top of page

Die genade van die wedergeboorte - Joh. 1:1-18

Teks: Johannes 1: 1-18


Johannes begin in die breë beskryf hoe God alles gemaak het. Alles het deur Hom tot stand gekom (vs. 2-4) en Hy is die lig wat in die duisternis skyn (vs. 5).

Maar dan skuif Johannes sy fokus na die mens as skepsel. Die mens is presies die teenoorgestelde van God, want die mens is vol sonde. Die wêreld het hierdie heerlike en heilige God, wat die bron van lig is, nie erken nie.

En die ergste van alles is, dat Jesus na sy eiendom toe gekom het en selfs hulle het Hom nie aangeneem nie. Die Jode het Hom verwerp. Inteendeel, hulle was die oorsaak daarvan dat Hy gekruisig is. Hulle het sy dood georkestreer.

Daar is egter hoop, want God het dit so bepaal dat daar 'n groep mense sal wees, wat vir Jesus as hulle Verlosser sal aanneem. Maar dit was nie uit hulleself nie (vs. 13). Hulle moes weergebore word uit God (vgl. ook die gesprek met Nikodemus in hoofstuk 3:1-21).

Wat ons dus hier leer is dat die feit dat ons glo, nie ‘n prestasie uit onsself is nie. Ons het hoegenaamd geen rede om neer te kyk op mense wat nie die voorreg het om hierdie lig te kan sien nie. Elke mens is diep afhanklik van God se genade. Dis Hy wat aan ons ‘n weergebore hart skenk.

Die wonderlike van wedergeboorte is dat dit van binne na buite toe werk. Dit begin in die hart en dan verander dit jou dade en nie andersom nie (vgl. Sp. 4:23).

Nagemaakte wedergeboorte begin by dade, maar die hart verander nooit. Dit is wanneer jy 'n goeie lewe probeer leef uit vrees of om te wys dat jy waardig is.

Tipies van hierdie nagemaakte wedergeboorte is dat wanneer iemand jou vra of jy ‘n Christen is, jy sal sê dat jy probeer om ‘n goeie lewe te leef (die klem lê dus op wat jy doen). Jou lewe en bestemming is dan nog afhanklik van wat jy doen. Die probleem met so lewe is dat die hart nooit verander nie. Dit is alles ‘n uiterlike voorgee en daarom is die gevolg, hoogmoed. Jy sal neerkyk op mense wat nie so goeie lewe leef soos jy nie. En indien jy nie goed genoeg is na jou sin nie, sal jy voel dat jy jouself nooit kan vergewe nie.

Aan die ander kant begin die wedergeboorte in die hart, want dit kom van God. Die Heilige Gees maak jou oë oop om hierdie lig te sien. Jy sal Jesus met al die heerlike kleure van Sy liefde herken en sien.

Jou hart sal warm word, omdat jy met die onbeskryflike liefde van Christus te doen kry. Elke keer wanneer jy die woord lees of hoor hoe Jesus uit liefde vir jou gekruisig is, sal jou hart hierdie warmte ervaar.

Hierdie hartverandering/verwarming lei dan tot dade wat verander. Die egte wedergeboorte begin in jou hart en dit het dan ‘n uitwerking op jou dade. Dis dan wat die vrug van die Gees (vgl. Gal. 5:22-23), al hoe meer sigbaar sal word in jou lewe.

Die lig van Jesus se verlossing moet in ons harte inskyn deur die Woord en die Gees, want dit bring ‘n hartsverandering.

Bestudeer die woord en dink na oor die heerlikheid van jou verlossing in Jesus Christus

21 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page