top of page

Jesus open die deur - Joh. 1:43-51

Teks: Johannes 1: 43-51


Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, het Hy gesê: “Hier is ‘n ware Israeliet.” Deur dit te sê stel Jesus hom, in 'n sekere sin, teenoor al die ander Israeliete.

Die feit dat Jesus in vers 51 verwys na die droom wat Jakob destyds gehad het, wys ons dat Hy hier daarop sinspeel dat die res van Israel na hulle voorvader Jakob aard.

Jakob het sy pa en broer bedrieg met die doel om die seën van die eersgeborene te ontvang. ‘n Seën wat streng gesproke behoort aan die oudste broer Esau (Gen. 27). Later het hy ook sy skoonpa Laban bedrieg deur oornag sy goed te pak en weg te trek, sonder om eers vir hom daarvan te sê (vgl. Gen. 31:26).

Hierin sien ons dat 'n eerlike en opregte Israeliet die uitsondering eerder as die reël in Israel geword het.

Die evangelies beklemtoon ook die bedrog van die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Hulle hou iets voor wat hulle nie werklik in hul harte is nie. Voor die volk is hulle vroom, maar agteraf maak hulle planne om Jesus dood te maak (Joh. 11:47-54).

Vandag is dit dalk nog baie erger. Mense bedrieg mekaar en van bedrog hoor jy om elke hoek en draai. Ons hou iets voor wat ons glad nie in ons hart is nie omdat ons ons eie selfsugtige begeertes wil bevredig.

Ons soek meer en groter en beter… want ons dink dat dit ons gemoedsrus en vrede sal gee. Ons hoop dat dit die antwoord op al ons ellende sal wees.

Kyk nou die heerlike gemoedsrus wat Jesus vir Natanael gee. Wanneer Jesus vir Natanael sê dat Hy hom al gesien het toe hy onder die vyeboom was, roep Natanael van verwondering uit: “Rabbi, U is die Seun van God…”

Skielik het Natanael hierdie intieme konneksie met Jesus ervaar en dit was vir hom die bewys dat Jesus alles weet.

Die groot bemoediging vir ons lê in Jesus se antwoord op Natanael se reaksie.

Jesus neem vir Natanael terug in die geskiedenis na Jakob se droom. Dieselfde Jakob wie se naam bedrieër beteken. Dieselfde Jakob wat almal om hom bedrieg het, net om voor te kom in die lewe.

Ons lees in Genesis dat Jakob in ‘n droom ‘n leer gesien het wat op die aarde staan en waarvan die punt aan die hemel raak (vgl. Gen. 28:12-14).

Die betekenis van die droom was dat God die gemeenskap tussen Hom en Jakob se geslag sal oopsluit. In God sal Jakob kry wat hy so desperaat gesoek het. Volkome aanvaarding deur God!!

Vir Jakob was dit maar net 'n droom, maar vir ons is dit ‘n werklikheid in Christus. Ons sien Jesus wat na die aarde gekom het. Hy word in ons plek as bedrieër behandel deur aan die kruis te sterf. Maar dan vaar Hy weer op na die hemel om vir ons 'n voorspraak in die hemel te wees.

In Christus is daardie verhouding met God herstel. Ons het weer toegang tot God. In Jesus kry ons die geleentheid om daardie intieme gemeenskap met God te hê. Dit maak van ons nuwe mense. Mense wat nie meer nodig het om die mense om ons te bedrieg nie.

Ons het in Christus die vrede ontvang wat alle verstand te bowe gaan. Gebruik daarom elke geleentheid om tot Hom te nader.

15 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page