top of page

Hoop wanneer daar geen hoop is nie

Teks: Genesis 15:1-21

Die gedeelte begin met die Here wat vir Abram bemoedig deur vir hom daarop te wys dat Hy hom sal beskerm. Abram hoef nie bang te wees nie.

Dan sien ons hoe Abram sy hart uitstort. Hy wys God daarop dat dit vir hom soos 'n hopelose situasie lyk. Watter beloning kan die Here hom gee as hy kinderloos sterf en een van sy slawe al sy besittings erf?

Inteendeel, Abram sê beskuldigend in vers drie dat die Here nie aan hom 'n nageslag gegee het nie.

Dan sien ons hoe die Here hom in sy kleingeloof te hulp kom deur weer aan hom te bevestig dat daar 'n direkte nageslag uit hom sal wees wat die beloofde land sal erf.

Dit krap dan nog 'n hopelose situasie oop. Hoe sal Abram ooit weet dat hy daardie land sal besit.

Abram word hier in sy menslikheid aan ons voorgehou. Ten spyte van al die wonderlike beloftes wat die Here aan hom gemaak het, raak Abram al hoe meer bewus van sy hoë ouderdom en dat sy tyd vir kinders kry vinnig uitloop. Saam met die bewuswording het sy geloof ook gewankel. Hy het nodig dat God weer aan hom hierdie beloftes moet bevestig.

Hiermee kan ons sterk assosieer. Wanneer ons sien dat die tyd, menslik gesproke, besig is om uit te loop, dan probeer ons self ingryp. Net soos Abram, maak ons ons eie planne. Abram het besluit dat dit dan nou maar sy slaaf, Eliëser moet wees wat sy erfdeel ontvang, omdat die Here nie sy belofte gehou het nie en dit menslik onmoontlik is om op hulle ouderdom nog ‘n kind van hul eie te kan kry.

Wanneer ons soos Abram hier bewus raak van die onmoontlikheid van die situasie, dreig ons, skel ons en vloek ons. Ons desperaatheid maak dat ons in jaloesie, onsedelikheid, drinkery en al dergelike sondes verval.

Maar ons desperaatheid dryf ons ook tot kommer en vrees.

Hierdie situasie maak ons hopeloos omdat ons in ons eie swakheid bly vaskyk. Ons erken nie God se almag en heerlikheid nie.

Die wonderlike is nou om te sien hoe die Here hierdie situasie hanteer. Hy veroordeel nie ons kleingeloof nie, maar gee aan ons middele om ons in die geloof te versterk. Kom ons kyk wat Hy vir ons gee.

1. Die teken - soos die sterre (vs. 5)

Die Here sê vir Abram om na die hemel te kyk, want sy nageslag sal so talryk soos die sterre in die hemel wees. Hierdie teken versterk Abram se geloof.

Net soos vir Abraham, gee die Here ook vir ons ‘n teken. In Jesaja staan daar dan:

“Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” (Jes. 7:14)

Dit is juis uit die talryke nageslag van Abraham wat hierdie kind gebore is. Hy is die Immanuel, wat beteken God met ons. Deur die Gees is God nou ewig met ons en daarom hoef ons niks te vrees nie.

2. Die belofte - so seker (vs. 17)

Die opdrag wat die Here hier vir Abraham gee (vgl. vs. 9-17), was die manier hoe daar ‘n verbond tussen twee partye opgerig is. Met hierdie ritueel word uitgebeeld dat die een wat nie die verbond nakom nie, soos daardie vleis verbrand sal word.

Die wonderlike van hierdie verbond wat die Here met Abraham en sy nageslag oprig, is dat Hy alleen tussendeur die vleis gegaan het. Daarmee wys Hy dat Hy die volle verantwoordelikheid op Homself neem.

As sondige mense kan ons nie aan God gehoorsaam wees soos van ons in sy wet vereis word nie. Daarom neem God die volle verantwoordelikheid vir redding en beskerming op Homself. Op die bestemde tyd stuur Hy daarom sy Seun, Jesus Christus, om namens ons vernietig te word. Hy neem die vloek wat ons toekom op Homself.

Daarmee wys God dat ons Hom kan vertrou met ons toekoms.

3. Die rede - die volle maat moet bereik word (vs. 13-16)

Ons wonder dalk waarom ons nog steeds, twee duisend jaar na Christus, moet wag vir die koms van Christus.

Wel, hier gee die Here ons ‘n wonderlike antwoord. Die volle maat moet bereik word!

Abram se nageslag moes 400 jaar in Egipte wag voordat hulle terug kon gaan na die beloofde land. Die rede hiervoor word in vers 16 gegee: “Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.” (Gen. 15:16)

Die Here het met ander woorde vir die Amoriete genoegsame tyd gegee om hulle lewe in orde te kry. Wanneer die bestemde tyd daarvoor aangebreek het dat die Israeliete die land by die Amoriete oorneem, dan was dit hulle loon vir hul ongeregtigheid.

Net so moet ons ook geduldig wag op God se tyd, want God weet wat vir ons en ander goed is. Hy is die Regverdig Regter wat op die regte tyd ‘n einde sal maak aan hierdie wêreld se ongeregtigheid.

Abram het hierdie tekens gesien en geglo. Mag hierdie tekens ook altyd vir ons genoegsaam wees om in hierdie heerlike hoop te leef.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter opsig sukkel jy nog soms om op hierdie belofte van die Here te vertrou?

b) Wat is die hoop wat jy uit hierdie gedeelte put?

29 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page