top of page

Wysheid: Om Christus bo alles te begeer.

Teks: Jakobus 1:12-15

Inleiding:

Soos in die vorige twee perikope is Jakobus hier steeds besig om ons meer te leer rondom beproewing.

Jakobus wil sy leser duidelik inlig oor wat beproewing is, maar ook oor wat dit nie is nie. Hy wil nie hê dat ons aan valse idees moet vashou nie, want daardie valse leer kan afvalligheid veroorsaak[1]. Ons moet die volle wysheid hê en daarom hierdie oproep in vers 16:

“Moenie julleself mislei nie, my liewe broers.” (Jak. 1:16)

So kom ons kyk wat Jakobus ons in hierdie gedeelte leer rondom beproewing. Die eerste wat ons moet weet van beproewing is:

1. In elke beproewing is daar ‘n versoeking.

Die feit dat elke beproewing ook ‘n versoeking is, sien mense duideliker in die Griekse teks.

Die Griekse woord wat in vers twee vertaal is met “beproewing”, word in vers twaalf vertaal met “versoeking”. So, die vertalers het probeer om dit vir die leser makliker te maak deur hierdie twee begrippe.

Maar deur dieselfde woord te gebruik beklemtoon Jakobus dat elke beproewing in ‘n gelowige se lewe jou of kan versterk in die geloof wanneer jy aan God gehoorsaam is[2]. Of daardie selfde beproewing kan lei tot die dood indien jy aan jou eie sondige begeertes gehoor gee.

Jy kan of die wyse pad volg deur aan die waarheid vas te hou en dit lei tot die lewe (vs. 18) of jy kan die dwase pad volg deur aan die leuen vas te hou en dit lei tot sonde en die dood (vs. 15).

In elke beproewing, is daar dus ook hierdie geleentheid om aan jou sondige begeertes toe te gee.

Indien jy byvoorbeeld jou werk verloor en dit lei tot groot gebrek, dan sal die wysheid wat van God kom, jou daartoe bring om jou afhanklikheid nog meer in God te soek. Die beproewing vestig daarom jou oë op die voorsienigheid van die Here. En daardie beproewing laat die egtheid en opregtheid van jou geloof sigbaar word. Want, jy vertrou nie op God vir wat Hy vir jou kan gee of beteken nie. Jy vertrou Hom vir wie Hy in Homself is. Jy het Hóm lief en nie dit wat Hy vir jou kan gee nie.

Maar daardie selfde beproewing kan ook in ‘n versoeking verander.

Wanneer jy gebrek ly kan dit gebeur dat jy met dwaasheid redeneer deur jou eie begeertes eerste te stel. Dit is dan wat jy, in plaas daarvan om op God te vertrou, aan jou eie begeertes toegee deur self ‘n oplossing te soek vir die probleem.

Die gevolg is sonde. Jou begeertes maak dat jy dalk steel of leuens vertel.

So, in elke beproewing is daar ‘n versoeking.

Die tweede wat ons leer rondom beproewing is:

2. Jou eie begeertes lei jou in versoeking

Die mens wil instinktief iemand anders blameer vir sy sonde. Ons wil nie verantwoordelikheid neem vir ons sonde nie, want daardeur erken ons dat ons nie waardig is nie.

Ons is eerder geneig om met allerhande slim redenasies te wys dat ons reg was om in daardie situasie die sonde te doen[3]. Daarom is dit ook vir ons so moeilik om verskoning te vra wanneer ons iets verkeerd gedoen het. Ons probeer onsself op enige manier regverdig sodat ons nie so sleg lyk of voorkom nie.

Dit is ook die rede vir al die verskillende redenasies oor hoekom ons sonde doen.

Daar is byvoorbeeld mense wat meen dat God beproewings oor ons pad bring met die doel dat ons in sonde sal val eerder as om te volhard[4]. Die mense met wie Jakobus hier praat het ook so geredeneer, maar deur so te redeneer word God geblameer vir ons sonde.

Die Joodse literatuur maak weer ‘n onderskeid tussen God se doel met beproewings. Sy doel daarmee is om die liefde te versterk en om die goeie in mens na vore te bring. Daarteenoor gebruik die duiwel beproewings om die mens in sonde te laat val[5]. Dit is ook ‘n redenasie wat ons baie gebruik. Hierdie redenasie word sigbaar in opmerkings soos, “Die duiwel was weer lustig” of "Die duiwel sit op jou skouer."

Daarom is Jakobus se antwoord opvallend.

‘n Mens wil verwag dat Jakobus in vers 14 die skuld vir die duiwel sal gee, soos wat ons dikwels doen[6]. Maar dan kom Jakobus in vers 14 en hy stel dit baie duidelik dat ons niemand behalwe onsself kan blameer wanneer ons sonde doen nie.

Indien ons sonde doen, is dit omdat ons na ons eie sondige begeertes geluister het.

Daarom moet ons besef dat dit God is wat die beproewing oor ons pad laat kom maar dit is ons eie sondige begeertes wat maak dat ons in daardie beproewing sonde doen.

Die derde wat ons leer rondom beproewing is:

3. Begeertes lei tot die dood

Die Griekse woord wat met “begeer” vertaal word is ἐπιθυμίας. Dit verwys na ‘n groot begeerte[7], en wat interessant is, is dat ons ‘n Afrikaanse woord “epies” het wat ook verwys na iets groots. Ons praat byvoorbeeld ook van epidemie om te wys hoe groot die siekte is.

Daarom kan ons in hierdie geval dalk verwys na ‘n epiese begeerte.

Wat nou belangrik is van hierdie begeertes, is om te sien dat al die goed wat ons begeer, goeie goed is. Werk, en besittings, en verhoudings en liefde… Dis alles goeie goed, maar wanneer dit epies begeer word is dit sonde.

So, ’n begeerte word epiese wanneer jy jou identiteit rondom daardie begeerte begin bou. Jou hele lewe gaan byvoorbeeld rondom jou werk en wanneer jy dan beproef word deurdat jy jou werk verloor, weet jy skielik nie waar jy inpas nie. Skielik sit jy met ‘n identiteitskrisis, want jy het nie meer daardie titel wat jou werk vir jou gee nie. M.a.w. jou werk was ‘n epiese begeerte[8].

Of jou lewe draai rondom jou kinders en wanneer een te sterwe kom, dan soek jy iemand om te blameer. Jy kom dalk in opstand teen die Here of dit lei jou in depressie, want daardie epiese begeerte is van jou weggevat.

Hierdie epiese begeerte is daarom enige iets wat ons BY Jesus moet voeg om gelukkig of waardig te kan voel. Dis iets wat ons dink ons MOET hê!

Die realiteit hiervan sien ons dikwels in ons lewe. As dit byvoorbeeld jou epiese begeerte is om mense tevrede te stel, dan word daardie begeerte bevrug en dit gee dan geboorte aan die sonde byvoorbeeld ‘n leuen wat jy vertel om die persoon tevrede te stel. Die leuen word dan ryp, want die een leuen lei tot die volgende leuen wat jy moet vertel en dit het die dood tot gevolg. Byvoorbeeld ‘n werk wat jy verloor.

Of die epiese begeerte is om iemand te hê wat jou waardeer en bewonder. Dis epies – jy Moet dit hê! Daardie begeerte word dan bevrug en gee geboorte aan ‘n buite egtelike verhouding. Daardie sonde word dan ryp en loop uit op die dood van jou huwelik.

4. Hoe breek ons hierdie bose kringloop?

Die enigste manier hoe ons die krag van so epiese begeerte kan breek, is wanneer ons fokus verskuif na ‘n voorwerp wat selfs nog mooier is[9].

Dis wat wysheid doen. Wysheid is wanneer die Heilige Gees aan ons die volle waarheid rondom Jesus Christus bekend maak. Hy maak ons oë oop om te sien dat dit wat ons MOET hê, alleen in Christus gevind kan word. Hy maak ons oë oop sodat ons die skoonheid, liefde en prag van Christus se verlossing sien sodat ons Hom bo alles in ons lewe bewonder en daarom epies begeer.

Indien ons daarom die krag wat hierdie begeertes op ons het wil breek, moet Christus ons epiese begeerte word en daarom sê Jakobus in vers 12:

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.” (Jak. 1:12)

Jakobus noem die persoon wat getrou bly aan God, gelukkig[10]. Ons liefde vir God word deur beproewings op die proef gestel. Elke beproewing is ‘n toets of ons God nog epies liefhet. Die volharding in daardie liefde vir God, lei dan tot hierdie oorwinningsprys wat ons sal ontvang en daarom is ons gelukkig.

God se doel met beproewings is nie om ons te vernietig nie. Sy doel is om te kyk of ons Hom epies liefhet, sodat ons daardie oorwinningsprys kan ontvang. Ons moet Hom bo alles in ons lewe liefhet.

Abraham was vir ons hierin ‘n mooi voorbeeld. God het sy liefde getoets deur vir hom te vra om sy enigste seun te offer[11]. Hy was getrou en net toe Hy sy seun wou offer, sê die Here vir Hom:

“Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.” (Gen. 22:12)

Abraham het God gedien vir wie Hy in Homself is en nie omdat Hy vir Hom ‘n seun kon gee nie. Onthou ook dat Abraham eers 100 was toe hy hierdie seun wat hy moes gaan offer gekry het. Mens ou dink dat dit 'n epiese begeerte was en tog wys hy met sy dade dat Hy God bo alles liefhet.

Ons sal God net so epies kan liefhê as ons sien dat ons sonde van God verwag het dat Hy sy enigste Seun moet offer. Daarom het Hy saam met sy Seun teen Golgota opgegaan en Hom daar vir ons geoffer.

Dis hoe epies sy liefde vir ons is. Ons ontvang daardie onbeskryflike liefde van Christus as oorwinningsprys. Daarom kan ons onsself gelukkig ag!

Die gelowige het 'n vreugde wat die wêreld nooit kan hê nie. Ons het 'n koninklikheid wat die wêreld nooit sal verstaan nie, want hoe nederig ons aardse bestaan ook is, ons bly niks minder as kinders van God nie[12].

Slot:

In die mate wat ons bewus raak van hierdie epiese liefde wat ons in Jesus Christus ontvang, in daardie mate sal ons die krag kry om elk sondige begeerte te kan teenstaan[13].

Rig jou oë daarom so op die heerlikheid van God se genade in Christus.

[1] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [2] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:13). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [3] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [4] Keener, C. S. (1993). The IVP Bible background commentary: New Testament (Jas 1:13–16). Downers Grove, IL: InterVarsity Press. [5] Keener, C. S. (1993). The IVP Bible background commentary: New Testament (Jas 1:13–16). Downers Grove, IL: InterVarsity Press. [6] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 1:13). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [7] Zodhiates, S. (2000). The complete word study dictionary: New Testament (electronic ed.). Chattanooga, TN: AMG Publishers. [8] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [9] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [10] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (p. 56). Great Britain: Focus Christian Publications. [11] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1358). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [12] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (p. 57). Great Britain: Focus Christian Publications. [13] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.

26 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page