top of page

Jaag vergenoegdheid na

Teks: Genesis 22:20-24

Teenoor Abraham, wat net een seun gehad het, word sy broer se nageslag genoem wat twaalf seuns gehad het.

In 'n tyd waar jou nageslag van groot betekenis was, sou dit menslik gesproke beteken dat hierdie broer van Abraham hom vêr voor was. Hy het alles gehad wat Abraham en Sara so diep begeer het. ‘n Groot nageslag.

Ons kyk ook dikwels na ons eie lewe deur ons situasie met ander s'n te vergelyk.

Ons geluk en voorspoed word gemeet aan dit wat ons meer of minder het as ander om ons.

Hierdie manier van doen loop dan gewoonlik uit op een van twee situasies. Indien ons meer, beter en lekkerder het as ander, voel ons goed oor onsself en ons sal dan maklik neerkyk op almal wat nie het wat ons het nie.

Indien ons egter minder en slegter het as ander, sal ons pessimisties en minderwaardig voel.

Hierdie gedeelte herinner ons egter dat ‘n gelowige vergenoegd moet wees in alle omstandighede. Daar is veral twee redes waarom ons volkome vergenoegd kan en moet wees.

1. Gelowiges weet wie hulle in Christus is

Abraham se geloof het gemaak dat hy nie vasgekyk het in die 12 seuns van sy broer Nahor nie. Hy was volkome vergenoegd met sy een seun, want hierdie een seun het ‘n heerlike toekoms wat God vir hom voorberei het. ‘n Toekoms vol rykdom, liefde en genade.

Net so moet ons ook nie vaskyk in al die aardse goed wat ons nie het nie. Die Psalmdigter skryf:

“Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.” (Ps. 84:11)

In Christus het ons ‘n heerlike erfenis.

2. Gelowiges is nederig

‘n Gelowige besef ook dat sy toekoms nie bepaal word op grond van die prestasies wat hy behaal in hierdie lewe nie. Ons ontvang die ewige lewe met God, alleen omdat Jésus getrou en waardig was. Daarom kan ons beslis ook nie neerkyk op enigiemand wat nie glo soos ons glo nie, want dis nie ons wat die werk gedoen het nie, maar Christus.

Om dus vergenoegd te kan wees met ons lewe, moet ons weet wie ons in Christus is. Ons geloof in Hom gee ons die perspektief om in alle omstandighede vergenoegd te kan wees.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat veroorsaak dat ons dikwels nie vergenoegd is met ons omstandighede nie?

b) Hoe help jou verlossing in Christus jou om vergenoegd te kan wees.

23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page