top of page

Jesus, die brood wat lewe gee - Joh. 6:41-59

Fokus: Johannes 6:47


Wat interessant is van hierdie gedeelte is die sterk ooreenkoms wat mens vind tussen die Jode in hierdie gedeelte en die volk wat in die woestyn was.

Dieselfde kleingeloof wat hier by die Jode gesien word, was in die Israeliete se reaksie te sien toe hulle in die woestyn was. In Eks. 16:3 sê hulle dat hulle die woestyn ingelei is om daar om te kom van die honger, en toe word daar ryklik voorsien. God stuur die Manna…

In Numeri 11:4-6 lees ons dan dat die Manna nie meer goed genoeg was nie. Hulle het lus gekry vir vleis en daarom het hulle gekla dat hulle wurg aan die manna...

Die manna het hulle aan die lewe gehou om deur die woestyn te trek sodat hulle die beloofde land kon ingaan. Hulle was egter nie tevrede nie. Hulle harte was gevul met ondankbaarheid. Hulle kyk vas in alles wat hulle nie het nie in plaas daarvan om die wonder te sien van wat daar onder hulle oë gebeur.

Die Jode dink en doen dieselfde. Hulle is ondankbaar en kyk vas in die wondertekens in plaas daarvan om te sien waarheen hulle oppad is. Jesus kan vir hulle die brood gee wat hulle die krag sal gee om die ewige koninkryk van God in te gaan. Hulle weier egter om te glo.

Hoe reageer ons op hierdie oproep? Ons kan ook sê dat dit verregaande is. Daar is geen bewyse nie...

As die volk so geredeneer het, sou hulle nooit die beloofde land ingegaan het nie. Hulle het ook geen bewyse gehad dat hulle die beloofde land sou ingaan nie.

Jesus hou daarom aan ons hierdie belofte voor en óns het 'n keuse om te maak.

Ons kan besluit dat dit onsin is en ons geloof opgee, want ons sien net die woestyn (woestyn = wêreld om ons). Dis die realiteit. Daarom aanvaar ons dat dit al is waarvoor ons kan leef.

Ons kan egter ook besluit om Jesus se Woord te aanvaar as waarheid en daarom te glo dat dit vir ons 'n heerlike toekoms inhou.

Jesus was natuurlik ook vir ons hierin die volmaakte voorbeeld. Hy het die Woord van die Vader geglo en Homself daarom gewillig aan die dood oorgegee (vgl. Joh. 10:17-18), omdat Hy vertrou het dat die Vader Hom deur die Gees weer sal opwek. Daar was geen bewyse nie, maar die Vader se Woord was genoeg. Daarom staan daar in Hebreërs:

“Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins…” (Heb. 12:2)

Soos die Israeliete van destyds die manna geëet het om hulle aan die lewe te hou totdat hulle die beloofde land ingegaan het, so het ons hierdie verlossing van Christus ontvang om ons aan die lewe te hou sodat ons die ewige lewe kan ingaan.

Moenie vas kyk in die woestynlewe om jou nie, glo in Jesus as jou Verlosser. Hy sluit vir ons ‘n heerlike toekoms oop. ‘n Toekoms wat ons vul met vreugde oor dit wat vir ons in die vooruitsig is.

30 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page