top of page

Niks is te buitengewoon nie...

Teks: Genesis 18:1-15

Hoewel Abraham in Hebreërs voorgehou word as 'n geloofsheld (vgl. Heb. 11:8-12), kry ons in hierdie verhaal van Abraham te doen met 'n ander prentjie. Ons kry hier te doen met ‘n man wie se geloof dikwels gewankel het.

Ons kan baie beter met hierdie Abram assosieer as met die een wat in Hebreërs aan ons voorgehou word.

Terwyl ons oë op die Here gevestig word, kry ons die krag om te glo, maar dis van korte duur. Alles wat om ons gebeur maak dat ons die grootheid, heerlikheid en almag van God betwyfel. Die spanning tussen geloof en ongeloof hoop op wanneer ons, dit wat ons glo, nie kan verstaan of logies beredeneer nie.

Ons luister na die woord en sien daarin die grootheid en goedheid van God, net om dan weer in wanhoop en twyfel te verval wanneer ons met die realiteit van die lewe gekonfronteer word.

Die rede vir hierdie tweestryd in ons binneste word in vers veertien aan ons voorgehou wanneer die Here vir Abraham vra:

“Is iets te buitengewoon vir die Here?” (Gen. 18:14)

Daarmee wys die Here ons daarop dat ons veel eerder ons eie logika en verstand wil vertrou as vir die Here. Dit is waar hierdie spanning vandaan kom.

Daarom is dit wonderlik om te sien hoe Christus sy Vader vertrou het. Toe Pilatus Hom oorgelewer het om gekruisig te word, het Jesus vir Hom gesê:

“U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie.” (Joh. 19:11)

Jesus het sy lewe in God se hand geplaas met die vertroue dat Hy Hom uit die dood sal opwek.

Daarom is die kruisdood en opstanding so belangrik vir ons geloofslewe. Die wonderwerke wat Jesus gedoen het en in besonder die opstanding uit die dood, wys ons dat niks te buitengewoon vir die Here is nie. Hy spreek net ‘n woord en siekes word gesond en blindes kan sien.

Daarom kan ons ook weet dat ons redding in Christus vas staan. Ook dit is nie vir Hom te buitengewoon nie.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n geleentheid waar die Here die menslik onmoontlike in jou lewe laat gebeur het.

b) Dank die Here deur jou gebed vir die Verlossing van Christus wat ook nie te buitengewoon vir Hom was nie.

63 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page