top of page

Leef in die belofte van God

Writer's picture: Dr. PJ de BruynDr. PJ de Bruyn

Teks: Genesis 25:1-6

Hierdie gedeelte beklemtoon twee belangrike sake. Eerstens dat Abraham vasgegryp het aan die belofte van die Here dat Isak 'n groot nasie sal wees, en tweedens dat dit ook die vervulling van die belofte, dat baie nasies uit Abraham sou voortkom, is.

As gelowiges is dit belangrik dat ons ook moet vashou aan die beloftes wat die Here aan ons en ons nageslag maak. Ons moet in die werklikheid van daardie belofte leef al is dit nog nie ten volle vervul nie.

Die probleem is dat ons vashou aan die beloftes wat die wêreld aan ons maak en ons soek ons waardigheid en voorspoed daarin. Die wêreld se beloftes lyk egter altyd beter as wat dit op die ou end is en laat ons agter met groot leegheid en teleurstelling.

Dink byvoorbeeld aan pornografie. Dit lyk dalk na ‘n goeie opsie om vervulling in te kry, maar nadat jy jouself daarin verlustig het, voel jy vuil en leeg.

Netso kan dit vir jou lyk asof jy vervulling en waardigheid sal kan kry deur harde werk, net om later teleurgesteld te staan omdat al die harde werk nie vir jou gegee het waarna jy eintlik gesoek het nie.

So gebeur dit ook dat ons uitsien na ‘n heerlike vakansie net sodat dit glad nie afloop soos beplan nie. Dit laat jou met ‘n gevoel van onvergenoegdheid agter.

Wanneer Jesus ons as sy volgelinge roep, dan wys Hy ons presies wat ons moet verwag. Hy sê dat wanneer ons Hom volg moet ons weet dat ons ons kruis sal moet opneem, onsself moet verloën en Hom moet volg. Dit sal 'n moeilike pad wees om te loop, maar dit loop uit op die heerlikste vervulling. Ons sal ewig in die heerlike teenwoordigheid van God wees.

Deur Jesus se kruisdood loop Hy ook hierdie pad vir ons vooruit. Net soos die Vader Hom na die wêreld toe gestuur het, so stuur Hy ons ook (Joh. 17:18). Die wêreld haat ons omdat ons nie tot die wêreld behoort nie (Joh. 17:14).

Net soos Jesus egter uit die dood opgestaan het en verheerlik is, so sal ons ook verheerlik word na hierdie lewe. Dit is die verbond (doop) wat God met ons sluit en waaraan ons met alles in ons moet vashou. Daarom sê Paulus ook:

“En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.” (1 Kor. 8:5-6)

Daar is niemand soos ons Here en Verlosser nie.

Daarom beteken dit ook dat ons ons lewe moet beplan met hierdie einddoel in gedagte. Abraham het geleef asof dit reeds 'n werklikheid was. Net so moet ons ook leef asof ons reeds verheerlik is. Ons is immers reeds kinders van God.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter valse belofte tot vervulling of waardigheid is daar nog in jou lewe waaraan jy vashou?

b) Dink na oor die heerlike beloftes van vervulling en waardigheid wat jy in Christus kry.

23 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


©2020 by Paul Jacobus de Bruyn. Proudly created with Wix.com

bottom of page