top of page

Oorkom die sonde met Christus se liefde

Teks: Genesis 20:1-18

Hierdie verhaal is so ironies want Abraham probeer homself beskerm deur te jok oor sy huwelik maar dan beland hy in baie groter moeilikheid. Die koning wil Abraham se vrou vir homself neem en met haar trou.

Abraham probeer homself dus beskerm net sodat die Here hom uit die ellende moet red. Dit is ook die Here wat sy vrou beskerm sodat die koning nie met haar geslagsgemeenskap het nie.

Abraham se vrees dryf hom daartoe dat hy, net soos in 'n soortgelyke situasie as in 12:10-20, weer die weg van leuens volg.

Mense is meer kwesbaar vir seker sondes as vir ander sonde, maar wat hierdie gedeelte wel duidelik maak is dat alle sonde gebore word uit vrees. In hierdie geval is dit die vrees vir verwerping.

Abraham is bang dat die mense van Gerar hom sal verwerp en op die einde selfs doodmaak omdat hy ‘n mooi vrou het. Die gevolg is dat hy uit vrees vir daardie verwerping, voorgee dat Sara sy suster is.

Netso doen ons ook dikwels sonde uit vrees vir verwerping. Daar is mense wat selfmoordpleeg omdat hulle bang is vir wat ander van hulle gaan dink oor dit wat hulle gedoen het. Dalk doen jy sonde in ‘n poging om deel te wees van ‘n vriendekring. Die vrees vir verwerping veroorsaak ook dat kinders by bendes betrokke raak of aan dwelms verslaaf raak. Ons vertel ook leuens met die doel om iets voor te hou, sodat mense nie sleg dink van ons nie.

Dit is alles pogings om deel te wees van iets. Pogings om iewers te behoort.

Wat interessant is van hierdie gedeelte, is om te sien hoe die Here hierdie sonde van Abraham hanteer.

Hy verskyn in ‘n droom aan die koning en sê vir hom dat Abraham ‘n profeet is en vir hom sal bid sodat hy gesond kan word.

Abraham, die dienskneg in Abimelek se koninkryk, is die profeet in God se koninkryk wat vir aardse koning sal bid en hy sal gesond word.

So wys die Here vir Abraham dat Hy tot iets baie groters hoort. God het hom deel gemaak van sy koninkryk. Hy hoef niks te vrees nie want hy dien God wat die Koning van alle konings is.

Die Here bevestig dit aan ons op ‘n nog heerliker wyse in Christus. Jesus se vyande maak Hom dood en dan oorwin Hy die dood deur op die derde dag uit die dood op te staan.

Hy het ons so lief dat Hy selfs bereid was om te sterf, sodat ons deel mag kry aan sy heerlike genade. Dit is deur hierdie genade dat elkeen van ons wat in Christus glo iewers hoort. Daarom kan Johannes sê:

“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” (1 Joh. 4:18)

As gelowiges het ons nie meer rede om te vrees nie, want ons ken hierdie volmaakte liefde van Christus.

Wanneer ons verstaan dat ons deel het aan hierdie heerlike koninkryk, sal ons dit nie meer nodig vind om sonde te doen nie want die Almagtige God het ons nie verwerp nie, maar in genade as sy kinders aangeneem.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan die laaste keer wat jy sonde gedoen het. Wat was die vrees wat jou daartoe gedryf het?

b) Hoe sal die verlossing in Christus jou help om daardie vrees te oorkom?

41 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page