top of page

Wysheid: Om jou vreugde in God te soek!

Teks: Jakobus 1:9-11

Inleiding:

In die vorige gedeelte roep Jakobus ons op om van God wysheid te bid.

Hierdie wysheid is uiters nodig omdat ons gesien het dat ons wysheid nodig het om ook in moeilike omstandighede, ag te slaan op die verlossing in Christus. En wanneer ons ons oë so op Jesus rug, sal ons selfs in beproewing vol blydskap kan wees.

In hierdie gedeelte wys Jakobus ons nou hoe hierdie wysheid ons prakties help om nie ons waardigheid in die besit van aardse goed te soek nie, maar in ons verhouding met God[1].

Daarom leer hierdie wysheid ons twee belangrike goed van beproewings.

· Daar is net twee kategorieë van beproewings

· Daar is net een doel met beproewings.

1. Twee kategorieë van beproewings

Jakobus wys ons hier dat al die beproewings waaraan ons kan dink eintlik net in twee kategorieë gedeel kan word[2].

Die arm persoon verteenwoordig al die situasies waar ons iets verloor. Siekte, dood, diefstal… In al hierdie situasies lê die beproewing daarin dat jy gebrek ly.

Die eerste lesers aan wie Jakobus geskryf het, het gebrek gely in die sin dat hulle in ‘n samelewing geleef het waar daar ongelykheid was[3]. Hierdie mense was geforseer om uit Jerusalem te vlug en hulleself in Sirië en in die Noorde van Palestina te gaan vestig. Die meeste van hulle was daarom arm, hulle het geen posisie in die samelewing gehad nie[4] en hulle is uit hulle sosiale strukture verwyder en oor die wêreld verstrooi[5]. Hierdie omstandighede het gemaak dat hulle gebrek gely het.

En soos ons weet uit persoonlike ervaring, lei gebrek daartoe dat jy dikwels minderwaardig voel. Jy voel of jy nie goed genoeg is nie omdat jy arm is, of omdat jy dalk jou werk verloor het, of omdat jy sieklik is, of omdat jy nie so goed doen op skool nie. Omstandighede maak dat ons onwaardig voel.

Hierdie gevoel word dan ook dikwels versterk deur mense wat dit duidelik uit hul houding en opmerkings teenoor jou laat blyk. Hulle wys of sê dat hulle geen respek vir jou het nie as gevolg van daardie tekort.

Daarom wys Jakobus ons nou dat hierdie tekortkomings wat ons in beproewings ervaar, nie tekortkomings is waaroor ons minderwaardig hoef te voel nie. Die tekortkoming waaroor ons minderwaardig moet voel is as ons ‘n gebrek aan wysheid het[6].

Terwyl ons egter die wysheid het om die Here te ken en dien, het die persoon wat gebrek lei, geen rede om afgunstig of suur of minderwaardig te voel nie[7]. Inteendeel Hy moet roem in sy verhouding met die Here.

Die tweede kategorie van beproewings word deur die ryk persoon verteenwoordig. Dit verwys na al die situasies waar ons in gerief en oorvloed leef en dit is die mees gevaarlikste beproewing om in te wees[8]. Hoor hoe beskryf Jakobus dit:

“As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan.” (Jak. 1:9)

Die gevaar van hierdie situasie is dat jy nie jou geestelike nood besef voor dit te laat is nie. Voor jy verskroei is nie.

Die beproewing in dié geval waar jy gerief ervaar is dat jy geneig is om op jou eie krag staat te maak. Jy kan dink dat dit jy is wat so slim is of dat jou geld jou uit enige situasie kan red of dat dit jou skoonheid is wat jou sukses in die lewe bepaal.

Die persoon wat oorvloed het, moet daarom besef dat sy oorvloed soos daardie gras in ‘n dor woestyn is. Jy kan nie jou sekuriteit en hoop daarop stel nie, want dit kan in ‘n oogwink van jou af weggeneem word[9].

Daar is dus net hierdie twee kategorieë van beproewings. Soms word jy beproef deurdat sekere goed van jou af weggeneem word en ander kere word jy beproef deur die oorvloed wat jy het.

2. Een doel met beproewings

Jakobus leer nou ook dat die doel van beproewings alleen is om te kyk waarin ons ons vreugde soek.

In vers 9 staan dat die arm persoon hom moet verheug in die aansien wat hy van God kry.

In vers 10 staan dat die ryk persoon hom moet verheug in die krag wat hy van God kry.

In albei hierdie kategorieë word die mens opgeroep om sy vreugde in God te soek.

Die Griekse woord wat met “vreugde” vertaal is, beteken letterlik eer[10]. Daarom kan ons dink aan die eer wat jy daarin kry wanneer jy iets mooi besit of wanneer jy oorvloed het. Daardie eer wat jy ervaar maak dat jy trots is en op ‘n manier waardig voel[11].

Die gelowige met wysheid, moet hierdie waardigheid en eer in God soek en nie in jou omstandighede of rykdom of dit wat jy besit nie.

Hierdie twee stellings wys ons dus dat beide die arm en die ryk persoon op dieselfde vlak staan voor God. Albei is onwaardig en daarom moet die arm persoon sy aansien in God soek en die ryke moet sy krag in God soek.

Ons staan almal in afhanklikheid voor God. Ons is almal geestelik arm. Dis net deur die genade in Christus wat ons geestelik ryk kan word!!

So, ware wysheid is om na elke persoon te kyk in die lig van God se toekoms[12]. Ons moet besef dat ons almal sondaars is in die oë van die Here en daarom is niemand van ons waardig nie[13].

Daarom sal beide die arm en ryk persoon, wat hierdie wysheid het, hul eer soek in hierdie nederige posies voor die Here. Hulle sal hulle vreugde daarin soek dat hulle deel is van Christus en sy volgelinge[14]. ‘n Posisie wat in die wêreld se oë verag en as waardeloos gesien word. Maar die wyse persoon weet dat dit ‘n groot eer is om deel te wees van God se koninkryk.

Hierdie is ‘n baie belangrike tema wat deur die Bybel strek. In Spreuke word dit soos volg beskryf:

“Die Here breek die hoogmoedige se huis af en beskerm die grond van die weduwee.” (Sp. 15:25)

Voorbeelde hiervan is Josef wat deur die voorsienigheid van die Here, uit die vernedering van slawerny gered word en tot die hoogste posies verhoog word. Aan die ander kant kry ons weer vir Nebukadneser wat vol hoogmoed was en die grootste ryk van daardie tyd regeer het en toe verneder is deur in die veld te bly soos ‘n dier[15].

Daarom is die doel van elke beproewing om ons te laat besef dat ons waardigheid alleen in Christus is. Ons moet daarom saam met Paulus bely:

“Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Gal. 6:14)

So, hoe kry ons hierdie wysheid? Jesus gee ons die krag om albei hierdie situasies – van tekort en oorvloed – met hierdie wysheid te hanteer.

Die wêreld sien die persoon wat onderdruk word of swaarkry as arm en waardeloos, maar God verklaar daardie persoon in Christus as ryk en waardevol[16]. Ryk in genade, ryk in liefde, ryk in verhoudings, ryk in heerlikheid – want hy is kind van God.

Jesus was bereid om arm en verneder en verwerp te word sodat ons in God as sy kind aanvaar kan word.

Sien jy wat moet ons doen wanneer ons gebrek ly. Ons moet in ons gebrek identifiseer met Christus[17]. Indien Christus bereid was om ter wille van ons swaar te kry, dan moet dit vir ons ‘n groot eer wees om ter wille van Hom en in gehoorsaamheid aan Hom, hierdie lyding in die lewe te dra.

Indien jy gebrek ly en al is daar in hierdie lewe geen verandering aan daardie uiterlike situasie nie, kan jy steeds met groot vrymoedigheid jou lewe as kind van God leef.

Die gelowige wat weer in oorvloed leef, hy kry die wysheid om ten sien hoe afhanklik hy is van Christus. Hy kry dieselfde toekoms as wat die persoon wat gebrek ly omdat Jesus ons almal se sonde op Hom geneem het.

Daarom besef die persoon met oorvloed dat hy daardie toekoms alleen kan ontvang indien hy die genade in Christus ontvang. Niks wat hy in hierdie lewe bereik of besit kan aan hom die ewige lewe gee nie[18].

Ons is almal soos daardie veldblommetjies. Dit wat ons het, is vir ‘n oomblik ‘n heerlike skoonheid, maar dit is van korte duur. Wanneer die oordeel van God soos die son opkom, dan verskroei dit alles en as ons dan nie die genade en verlossing in Christus het nie, dan sal daar niks van ons oorbly nie.

Slot:

AS gelowiges moet ons nooit die fout maak om ons waardigheid te soek in aardse goed wat die wêreld gebruik om waardigheid aan te meet nie[19].

Soek jou waardigheid in Christus. Roem in Hom en jy sal sien hoe jy in tye van oorvloed en gebrek staande kan bly.

[1] Martin, R. P. (1988). James (Vol. 48, p. 24). Dallas: Word, Incorporated. [2] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [3] Martin, R. P. (1988). James (Vol. 48, p. 28). Dallas: Word, Incorporated. [4] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (p. 53). Great Britain: Focus Christian Publications. [5] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 65). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [6] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 1:9). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [7] Martin, R. P. (1988). James (Vol. 48, p. 28). Dallas: Word, Incorporated. [8] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [9] Martin, R. P. (1988). James (Vol. 48, p. 28). Dallas: Word, Incorporated. [10] Louw, J. P., & Nida, E. A. (1996). Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains (electronic ed. of the 2nd edition., Vol. 1, p. 430). New York: United Bible Societies. [11] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1926). Nashville, TN: Word Pub. [12] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1358). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [13] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (p. 54). Great Britain: Focus Christian Publications. [14] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 66). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [15] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1358). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [16] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., pp. 1357–1358). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [17] Martin, R. P. (1988). James (Vol. 48, p. 25). Dallas: Word, Incorporated. [18] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1358). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [19] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 65). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos.

30 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page