top of page

Ons swaarkry lewer 'n groot oes...

Teks: Johannes 12:20-36

Teksvers: Joh. 12:24

Ons kry hier te doen met Jesus se gedagtes kort voor sy dood. Jesus besef dat Hy moet sterf, maar Hy besluit om op die verheerliking wat vir Hom voorlê te fokus (vgl. vs. 23). Boonop beskryf Hy sy dood ook op 'n besondere manier. Hy gebruik die beeld van saad wat in die grond val en doodgaan voor dit kan vermeerder.

Ons sien in Jesus iets van die belangrikheid van wat Paulus ook leer in Filippense as hy sê:

“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.” (Fil. 4:8-9)

Die voorwaarde vir die vrede wat in die laaste sin beloof word, is dat ons ons gedagtes op al hierdie deugde van God moet rig.

Ons doen dikwels presies die teenoorgestelde en dan wonder ons hoekom ons so angstig en moedeloos raak.

Ons fokus op al die slegte dinge wat rondom ons gebeur. Ons maak ons gedagtes vol met al die negatiewe nuusberigte en word beïnvloed deur die negatiwiteit van mense rondom ons. Die gevolg sal wees dat ons woorde, dade en gedagtes negatief is. Ons sal nie hierdie vrede ervaar nie.

Jesus het nie in al die negatiewe dinge vasgekyk nie. Hy het verby die dood gekyk na die verheerliking wat vir Hom voorlê. Hy hou vas aan die uitkoms wat van die Vader sal kom.

Kom ons kyk waarop ons ons gedagtes moet rig in moeilike omstandighede.

1. Vertrou God (vs. 24)

Net soos 'n koringkorrel eers moet sterf om 'n groot oes te lewer, gebeur dit ook dikwels in ons lewens. Slegte goed gebeur sodat daar 'n groot oes kan wees. Ons moet daarom die Vader vertrou, omdat ons weet dat die oes deur Hom bepaal word (vgl. Hand. 17:26; 1 Kor. 15:38).

Daar is ook nie ‘n beter bewys van God se beskikking as in Jesus nie. Sy sterwe lei tot 'n heerlike oes. Sy dood maak dat ons kan lewe. Soveel te meer, sal die Vader ook die swaar in ons lewe gebruik sodat dit 'n ryk oes oplewer in sy koninkryk. Geen swaarkry is vir die gelowige verniet nie. Swaarkry vorm ons en lei ons tot geestelike rypheid (vgl. Jak. 1:4)

2. Verheerlik die Vader (vs. 28)

Jesus wil nie bid dat die Vader Hom uit daardie moeilike uur moed red nie, want Hy besef dat dit juis vir daardie uur is wat Hy gekom het. Daarom bid Hy eerder dat die Vader verheerlik moet word.

Net so moet ons ook gewillig wees om ons lewe te gee in diens van Christus omdat ons Hom bo onsself liefhet. Ons is immers hier op aarde om Hom deur ons lewe te verheerlik.

Net soos Hy ons bo Homself liefgehad het en bereid was om vir ons te sterf, so moet Sy liefde ons nou motiveer. Sy heerlike liefde moet ons motiveer om ten spyte van die moeilike uur bereid te wees om Hom in ons lewe te verheerlik.

3. Rig jou gedagtes op die eindpunt (vs. 26)

Net soos Jesus, moet ons ons gedagtes op die eindpunt rig.

Hoor die mooi belofte wat Jesus hier aan ons maak. Hy sê dat as ons Hom dien, die Vader ons sal eer. Ons sal die heerlike genade ontvang om kinders van God te wees. Ons sal die eer ontvang om ewig in sy teenwoordigheid te wees. Dit is die hoogste prys wat ons kan ontvang.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n geleentheid waar jy in so moeilike situasie was, maar wanneer jy vandag terug kyk sien jy ‘n groot oes.

b) Wat leer hierdie gedeelte jou oor hoe jy so moeilike situasie moet hanteer?

37 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page