top of page

God is by ons…

Teks: Genesis 32:1-8

Met die een krisis wat pas afgehandel is, weet Jakob dat daar nou vir hom nog een voorlê. Eers kom hy ‘n leër engele van God teë. Engele wat hom heel moontlik sou herinner aan die keer wat hy in ‘n droom engele gesien het wat teen ‘n leer op en af klim (vgl. Gen. 28:11-15). Dit sou hom herinner aan die feit dat God reeds daar ‘n belofte aan hom gemaak het. Die belofte dat Hy by Jacob sal wees.

Jakob noem die plek dan ook Maganajim, want net soos destyds, begelei God hom steeds met sy leërmag. God is nog altyd by hom.

Dan stuur Jakob sy mense voor hom uit om die waters te gaan toets. Hulle kom terug met ‘n onrusbarende boodskap. Esau is op pad met vier honderd man.

Jakob verwag onmiddellik net die ergste, omdat hy weet dat Esau lank terug gesê het dat hy vir Jakob sal doodmaak indien hy die kans kry (Gen. 27:41).

Dit maak dat hy onmiddellik al die beloftes van God vergeet. Hy verval in sy ou gewoonte om in desperaatheid planne te maak vir oorlewing.

Ons kan duidelik ook iets van ons eie reaksies in Jakob sin sien. Wanneer daardie probleem opduik, vergeet ons van al die ander goed wat in ons lewe gebeur het waar die Here ons gered en beskerm het. Die fokus is volkome op die krisis.

Die gesondheid wat jy gaan verloor, die kind wat nie ‘n toekoms het nie of die inkomste wat jy verloor het.

Hierdie krisis maak dat ons net aan die ergste dink en dit wek ontsettende vrees en angs in ons. Dit maak dat ons nie enige hoop vir die toekoms het nie. Ons beplan vir die ergste WANT ons vertrou op onsself.

Daarom moet ons as gelowiges nie die Maganajim miskyk nie. Toe Jesus in die tuin van Getsemane was waar hy gevange geneem is, was Petrus so bang dat hy sy swaard uitruk en een van die soldate se oor afkap. Daarop sê Jesus toe vir Petrus:

““Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” (Matt. 26:52-54; Joh. 18:11)

Hierdie engele was tot Jesus se beskikking en tog het Hy nie die Vader gevra vir hulle beskerming nie. Die skrif moes vervul word. Jesus moes sterf! Hy moes deur die Vader verlaat word sodat ons altyd onder sy beskerming kan wees.

Dit is hierdie genade en liefde wat ons in Christus ontvang wat ons dapper maak. Ons moenie bly vaskyk in al die krisisse wat ons op aarde teëkom nie. Ons moet sien hoe Jesus aan ‘n kruis hang, sodat ons nooit deur God se engeleleër verlaat hoef te word nie.

In Jesus het God sy leër na die aarde gestuur om ons te beskerm. Niks kan ons nou meer van God se liefde skei nie.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter situasie is daar in jou lewe wat jou werklik angstig maak? Dink dan diep na oor die rede vir die vrees.

b) Watter troos vind jy in hierdie gedeelte?

8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page