het vir ons sonde aan die kruis gesterf en daarmee is daar vir die sonde betaal. So is die angel vernietig en daarom het die dood nie meer mag oor ons nie.

Hierdie verlossingswerk van Christus moet ons inspireer om ons lewe al meer aan die Here te wy. Hy alléén is waardig om aanbid te word.

Vrae tot introspeksie:

a) Van watter afgode (iets wat jy meer liefhet as God) in jou lewe is dit nodig dat jy jouself van moet reinig?

b) Dink na oor God se liefde vir jou. Hoe weet jy dat Hy jou liefhet?

20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page