top of page

Jesus skenk ons vrede - Joh. 6:16-21

Teks: Johannes 6:16-21


Hierdie gedeelte vertel ons van ‘n geleentheid waar die dissipels se harte gevul was met vrees. Vrees het hulle oorval, want hulle het hulleself midde-in ‘n groot storm bevind. Om alles te kroon, sien hulle ook nog iets op die water na hulle toe aangeloop kom.

Opvallend is die uitwerking wat Jesus se teenwoordigheid op sy dissipels gehad het. Sy stem het hulle gerus gestel.

Ons ken almal daardie gevoel van paniek en vrees net om dan deur die eenvoudige teenwoordigheid van 'n persoon wat jy vertrou, rustigheid te kry. Dit is soos 'n kind wat bang is om in die donker te loop, maar sodra sy pa daar is om sy hand te vat, verdwyn daardie vrees.

Nou die vraag: Het ons so vertrouens verhouding met Jesus dat die blote gedagte aan sy teenwoordigheid die vrees verdryf?

Die storms van die lewe laat ons besef dat ons eintlik niks anders as nietige wesens is nie. Vrees en angs neem ons harte gevange en ons raak al hoe meer bewus van ons eie swakheid en nietigheid. Ons verloor perspektief wanneer ons gemak en gerief bedreig word en dan raak ons paniekerig, net soos die dissipels.

Hierdie gedeelte leer ons nou hoe ons die storms van die lewe, wat paniek en angs veroorsaak, moet hanteer:

1. Ons moet weet dat Jesus die Koning oor alles is.

Johannes leer ons dat die reëls wat vir ons geld, nie vir die Here geld nie. Hy het mag oor al die natuurwette.

Ons sien hier dat Jesus op die water loop, en toe Hy in die boot klim, was hulle dadelik by die plek waarheen hulle oppad was. Jesus het dus mag oor gravitasiekrag en ruimte. Ons het nie nodig om bang te wees nie, Hy is in beheer van alles.

2. Ons moet weet wat Jesus se verlossing vir ons beteken.

Ons lees in 1 John 4:18 die volgende:

“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” (1 Joh. 4:18)

Toe Jesus in Getsemane was, het Hy in doodsangs verkeer, in so mate dat sy sweet soos bloeddruppels geword het. Jesus het rede gehad om doodsbenoud te wees. Hy het geweet dat Hy binnekort deur God verlaat sou word. Hy het ons vloek op Hom geneem. Jesus het alleen deur daardie hel van godsverlatenheid gegaan, sodat ons nooit daardeur hoef te gaan nie.

Die storms wat ons in hierdie lewe beleef, laat ons besef dat ons niks anders as nietige wesens is nie. Daarom, hoe heerlik dan om Jesus se stem te hoor. Sy stem wat sê, "Dis Ek". Ek het jou verlos. Jy is my kind. Ek versorg jou. Ek verlos jou. Niks kan jou van my liefde skei nie.” (vgl. Rom. 8:39)

Jesus is deur die Vader verlaat sodat ons selfs in ons diepste nood steeds nie alleen hoef te wees nie. Daardie liefde wat ons in Hom vind, verdryf alle vrees.

41 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page