top of page

Ons het ‘n heerlike deel ontvang

Teks: Genesis 25:19-34

Die verskil tussen die twee seuns word hier beklemtoon. 1) Esau is die stamvader van Edom terwyl Jakob die stamvader van Israel is. 2) Esau is 'n sterk en ywerige jagter terwyl Jakob rustig is en by die huis bly. 3) Esau word voorgetrek deur sy pa en Jakob deur sy ma. 4) Esau is die eersgeborene wat geregtig is op twee derdes van die erfporsie terwyl Jakob net geregtig is op 'n derde.

Menslik gesproke was alles in Esau se guns. Maar dan maak hy 'n keuse wat sy toekoms ewig verander. Hy ag sy reg as eersgeborene so gering dat hy dit vir 'n pot lensiesop verruil. Die mooi deel wat hy van God ontvang, gee hy weg. Hy ag dit as vanselfsprekend.

Dit laat mens dink aan ons eie lewens. Hoe ons kyk na die deel wat die Here vir ons gee. Ag ons dit nie dalk ook as vanselfsprekend nie?

Jou geloof is 'n mooi en kosbare deel wat die Here aan jou skenk met die doop as teken. Daar is 'n duur prys daarvoor betaal. Jesus het sy lewe vir jou afgelê sodat ons kinders van God kan wees.

Wat maak ons met hierdie heerlike geskenk? Ag ons dit dalk as vanselfsprekend en verruil dit sodra ons honger of lus is vir iets? Verkoop ons dit vir daardie buite-egtelike verhouding of dalk vir daardie hoë pos?

Ons sal net erns maak met hierdie heerlike deel wat ons uit genade ontvang het, indien ons rekening hou met die kosbaarheid van hierdie geskenk wat ons in Christus ontvang het.

Dit was ook die rede waarom Jesus die gelykenis van die skat wat in die veld gevind is, vertel het (vgl. Matt 13:44). Die persoon is so in sy skik met daardie skat dat hy alles verkoop om die grond te kan koop waarop hy die skat gevind het.

Ons moet sien en verstaan wat hierdie heerlike genade, van om kind van God te wees, beteken en daarom is hier veral drie dinge wat ons wys op die heerlikheid van hierdie deel wat ons in Christus ontvang het.

1. Toekoms

In Christus kry ons 'n heerlike toekoms. Hierdie toekoms hou nie vas aan die tydelike maaltye en besittings wat ‘n oomblik duur en dan ewig verby is nie (vgl. Gen. 25:34). Ons ontvang ‘n ewige lewe omdat Christus bereid was om die vloek van die sonde in ons plek aan die kruis te dra. Ons ontvang die voorreg om kinders van God te wees.

2. Ons is sterk al is ons swak

In die wêreld se oë was Jakob die swakkeling. Hy bly by die huis terwyl sy broer die kos op die tafel sit (vgl. Gen. 25:28). Daarom ook dat sy pa vir Esau voorgetrek het.

Die Here kyk egter nie na hierdie uiterlike dinge waarna die wêreld kyk nie. Hy kyk na die hart. Die hart wat in opregtheid soek na God se wil vir die lewe. 'n Hart wat weet dat jou toekoms nie van jou eie krag afhang nie, maar van God se genade en alvermoë.

3. God bepaal wat jy kry

Die wêreld het allerhande maniere en gebruike van doen, maar die Here steur hom nie daaraan nie.

In die wêreld se oë word Jakob as die “hakskeengryper” of bedrieër gesien, en ook so genoem. Maar God kyk verby sy swakheid en roep hom tot die vader van die verbondsvolk. Hy word Israel genoem (vgl. Gen. 32:28).

Verder ontvang hy, as gevolg van sy posisie in die gesin, net ‘n klein deel as erfporsie, maar God ag hom so hoog dat hy ‘n volle deel ontvang. Hy word gekies tot redding en die wêreld kan niks daaraan doen nie.

Net so word ons erfenis nie bepaal deur wat mense van ons dink nie, maar deur God wat aan ons ‘n volle en heerlike deel in Christus skenk.

Moenie hierdie mooi deel wat jy uit genade van God ontvang het, gering of vanselfsprekend ag nie. Dit is ‘n mooi deel wat ons met groot verantwoordelikheid moet gebruik. Moenie dit verruil omdat een of ander aardse lus jou pak nie. Beskerm hierdie heerlike deel met jou lewe.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat het jy al in jou dwaasheid verruil (sonde/ongehoorsaamheid) vir hierdie goeie deel wat jy ontvang het?

b) Wat staan vir jou in hierdie gedeelte uit oor die deel wat jy in Christus ontvang het?

29 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page