top of page

'n God wat hoor…

Teks: Genesis 21:8-21

Die spanning tussen Sara en Hagar bereik 'n hoogtepunt wanneer Ismael vir Isak lag. Daarom eis Sara dat Hagar en Ismael weggestuur word.

Hoewel Abraham baie sleg gevoel het daaroor, het God hom die gerustheid gegee dat hy kan toegee aan die versoek van Sara, omdat Hy vir Ismael 'n groot nasie sal maak.

Wanneer Ismael en Hagar se water in die woestyn opraak, sit Hagar die kind onder 'n boom en sy gaan 'n ent verder omdat sy nie wil sien hoe die kind sterf nie. Sy sien niks meer verder as die dood nie.

Dit herinner die leser aan die vorige keer wat Hagar van Abraham af weggeloop het (vgl. Gen. 16). By daardie geleentheid was Hagar nog net swanger met Ismael. Die Engel van die Here het daar in die woestyn aan haar verskyn en haar beveel om terug te gaan na haar eienares toe en wanneer die kind gebore word moet sy hom Ismael (God hoor) noem. God het ook aan haar die belofte gemaak dat Hy haar nageslag so baie sal maak dat dit te veel sal wees om te tel. God het aan haar ‘n toekoms gegee.

Wat nou opvallend van hierdie gedeelte is, is dat dit juis op die gehuil van die seun is wat God antwoord. God het hom gehoor (Ismael = God hoor) en daarom roep Hy uit die hemel na Hagar (vgl. vs. 17).

Tot nou toe het Hagar in die sekuriteit van Abraham se besittings geleef en nou is sy skielik van daardie sekuriteit gestroop. Skielik lyk die toekoms nie meer so rooskleurig soos voorheen nie. Daarom skiet Hagar se gemoed vol vrees (vgl. vs. 17).

Hoor dan hoe troos die Engel vir Hagar. Hy sê: “Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.” (Gen. 21:18) Die Here gee vir Hagar ‘n nuwe toekoms en daarom kry sy krag om op te staan.

As gelowiges kom ons ook, soos Hagar, soms in die woestyn dele van die lewe te staan. Plekke waar ons alle hoop verloor. Ons sien geen toekoms nie en daarom is die versoeking groot om ook moed op te gee.

Ongeveer 15 jaar gelede het die Here vir Hagar beveel om haar kind wat gebore sal word, Ismael te noem. Elke keer wat sy in daardie 15 jaar hierdie kind se naam gesê het, het sy gesê, "God hoor."

Daarom is dit so merkwaardig dat wanneer hulle hier in die woestyn sit en die kind huil, daar gesê word dat ‘God gehoor het’.

As gelowiges het ons soveel meer troos as Hagar. In Jesus sien ons dat God ook vir ons hoor. Hy stuur vir ons 'n middelaar wat vir ons ‘n heerlike toekoms bewerk.

Ons einde is nie die dood nie, want Jesus was bereid om die dood te sterf wat ons verdien om te sterf, sodat ons die ewige lewe saam met Hom kan ontvang.

God het ons gehoor en aan ons die Lewende water voorsien. Ons het hierdie heerlike hoop in Hom.

Moet daarom nie hoop verloor nie. Hou vas aan die God wat in beheer is van die toekoms en ons gebede hoor.

Ons het 'n Vader wat ons liefhet en daarom staan ons toekoms vir altyd vas in Hom.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat maak jou bang vin die toekoms?

b) Hoe gee die verlossing van Christus vir jou troos ten opsigte van die toekoms?

26 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page