Teks: Genesis 26:1-22
Hierdie gedeelte wys hoe die Here vir Isak geseën het. Hy het nie net aan hom materiële voorspoed gegee nie, maar die Here was ook by hom in alles wat hy gedoen het. Daarvan getuig die putte wat hy gegrou het. Dit is tog opvallend dat elkeen wat hy grou, water gehad het.
Hierdie voorspoed wat hy uit die Here se hand ontvang het, het gemaak dat die mense van daardie land jaloers geraak het op hom. Die gevolg was dat hulle die putte toegestop het.
Dit was ‘n baie vyandige ding om te doen, aangesien dit ‘n land is waar mense uiters afhanklik is van die waterbronne.
Boonop staan daar ook in vers 14 dat Isak troppe kleinvee en grootvee gehad het. Dit beteken dat Isak hoogs afhanklik was van hierdie waterbronne.
Wat dan wel opvallend is, is dat Isak nie baklei oor die saak nie. Selfs al het hy baie slawe gehad en moontlik sterk genoeg was om oorlog te kan maak, het hy besluit om aan te beweeg. In vertroue op die Here het hy die skuif gemaak.
Isak sou kon sê dat dit sy grond is. Hy het dit immers by sou pa geërf. Hy het baie tyd en energie daarin belê. Maar daar is iets anders in Isak se reaksie. Hy vertrou nie die plek nie, maar die God aan wie alles en almal behoort.
Hy grou putte totdat hy by die put kom wat hy in Hebreeus, Rehoboth noem. Dit beteken, ruimte. Hy noem die put ruimte omdat dit die ruimte is wat die Here vir hom gee om in te leef.
Na al die werk om die putte te grou sou mens kon dink dat hy op sy reg sou wou staan om die putte te behou. Wat Isak wel doen is dat hy die Here vertrou om vir hom die ruimte te gee soos Hy goeddink.
Ons leef in ‘n soortgelyke situasie met grondgrype wat aan die orde van die dag is. Jaloesie van mense, maak dat hulle dit vir jou moeilik maak om te leef. Moet jy dan in eie krag die wapen optel of moet jy glo dat die Here vir jou ‘n “Rehoboth” sal gee?
Ons sal net kan vertrou dat die Here aan ons die nodige ruimte sal gee om in te leef, indien ons sien dat Jesus ons ruimte is. Ons toekoms is nie vasgeanker in tydelike goed of ‘n plek nie. Ons lewe is nie afhanklik van daardie werk, grond, mense of besittings nie. Ons het ‘n waterbron ontvang wat lewe gee. Daarom sê Jesus:
“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:37-38)
As gelowiges weet ons dat ons toekoms in Jesus Christus vasstaan. Dit maak nie saak wat mense van ons weg vat nie, ons geloof staan ewig vas in Christus. Hy het vir ons ‘n ruimte gegee waarbinne ons ewig kan leef. En Hy het ‘n duur prys daarvoor betaal!!!
Hy het daardie heerlike ruimte, die huis van God, verlaat en na die aarde toe gekom. Hy is, uit jaloesie, verneder en gespoeg en gekruisig. Hy is selfs van sy klere beroof sodat ons die heerlike vooruitsig mag hê om eendag saam met Hom in daardie ruimte te mag leef. In die heerlike teenwoordigheid van God.
Ons moet daarom nie vaskyk in al die putte in ons lewe wat toegestop word nie. Dit maak ons negatiewe en het ‘n verlammende effek op ons geloofslewe. Hou jou oë op die ewige lewe. Niemand kan ons daardie heerlikheid ontneem nie.
Daarom skryf Paulus ook:
“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” (Kol. 3:1-3)
Hierdie verborgenheid in God, is die ruimte waarop elke gelowige sy hoop moet stel en waaraan ons moet vashou.
Vrae tot selfondersoek:
a) Dink aan iets wat jy van waarde geag het en toe deur mense of omstandighede van jou af weggevat is. Hoe het jy gevoel en wat was jou reaksie?
b) Wat is die troos wat jy in hierdie gedeelte gevind het?
Comments