top of page

Om die Vader in ons lewe te verheerlik

Teks: Johannes 11:1-16

Teksvers: Joh. 11:4

In hierdie gedeelte word ons 'n belangrike les geleer rondom gebedsverhoring. Die liefdesband wat daar tussen Jesus en Lasarus was, word aan ons bekend gemaak in vers 3. Dit word ook beklemtoon in vers 5 as daar staan, dat Jesus hulle liefgehad het.

Dit is baie belangrike agtergrond vir wat dan gebeur, want Jesus bly opsetlik nog twee dae voor Hy die reis na Judea begin. Hierdie suster versoek Jesus om dringend te kom, maar Hy vat sy tyd. Menslik gesproke sal ons daaruit die afleiding wil maak dat Jesus nie so lief vir hulle is soos hulle gedink het nie of dat Jesus dalk hulle versoek afwys.

Ons voel ook dikwels so oor gebedsverhoring. Ons pleit en vra maar niks gebeur nie of dinge verloop heel anders as waarvoor ons gevra het. Dit is dan vir ons moeilik om te verstaan waarom dit gebeur en waarom die Here dit toelaat.

Een rede waarom ons dit nie altyd verstaan nie, is a.g.v. ons eie selfsugtige begeertes. Ons wil hê dat die Here na ons moet luister. Nog 'n rede waarom dit vir ons moeilik sal wees om te aanvaar is ons eie hoogmoed. Ons dink dat ons beter weet of dat ons alles weet, terwyl ons hier geleer word dat die Here se wil baie dieper is as wat ons verstand ooit kan begryp.

Jesus kom nie dadelik nie omdat Hy Lasarus uit die dood moet opwek.

Ons weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie. Hoe kan ons dan ooit dink dat ons weet wat die beste is?

Jesus se gesprek met die dissipels is baie insiggewend. Ons kry hier ten minste twee redes waarom ons nie moet verwag dat God vir ons altyd moet gee wat ons in gebed van Hom vra nie.

1. God se heerlikheid moet bekend gemaak word (vs. 4).

Deurdat Jesus nie na hierdie susters toe gaan op die tyd wat hulle gevra het nie, kon die Seun van die mens verheerlik word. Indien ons ons eie selfsugtige begeertes wil bevredig, is ons doel eintlik om onsself te verheerlik.

Wanneer ons egter die genade en liefde van God in Jesus se verlossing verstaan, sal ons besef dat ons lewe nie oor onsself moet gaan nie. Ons is ons lewens aan God verskuldig, daarom moet ons Hom in alles verheerlik.

2. Daar is net 12 uur (vs. 9-10)

Die beeld wat Jesus hier gebruik dui daarop dat daar slegs 'n sekere hoeveelheid uur in die dag is waarin jy jou taak kan verrig. Net so was die uur van Jesus se sterwe naby en daarom moet Hy die tyd gebruik om sy taak as Middelaar te voltooi. Dit ten spyte van al die hindernisse en gevaar wat sy lewe bedreig.

Net so moet ons nie fokus op alles wat nie gebeur soos ons dit wil hê nie. Ons moet eerder fokus op die taak wat die Here vir ons gee om te voltooi.

Ons kan hierdie taak voltooi omdat ons die geestelike lig het wat Jesus aan ons kom gee het. Deur hierdie lig, wat ons geloof in Jesus aan ons verskaf, sien ons dat die pad wat God vir ons bepaal het, oop lê. Die pad is oop omdat Jesus namens ons deur die dood gegaan het.

Moet daarom nie fokus op wat jy vra en nie kry nie. Hou jou oë gevestig op Jesus. In sy verlossing sien ons dat God se naam verheerlik word selfs deur iets soos die dood. Hy gee die uitkoms maar op ‘n groter en heerliker manier as wat ons ooit sal kan dink. Werk daarom doelgerig om sy naam in jou lewe te verheerlik.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat is die rede waarom jy soms worstel met gebede wat nie verhoor word nie?

b) Hoe help hierdie gedeelte jou om perspektief daarop te kry?


16 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page