top of page

Slegs deur Christus is die hemel ‘n werklikheid

Teks: Genesis 11:1-9

In vers vier word die hoogmoed van die mens duidelik sigbaar. Hulle jaag net een doel na, en dit is om vir hulleself naam te maak. Hulle gaan doelbewus teen God se opdrag in deur op een plek te bly en nie oor die aarde te versprei nie.

Hulle wil bekend raak vir dit wat hulle bereik het en daarom wil hulle 'n toring bou. Met die toring wil hulle nie letterlik die hemel bereik nie, maar eerder 'n monument bou waarmee hulle mag gekenmerk sal word. So sal hulle die eer wegneem van God.

Die mens het geglo dat die gode op bergtoppe woon. Omdat daar geen bergtoppe in daardie omgewing was nie het hulle hierdie torings gebou as ontmoetings plek tussen die gode en die mens.

Daarom word die mens hier gekonfronteer met sy eie hoogmoed. Hoe kan hy enigsins dink dat hy die verhouding tot God kan herstel? Sy pogings bring inteendeel net nog meer verwydering tussen mens en God, want dit wys op sy ongehoorsaamheid en daarom onwaardigheid om in die teenwoordigheid van God te kom.

Ons bou ook sulke torings in ‘n poging om ons verhouding met God te herstel. Ons dink dat ons goeie lewe, prestasies en sukses God se goedgesindheid sal wen.

Ons dink dat ons pogings iets beteken, net om te sien dat dit nikswerd is. Dis soos strooi wat in die vuur verbrand.

Die ironie is dat hierdie groot bouprojek wat die mens aanpak, steeds in God se oë so klein is dat Hy moet afkom na die mens toe.

Die mens is nie in homself daartoe in staat om by God te kom nie. Die sonde het hom ewig van God verwyder en ons sonde bring net nog meer hoogmoed en opstand en daarom verwydering van God.

In Christus sien ons hoe God afkom na die mens om hom te red. Ons is nie sterk of heilig genoeg nie, maar God is. Hy kom betaal vir ons sonde en maak ons deel van sy erfenis.

Ten spyte van ons sondigheid en onwaardigheid, verneder Hy Homself deur mens te word. Hy buk af om ons te red.

Daarom moet ons fokus nie wees op ons eie prestasies nie, maar op die heerlike verlossingswerk van Christus. Ons moet ons verlustig in die genade en liefde wat ons in Christus ontvang.

Vrae tot introspeksie:

a) Waar in jou lewe sien jy dat jy ook probeer om die Here se goedgesindheid teenoor jou te wen in jou eie prestasies?

b) Hoe vertroos hierdie gedeelte jou?

24 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page