top of page

Die gode van Ragel vs. die God van Jakob

Teks: Genesis 31:19-55

Ragel besluit om haar pa se afgodsbeeldjies vir haar te vat. Dit was gewoonlik beelde van verskillende grotes en naak waarvan die seksuele organe beklemtoon is.

Die doel van hierdie gode was om spesiale beskerming, erflatingsregte en vrugbaarheid te waarborg.

Daarom kan dit wees dat Ragel besluit het om hierdie gode te steel sodat Jakob erken kan word as hoof van Laban se huishouding by Laban se dood. Ragel het moontlik gevoel dat sy reg het om hierdie gode te besit, aangesien Laban vir haar en Jakob ingedoen het (vgl. Gen. 31:15).

Wat nou ironies is van hierdie gode, is dat hulle veronderstel was om vir Ragel te beskerm maar presies die teenoorgestelde gebeur. Ragel moet hulle beskerm. Sy moet hulle wegsteek onder die saal en daarop gaan sit sodat sy nie dalk doodgemaak word en in die proses van die gode beroof word nie.

Net so is daar baie goed in ons lewe wat ons verafgod. Dinge waarop ons ‘n invloed uitoefen maar tog kan dit niks aan ons bestaan verander nie. Ons wy ons lewe toe aan geld, mag, eer, ambisie, voorspoed, geluk en sukses. Ons moet hierdie gode ophef terwyl hulle nie werklik vir ons kan bied wat ons nodig het nie.

Ons dink dat daardie tjek my gaan beskerm, dat daardie vakansie vir my geluk sal bring of dat sukses my lewe sal verander.

Daarom beskerm ons dit met ons lewe. Die gevolg is dat ons in situasie beland wat ons oneerlik moet optree en so word ons onrein deur te steel, deur ontrouheid en deur leuens te vertel. Ons gee aan hierdie gode eer wat dit nie toekom nie.

Die wonderlike van hierdie verhaal is dat ons hier sien hoe anders die God van Abraham, Isak en Jakob is.

God het gesien hoedat Jakob onreg aangedoen is deur Laban en Hy het opgekom vir sy reg. Toe Laban vir Jakob agternasit om hom kwaad aan te doen, het God hom gewaarsku om mooi te dink wat hy vir Jakob sê. God tree in vir die verontregte en swakke mens.

Dit het dalk gelyk of Laban in beheer is en asof Jakob alleen is, maar Jakob was nooit alleen nie. God was by Hom en op sy tyd het Hy verantwoording geëis.

Hierdie heerlike genade sien ons ook in Christus. Hy kom sterf nie vir die wat dink hulle weet alles of wat dink hulle voorspoed lê in hulleself nie.

Jesus kom sterf vir elkeen wat hulle eie swakheid erken en hulle redding in Hom soek. Hy word ‘n slaaf (vgl. Fil. 2:7). Hy word verneder en Hy sterf sodat ons verhoog kan word. Sodat ons ewig met Hom verenig kan word.

Dis die God wat ons dien. ‘n God wat Hom oor ons ontferm. Hy kom red ons uit die slegte situasie waarin ons onsself bevind. Hy beskerm ons en Hy is rein in sy wese. Daar is geen sonde in Hom nie. Hy is daarom waardig om die eer en lof te ontvang.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter opsig kan jy assosieer met Ragel se kortsigtigheid?

b) Watter troos vind jy in die feit dat die God van Abraham, Isak en Jakob ook jou God is?

10 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page