top of page

Verwerping wat lei tot ewige heerlikheid

Teks: Johannes 12:37-50

Teksvers: Joh. 12:42

Johannes noem in hierdie gedeelte dat daar van die lede van die Joodse Raad was, wat tot geloof in Jesus gekom het.

Die hartseer van hulle geloof, was dat hulle verkies het om stil te bly oor dit waarin hulle glo. Hulle het stil gebly omdat hulle bang was dat die Fariseërs hulle uit die sinagoge sou verban.

Hulle het dus verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God (vgl. 43). Hulle het nie kans gesien om deur die leiers en die volk verwerp te word nie. Daarom was hulle nie bereid om openlik hul geloof te bely nie. Die eer van mense was belangriker as die eer wat hulle van God kon kry.

Die vraag waarmee ons deur hierdie gedeelte gekonfronteer word, is of ons bereid is om openlik te bely wat ons glo ten spyte van die mense se reaksie.

Dit gebeur so maklik dat ons verkies om aan posisies vas te hou eerder as om op te kom vir die waarheid. Net so kan ons dalk ook bang wees dat mense ons sal spot of dalk sal verwerp oor ons sienings. Daarom doen ons wat mense van ons verwag al is dit verkeerd. Ons bly stil oor onreg wat voor ons oë plaasvind.

Dit is ook een van die groot redes waarom ons leuens vertel, want die persoon moet tog net nie sleg van my dink nie... Ek sal my werk verloor... Die verhouding sal beëindig word. Ons wil ons eie eer en geluk beskerm in plaas daarvan om te soek na God se wil en eer.

Jesus leer ons hier dat dit wat mense van ons dink en van ons sê, nooit belangriker mag word as God se eer nie. Posisies en opinies van mense is tydelik van aard.

Daarom moet ons altyd poog om God te verheerlik. Dit is egter nie 'n maklike pad om te loop nie. Dit is 'n pad wat soms met lyding, vernedering en opoffering gepaard sal gaan maar dit loop ook uit op verhoging en verheerliking.

Die krag om hierdie pad met volharding te kan loop, lê in vers 48. Deur ons geloof in Jesus is ons reeds geoordeel. Deur Jesus se kruisdood en ons geloof is ons waardig om verlossing en die ewige lewe te ontvang. Daarin ontvang ons die hoogste heerlikheid en verhoging.

Dit is daardie heerlikheid wat ons krag is. Krag om biddend te soek en te vra na God se wil, want ons het nie meer nodig om deur mense aanvaar te word nie. Ons het reeds die hoogste eer ontvang en dit is om kinders van God te wees.

Hierdie verlossing moet jou lewe verander, anders beteken dit dat jy nog nie die heerlikheid van Christus se soenoffer verstaan nie.

In Christus sien ons dat ons kan ophou veg vir ons eie eer, want in Hom het ons iemand wat namens ons vir ons die hoogste eer verkry. Deur sy verlossingswerk skyn Hy sy lig op ons (vgl. vs. 46) en so skenk Hy ons ware vervulling en eer.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter situasie het jy al ervaar dat die eer van mense vir jou ‘n groter rol gespeel het as die eer van God?

b) Hoe bemoedig hierdie gedeelte jou om jou verhouding met God eerste te stel?

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page