top of page

Ons eenheid as kerk is getuienis in die wêreld

Teks: Johannes 17:13-26

Teksvers: Joh. 17:21

Hierdie gedeelte wys ons daarop dat eenheid die sigbare teken van God se teenwoordigheid is. Dit is ‘n Sigbare eenheid wat onder gelowiges moet wees (vs. 21-23, vgl. ook Ef. 4).

Die hartseer werklikheid is dat die kerk nog dikwels sukkel om hierdie eenheid in woord en daad uit te leef. Ons sien dit in rusie wat daar onderling is. In kerke wat deur mense uitmekaar geskeur word. In families wat so hardvogtig is dat hulle weier om versoening na te jaag.

Die onderliggende rede vir al hierdie onenigheid is die sonde wat Jesus in die vorige hoofstukke van Johannes aangespreek het. Sonde soos jaloesie – jy kan dit nie hanteer dat ander iets het wat jy nie het nie (Jon. 3:22 e.v.). Hoogmoed - jy dink dat jy beter weet en daarom wil jy hê dat almal moet doen wat jy sê (Joh. 5:18 e.v.; Joh. 7:45 e.v.). Selfsug - jy dink net aan jou eie behoeftes (Joh. 13:18 e.v.).

Wat het hierdie sonde in gemeen? Die feit dat die persoon wat die sonde doen wil hê dat alles in die lewe rondom hom moet draai. Hy wil soos God wees.

Dit is daarom belangrik om te sien waarvoor Jesus hier vir ons voorbidding doen. Dit waarvoor Jesus hier vra, gee ons krag om teen die sonde in ons lewe te stry sodat ons eenheid duidelik sigbaar kan word.

1. Een in doel (21)

As gelowiges moet ons in gemeenskap met God lewe. Dit beteken dat ons sy doel in ons lewe moet nastreef. Ons moet ons toewy aan Hom en nie elkeen aan sy eie behoeftes en selfsugtige begeertes nie.

Daar is net een Herder, Jesus, en die skape moet Hom volg (Joh. 10). Daar is net een wingerdstok waaraan al die lote vas is (Joh. 15). Ons moet almal ons voeding in Christus kry en daarom sy wil nastreef.

In die verband sê Jesus dan dat Hy ons na die wêreld stuur, net soos die Vader Hom gestuur het (Joh. 17:18). As gelowiges het ons hierdie gesamentlike doel. Dit is een doel wat ons moet nastreef en dit sal maak dat ons as eenheid kan funksioneer. So loop ons almal in een rigting agter Jesus aan.

2. Een in heerlikheid (22)

Die heerlikheid waarna in vers 22 verwys word is 'n tipe beloning wat Jesus ontvang het na sy vernedering, lyding en dood. 'n Heerlikheid wat Hy ook aan ons gee. Ons weet nie presies wat hierdie heerlikheid is nie, maar die Bybel gee vir ons 'n vae idee.

Paulus beskryf dit as die feit dat Christus in ons is:

“God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.” (Kol. 1:27)

Ander teksgedeeltes wat vir ons iets beskryf rondom die heerlikheid is:

1 Petrus 4:6 – Ons sal ewig lewe soos God. Filippense 3:21 – Ons sal 'n verheerlikte liggaam hê. 1 Johannes 3:2 - Ons sal soos Jesus wees. 2 Kor. 3:18 - die krag van die Gees maak dat die heerlikheid wat uit ons straal steeds toeneem.

Ons sien nou maar klein deeltjies van hierdie heerlikheid, maar die vooruitsig daarvan om die volle heerlikheid in te gaan, maak dat ons as gelowiges saamgebind word tot eenheid.

3. Een in liefde (23)

Hoewel die Heilige Gees nie hier genoem word nie, is sy werk in die verband onvermydelik. Hy werk in ons as gelowiges en bind ons saam. Deur Hom is ons ook in Christus en in die Vader.

So deel ons almal in hierdie liefde van die Vader. Liefde wat sigbaar word deur die soenverdienste van Jesus Christus. Die Heilige openbaar aan ons die heerlikheid van hierdie liefde wat ons in Christus ontvang en daarom bind hierdie liefde ons ook verder saam tot ‘n onbreekbare eenheid.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat dink jy is ‘n groot bedreiging vir die eenheid van die kerk?

b) Hoe help hierdie gebed van Jesus om ook daardie bedreiging teen te staan sodat die poorte van die hel nie die kerk kan oorweldig nie?

42 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page