top of page

Ons perspektief op die dood

Teks: Genesis 25:7-11

In plaas daarvan dat daar in vers agt staan dat Abraham gesterf het, staan daar letterlik in vers agt dat Abraham by sy volksgenote versamel is. Daarom vertaal die Ou Afrikaanse Vertaling die vers soos volg:

“Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.” (Gen. 25:8)

Hierdie uitdrukking wys nie so seer daarna dat Abraham se liggaam neergelê is by sy geliefdes in die familiegraf nie, maar in besonder verwys dit daarna dat sy siel verenig is met hulle siele in die ewige lewe.

Dit herinner ook aan Jesus wat sê:

“Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.” (Matt. 8:11)

Vir die gelowige is die dood nie alleen die einde van leeftyd nie, maar dis in besonder ook die begin van 'n nuwe seisoen.

Ons is dikwels so oorweldig met dit wat ons hier sien en beleef dat ons perspektief verloor. Die dood van 'n geliefde gooi ons so maklik van koers af. Ons kyk vas in ons verlies in plaas daarvan om deur die geloof na die lewe te kyk.

Daarom is dit belangrik om te sien dat ons hier twee belangrike perspektiewe geleer word rondom die dood. ‘n Perspektief wat ook duidelik word in Paulus se woorde wanneer hy sê:

“…want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (Fil. 1:21)

Leef 'n vol lewe!

As gelowiges is dit belangrik dat ons 'n vol lewe leef.

Om ‘n vol lewe te leef beteken dat ons met alles in ons, ons roeping probeer uitleef. Abraham het alles in sy vermoë gedoen om in hierdie genadeverbond wat God met hom opgerig het te leef. Dit is ook wat ‘n vol lewe gee. Dit is ‘n lewe in volle vertrou op God. Daarom gaan die “vol lewe” nie oor materiële seën nie, maar eerder oor die feit dat ons in die hoop en genade wat ons uit die Here se hand ontvang, moet leef.

Jesus is vir ons ‘n goeie voorbeeld. Al het Hy net ongeveer 32 jaar geleef, was sy lewe ook vol. Sy lewe was vol omdat Hy met alles in Hom gesoek en gevra het na die wil van sy Vader. Hy het alles gedoen wat van hom verwag is en dit om ons te red!!

Hierdie redding in Christus gee ons oorvloedig rede om ons hele lewe aan Hom te wy. Daarom skryf Paulus:

“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (Rom. 12:1)

Ons moet biddend soek en vra na die wil van die Here. Dis die wesenlike van die godsdiens en daarom die manier hoe ons ‘n vol lewe leef.

Leef met die wete dat die dood ‘n wins is

Ons het soveel meer rede as Abraham, om met die hoop op vereniging van geliefdes te leef omdat Jesus reeds die prys van versoening betaal het. Sy dood en opstanding is die bewys daarvan dat ons ook eendag in ons dood met ons geliefdes verenig sal word.

Daarom sê Jesus ook vir die misdadiger aan die kruis: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:43)

Die dood is nie meer vir die gelowige ‘n vyand nie, want Jesus het die dood oorwin.

Gebruik elke dag om Christus te verheerlik. Ja, in lewe en in sterwe.

Vrae tot introspeksie:

a) Hoe verander of bevestig hierdie gedeelte jou perspektief op die lewe en die dood?

b) Watter troos vind jy in hierdie gedeelte rondom jou dood?

56 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page