top of page

Dien God soos Hy gedien wil word - Joh. 2:13-22

Teks: Johannes 2: 13-22


Die Jode het vir Paasfees na Jerusalem gegaan om die Paasfees daar saam te vier. Die gebruik was dan dat elke persoon sy eie offerdier van sy keuse saambring om by die tempel te offer. Maar in alle waarskynlikheid sou daardie dier nie goedgekeur word deur die priesters nie. So is elke persoon gedwing om sy slagding daar op die plein te koop. Hierdie verkopers het dan hulle pryse ekstra duur gemaak.

Die geldwisselaars het dieselfde gedoen en ook die mense uitgebuit. Daar was ‘n reël dat slegs Joodsegeld gebruik mag word vir die betaling van die offergawes aan die Here (Eks. 30:13). Hierdie geldwisselaars het dan ‘n ekstra fooi gevra vir elke geldwisseling. So is die reisigers wat van vêr af gekom het mislei en beroof.

Verder het die handelaars en geldwisselaars die voorhof so vol gestaan dat daar nie eens plek was vir aanbidding nie. Dit terwyl die voorhof spesifiek so ingerig was dat die heidene God daar kon aanbid.

So het die Heilige Tempel, wat veronderstel was om ‘n huis van gebed vir alle mense te wees, ‘n rowersnes geword.

In plaas van aanbidding, is handel gedryf. M.a.w. die fokus was nie op aanbidding nie, maar op hoeveel geld hulle by die geleentheid kon maak. Ten spyte van die duidelike voorskrifte van die Here, het die Jode self besluit hoe hulle God wil aanbid.

Hier is vir ons ook 'n duur les te leer. Ons kan ook maklik perspektief verloor deurdat ons aanbidding 'n manier word om iets te kry, in plaas daarvan dat ons saamkom om God te aanbid vir wie Hy in Homself is.

Vir predikante kan die prediking maklik 'n manier word om die gemeente te wys watter goeie prediker hy is in plaas daarvan om die gemeente in aanbidding te bring voor God.

Vir die gemeente kan kerkbywoning weer maklik 'n ontmoeting wees waar jy as persoon iets moet kry. Dalk gaan aanbidding daaroor om vir ander te wys watter goeie mens jy is. Dalk gaan jy kerk toe om potensiële kliënte te ontmoet. In al hierdie voorbeelde skuif die fokus weg van aanbidding, terwyl al die fokus op jou as persoon val.

Wat Johannes hier doen is om vir ons drie redes te gee waarom Jesus die middelpunt van ons aanbidding moet wees. Waarom Hy alleen waardig is om aanbid te word.

Hy is die Messias

In die eerste plek was die reiniging van die tempel, die vervulling van Maleagi 3:1-3. Daardie gedeelte kyk vooruit na die Messias wat sal kom om die volk se manier van aanbidding te reinig.

In vers 16 staan dat Jesus verwys na God as sy Vader. Daarmee verklaar Johannes Jesus se Goddelike kindskap en dat Hy die Messias is. Hy is die een waarvan die Profete geskryf het en wat nou eindelik na die wêreld gekom het. Hy is die vervulling van die profete se boodskap en daarom is Hy waardig om aanbid te word.

Hy dra ons straf op Hom

Die tweede rede waarom Jesus die fokus van aanbidding moet wees, is die volgende woorde, "Die liefde vir u huis, verteer my."

Paulus haal dieselfde vers aan in Romeine wanneer Hy sê:

“Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.”” (Rom. 15:3)

Die straf wat ons verdien, het Christus in ons plek gedra. Met sy bloed het Hy vir ons betaal en daarom is Hy waardig om die fokus van ons aanbidding te wees.

Hy oorwin die dood

Die derde rede waarom Jesus waardig is om die fokus van ons aanbidding te wees, kry ons in sy woorde:

“Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” (Joh. 2:19)

Vers 21 wys ons dat die dissipels eers later besef het dat Jesus hier van sy liggaam praat wat afgebreek sal word en na drie dae uit die dood sal opstaan. Jesus het in ons plek die onmoontlike, moontlik gemaak. Hy het die dood oorwin. Die straf op ons sonde is die dood en die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het, wys dat Hy die prys volkome betaal het.

So kom wys God ons in Jesus dat Hy alleen waardig is om aanbid te word. Hy het die mag om ons te reinig van al ons sonde en Hy het die mag oor die dood.

Aanbid Hom, want Hy is waardig!!

28 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page