top of page

Die goeie stryd wat gestry moet word

Teks: Genesis 32:9-32

Jakob se lewe getuig van een groot stryd met sonde. Stryd het sy lewe gekenmerk.

Hy stry van geboorte af met sy broer met die doel om voor te kom. Daarom dat hy vir Esau aan die haakskeen gryp met geboorte. Van daar ook sy naam Jakob (hf. 25-27). En daarom ruil hy ook sy broer se eersgeboortereg vir ‘n pot lensiesop.

Verder het hy ‘n stryd met sy pa om in Esau se plek geseën te word. Hy het ‘n stryd met sy skoonpa – eers om vir Ragel te kry as vrou, soos hulle ooreengekom het en dan om ‘n regverdige loon te kry vir die ekstra tyd wat hy vir hom gewerk het. Wanneer Jakob dan besluit om terug te gaan na sy vaderland, dan trek hy sonder dat hy sy skoonpa die geleentheid gee om sy kleinkinders en dogters totsiens te sê (hf. 29-31).

Dan het Jakob ook ‘n stryd met sy vrouens gehad. Hulle was die heeltyd jaloers teenoor mekaar omdat die een vrugbaar is en die ander een nie. Dit bereik dan ook ‘n hoogtepunt wanneer Rebekka vir Jakob blameer vir haar kinderloosheid (hf. 30).

In hierdie gedeelte sien ons ook hoe hierdie stryd deurwerk tot sy verhouding met God (hf. 32).

Jakob het gou agter gekom dat hierdie stryd anders is as al die ander kere in sy lewe. Daarom dring hy daarop aan om deur hierdie man geseën te word (vs. 26) en hy vra uit na die man se naam (vs. 29). Hy noem die plek ook Piniël, wat beteken “aangesig van God.”

Jakob het in die aangesig van God gekom. Dis ook die rede waarom die Here daarop aandring dat Jakob Hom moet laat gaan voor die dag breek, want indien Jakob Hom sou sien, sou hy sekerlik sterf (Eks. 20:19; Deut. 5:25; 18:16; Rig. 13:22).

Jakob se stryd met die sonde in en om sy lewe, veroorsaak ‘n innerlike stryd met God. Dit was God wat vir hom gesê het om terug te gaan na sy familie. God het hom in hierdie moeilike situasie ingelei. ‘n Situasie waar hy nou op die punt staan om sy broer wat hom wil doodmaak, van aangesig tot aangesig te ontmoet. ‘n Situasie waar hy gedwing word om sy verlede (sonde) te konfronteer.

Jakob is in vrees gedompel en daarom wyer hy om hierdie man te los voordat Hy hom nie geseën het nie.

Jakob het besef dat dit net God is wat hom uit hierdie situasie kan red, want hoewel Jakob nie hierdie Man los laat nie, het hierdie Man net aan Jakob se heup geraak en dit het uit potjie gespring. Indien hierdie man sou wou, sou Hy Jakob met ‘n asemteug vernietig.

As gelowiges kom ons ook dikwels in sulke onmoontlike situasies. Situasies waar ons nie weet na watter kant toe om te gaan nie.

Net die Here kan ons help om die konsekwensies van die sonde in ons lewe te hanteer, en wanneer ons daar wegstap, dra ons die littekens daarvan. Ons sal ook kreupel daar uit stap.

Die vraag is dan, “Aan wie gryp ons vas?”

Ons leer dus hier ten minste twee belangrike dinge:

God lei ons in en deur gevaar!

Hierdie gedeelte gee vir ons die kern van die evangelie weer. God kon Jakob in ‘n oomblik vernietig, maar Hy kies om swak te word ter wille van Jakob.

En hoe mooi sien ons dit nie in Jesus nie. Die Almagtige God, het ‘n swak en eenvoudige mens geword (Matt. 27:40-43). Jesus het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Fil. 2:5-11). Jesus was bereid om in ons plek te sterf! Dit, sodat ons gered kan word.

So sien ons dat God sy kinders in moeilik situasie laat kom, maar Hy laat ons nie alleen daardeur gaan nie. Hy sal ons ook deur daardie doodsgevaar lei en veilig aan die ander kant bring.

Ons moet verander!

Hierdie ontmoeting met God, het Jakob ‘n ewige letsel gegee, want hy was kruppel vir die res van sy lewe. ‘n Letsel wat hom daaraan sou herinner dat ‘n ontmoeting met God verandering eis. Sy lewe kan nie maar net aangaan soos voorheen nie.

Vir ons as gelowiges is dit ook ‘n belangrike les om te leer. Indien ons begeer om ‘n verhouding met God te hê, kan ons nie maar voortgaan met ons lewe sonder enige veranderings nie. God eis verandering. Daarom verander Hy Jakob se naam. Hy is nie meer Jakob wat, bedrieër beteken nie, hy is nou Israel wat beteken, stryd met God.

Hierdie stryd met God, wat Jakob bloot uit genade gewen het, dit het hom die vertroue gegee om die volgende dag uit te gaan en vir Esau te ontmoet.

Net so moet die genade wat God aan ons in Christus bewys, daardie genade moet ons ook diep raak. Ons moenie meer dieselfde na die lewe kyk nie.

Vroeër het ons dalk deur bekommernis vas gegryp aan die Esau’s wat ons lewe bedreig, maar wat van God. Indien Hy wil vernietig Hy ons in ‘n oogwink.

Gryp daarom veel eerder vas aan Hom wat jou in ‘n oogwink soos ‘n blaar kan verdroog en tog betoon Hy sy genade aan ons. Ons is tot alles instaat deur Hom wat ons krag gee. Daarom kan ons saam met Paulus tot hierdie konklusie kom:

“Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom. 8:31)

Vrae tot introspeksie:

a) Wat is die dinge wat jou in jou lewe bekommerd maak en wat is die rede agter die bekommernis? (byvoorbeeld: Ek is bang vir kanker. Die vrees word veroorsaak deur die onsekerheid, pyn en dood waartoe die kanker kan lei)

b) Watter troos vind jy in hierdie gedeelte?

33 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page