top of page

Hou rekening met God in jou lewe!

Teks: Jakobus 4:13-17

Inleiding:

Hierdie gedeelte roep ons op om rekening te hou met God se weë. Dit gebeur so maklik dat ons planne maak asof ons die laaste sê het en dit is daardie hoogmoed wat Jakobus hier aanspreek.

Die hoogmoed om te dink dat jy ten volle in beheer is van die dag van môre.

Daarom kyk ons in die eerste plek na wat dit beteken om ag te slaan op God. Daarna kyk ons na die rede waarom ons nie ag slaan op God nie. En laaste kyk ons na ‘n heerlike motivering om in alles ag te slaan op God se weë.

So kom ons kyk eers wat dit beteken…

1. Slaan ag op God!

Hierdie oproep om rekening te hou met God, is nie iets wat Jakobus uitgedink het nie. Dis ‘n oproep wat aansluit by baie ander plekke in die Bybel. In die Psalms is daar ‘n mooi voorbeeld hiervan, as daar staan:

“Die doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God nie dink nie.” (Ps. 9:18)

Hierdie nasies ignoreer en verwerp God en daarom sal hierdie verskriklike ding met hulle gebeur. Daar kom ‘n tyd wat God ook nie meer aan hulle sal dink nie. Hulle sal in die doderyk opeindig. Die doderyk is ‘n plek van godsverlatenheid.

Met dit in gedagte, is dit duidelik dat dit nie vir Jakobus so seer oor ons woordeskat gaan nie. Dit gaan nie daaroor dat jy in elke tweede sin een of ander formule moet gebruik soos om te sê: “As die Here wil nie.” Dit gaan veel eerder oor ons gesindheid. Ons hele lewe moet wys dat ons in afhanklik van die Here leef[1].

Daarmee sê ek nie dat dit verkeerd is om hierdie soort formules te gebruik nie. Die probleem met formules is net dat dit so maklik net ‘n blote gewoonte raak[2].

En nog erker as gewoontes, is wanneer so formule gebruik word as ‘n valse vroomheid. Daar is mense wat dink dat Jakobus hier leer dat ons in alles moet sê: “Die Here het vir my gesê” of “Die Here wil hê dat dit of dat gebeur…”[3] Asof hulle weet wat die Here se wil is.

Hierdie woorde word dan ‘n manier om mense te manipuleer eerder as om aan God erkenning te gee. Dit is dan niks anders as hoogmoed nie.

‘n Mooi voorbeeld van die nederige afhanklikheid wat daar by die gelowige moet wees, sien ons in die gebed van Salomo. Toe hy as koning van Israel gesalf is, het hy gebid:

“Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” (1 Kron. 29:12-13)

Om aan die Here te dink, beteken dat ons biddend moet soek en vra na sy wil en plan vir ons lewe[4].

Dis soos ‘n eggenoot wat uit liefde vir sy huweliksmaat, in elke situasie dink wat die beste vir haar sal wees.

Hierdie manier van dink staan daarom teenoor die hoogmoedige persoon wat dink dat hy alles weet en daarom doen hy net wat hy wil, wanneer hy wil.

2. Waarom ons God nie ag nie

Die kort en kragtige antwoord is: Hy is nie vir ons belangrik nie…

Ons stel dit natuurlik baie mooi met al die verskonings wat ons gee. Die een wat ons seker die meeste gebruik is tyd. Ons is so besig en daarom kry ons nie tyd om huisgodsdiens te doen. Ons kry nie tyd om bybelstudie te doen nie. En ons kry nie tyd om stil te word sodat ons ons gedagtes op die Here kan rig nie.

Jesus het ook met sulke mooi verskonings te doen gekry. Toe Hy vir van sy dissipels sê om Hom te volg, was die een se verskoning:

“Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” (Luk. 9:61-62)

Ons verskonings klink so mooi en geldig, maar dit getuig daarvan dat God nie vir ons belangrik is nie. En as hy nie vir jou belangrik is nie, dan is jy nie geskik vir sy koninkryk nie. Daarom sê die Here ook deur die profeet Jeremia:

“Vergeet ’n meisie haar juwele of ’n bruid haar trourok? Tog het my volk My jare gelede al vergeet.” (Jer. 2:32)

Het jy al ‘n bruid gesien wat vergeet het om haar trourok aan te trek of om haar juwele aan te sit. Dit sal nooit gebeur nie! Hoekom nie?

Want vir ‘n bruid is die trourok en die juwele van die belangrikste artikels van haar troudag. En wanneer iets vir jou belangrik is, dan dink jy die heeltyd daaraan. Jy kan dit nie vergeet nie.

So, nou kan ons dalk vra: “Maar hoe vergeet ons van God?” Jakobus gee die antwoord hierop in vers 16 as hy sê:

“Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot.” (Jak. 4:16)

Ons leef en praat en dink asof ons in beheer van môre is en of ons weet wat die beste vir ons is. In plaas daarvan om in nederige afhanklikheid te leef, leef ons in hooghartige arrogansie[5].

Hoogmoed wys dat ons vasgryp aan ‘n valse grootheid en 'n valse selfstandigheid[6]. En daardie valsheid ontstaan dikwels wanneer ons sukses behaal. Sukses veroorsaak dat ons vergeet dat ons in die genade van die Here leef[7].

Hy is die AL-magtige, Hy is die AL-wyse, Hy is die Al-omteenwoordige.

So, toets jouself!

Die tekens dat ons God nie in ons lewe ag nie, sien ons dikwels wanneer dinge nie verloop soos ons beplan het nie. Daardie siekte of dood of werk wat jy verloor of egskeiding of konflik of finansiële krisis – hoe reageer jy in daardie situasie.

Wek dit angs, of stres, of aggressie of ongeduld in ons gemoed?

Wanneer hierdie emosies begin om ons lewens te oorheers, wys dit dat ons steeds onder die indruk leef dat ons in beheer is van ons lewens. Hierdie emosies wys dat ons onsself nog hoër ag as God….

So hoe sal ons ag slaan op God se wil vir ons lewe?

3. Hoekom ons God sal ag!

In vooruitsig op die Messias wat sou kom, profeteer Jeremia:

“Ek was soos ’n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie besef dat hulle teen my saamsweer nie. Hulle het gesê: “Laat ons die boom met die sap in hom vernietig en hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat niemand meer aan hom dink nie.” (Jer. 11:19)

Daardie helse smart van godsverlatenheid wat ons verdien omdat ons nie rekening hou met God nie, daardie alleenheid het Christus aan die kruis gely. Die Vader het sy aangesig van Hom weggedraai.

Die verwerping en vernedering en straf wat ons moes kry, het volledig op Christus afgekom. Dis hoe lief God ons het.

Daarom staan daar ook:

“Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.” (Jer. 31:34)

God ag ons so hoog dat Hy bereid was om Jesus, die volmaakte Seun van God te verlaat en te laat sterf, sodat ons gered kan word. Hy verwerp ons sonde, maar nie vir ons as mense nie.

Die God wat ons aanbid, hou nie op om aan ons te dink wanneer ons sonde doen nie. Ook in ons ellende dink Hy aan ons en dan red Hy ons. Daarom staan daar ook:

“Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op, soos ‘n bruid met haar juwele aan.” (Jes. 61:10)

Ons dien ‘n God wat ons kroon met sy liefde en goedertierenheid. Daardie genade is ‘n gelowige se kosbaarste juwele.

Wanneer ons hierdie heerlike omvangrykheid van ons verlossing in Christus begin verstaan, dan sal ons nie meer onseker wees oor die toekoms en bekommerd wees oor ons omstandighede nie, want ons leef in afhanklikheid voor die Here. Hy is in beheer en die verlossing in Christus wys dat Hy vir ons sorg.

Christus se verlossing gee ons ‘n heilige selfversekerdheid sodat ons nie meer op ons beperkte kragte en beperkte wysheid hoef te vertrou nie. Ons lewens is in die bekwame en versorgende hand van die AL-wyse, Al-magtige en Al-wetende God[8].

Slot:

Daarom geliefdes, hou rekening met God se weë in jou lewe.

Sorg dat elkeen van die planne wat jy maak wys dat jy erken dat God die laaste sê het in dit alles.

Leef in volle afhanklikheid van Hom.

[1] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 4:15). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [2] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [3] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [4] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1365). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [5] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [6] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [7] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 4:13). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [8] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 4:16). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page