Petrus skryf hierdie brief aan mense wat hy noem, vreemdelinge in die wêreld. Niemand wil hulle hê nie. Inteendeel, hulle is verspreidwonend omdat die kerk in daardie tyd vervolg is.
Indien ons dink dat ons in moeilike en uitdagende tye en omstandighede leef, daardie mense se omstandighede was tien keer erger. Dink maar net aan die armoede, die vrees, die onsekerheid en die ongerief. Daarom is die hele doel van hierdie brief juis om daardie gelowiges te bemoedig!
En as dit vir daardie gelowiges tot bemoediging was, dan sal dit tog ook vir ons groot bemoediging in ons tyd en omstandighede inhoue.
Hoor hoe begin Petrus:
“Aan die uitverkorenes van God…” (1 Pet. 1:1)
In die wêreld se oë is hulle vreemdelinge, maar in God se oë is hulle uitverkorenes. En hierdie uitverkiesing word verder omskryf in vers 2 wanneer al drie persoon van God genoem word.
M.a.w. hierdie gelowiges is omvou in die uitverkore liefde van God die Vader, die kragtige werk van God die Heilige Gees en die reiniging van God die Seun.
So, ons kan sê: Die oorsprong van die uitverkiesing is in die Vader se liefde. Die krag van die uitverkiesing is in die Heilige Gees wat lewend maak en die genade van die uitverkiesing is in die Seun wat verlos.
Hierdie heerlikheid van God moet ons harte so deurweek dat dit die kern van ons identiteit vorm, want dis hoe God ons vertroos en bemoedig en versterk. So, kom ons oordink hierdie waarheid saam:
1. Die oorsprong van uitverkiesing is in die Vader se liefde
Die uitverkiesingsleer is vir baie mense ‘n groot kopseer omdat hulle voel dat dit onregverdig is. Hoe kan ‘n regverdige God seker mense kies en ander nie.
Daarom verklaar hulle die uitverkiesing eerder as voorsien. M.a.w. God het vooruit gesien wie gehoorsaam aan Hom sal wees en hulle word gekies. Jou uitverkiesing hang dus van jouself af.
Die probleem met hierdie siening is dat dit groot vrees in ons sal wek, want sal ons ooit goed genoeg kan wees. Verder is dit ook totaal teenstrydig met wat die woord leer, want hoe moet ons dan ‘n gedeelte soos Handelinge 13:48 verstaan:
“Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.” (Hand. 13:48)
En Jesus sê weer in Matteus 11:27:
“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matt. 11:27)
Hierin sien ons die soewereiniteit van God. Hy is Koning en daarom het Hy die volste reg om te kies wie Hy wil. As ons nie in nederigheid voor God as Koning kan staan nie, sal uitverkiesing altyd vir jou ‘n probleem wees.
Maar die Griekse woord wat Petrus hier gebruik en vertaal is met “uitverkies”, gee ook aan ons baie meer duidelikheid. Daardie woord kan letterlike vertaal word met kennis en dit wys terug na die Ou Testament waar die Here byvoorbeeld vir Jeremia sê:
“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken…” (Jer. 1:5)
In Hebreeus beteken kennis, baie meer as in Afrikaans, want daardie woord beskryf ook ‘n seksuele verhouding. ‘n Seksuele verhouding, soos God dit bepaal, is ‘n verbondsverhouding waarin twee mense hulle in liefde aan mekaar verbind. Jy word een met daardie persoon, maak nie saak wat gebeur nie. Jy besluit dus om jou liefde op daardie persoon te plaas sonder enige voorwaarde.
Daarom gaan dit nie hier so seer daaroor dat God vooruit gesien het of ons waardig is nie. Dit gaan daaroor dat God vooruit liefgehad het. Dis die groot genade waarmee ons hier te doen het. God se keuse is ten volle gebaseer op sy genade en liefde vir ons nog voordat die wêreld geskep is.
Dis met hierdie troos wat Petrus hierdie gelowiges en vir ons wil bemoedig. In die wêreld is ons vreemdelinge. Die wêreld wil ons nie kies nie, maar God het in sy groot liefde vir ons gekies.
Daarom moet ons nooit dink dat al die beproewings wat oor ons pad kom ‘n teken daarvan is dat God ons verwerp nie, dit is veel eerder ‘n teken daarvan dat ons deur God gekies is. Daarom sê Jesus:
“As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.” (Joh. 15:19)
Mense wat op die punt is om vervolg te word en wat ekonomies swaar kry en wat hartseer is oor geliefdes wat dood is, Petrus bemoedig hulle deur hulle daarop te wys dat die rede waarom Jesus gesterf het, is omdat God van voor die skepping af ‘n plan gehad het. Die hele plan bestaan daaruit dat God ons kies op grond van sy liefde.
Die wêreld haat ons, maar God het ons lief! Dis ‘n liefde sonder voorwaardes en daarom is dit ‘n liefde wat ons lewe verander, want dit gee hoop en vreugde en sekuriteit. Niks kan ons van hierdie liefde skei nie! Dit neem die twyfel weg. Elke keer wat ek sonde doen of as slegte goed met my gebeur, weet ek dat ek nie my lewe kan opmors nie ander mense kan dit ook nie opmors nie. Selfs nie my sonde kan my van God se liefde skei nie.
Die oorsprong van my uitverkiesing, is God se liefde.
2. Die krag van die uitverkiesing is in die Gees wat lewend maak
Die Nuwe Direkte vertaling vertaal dit so:
“… om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees…” (1 Pet. 1:2)
Heiligmaking is ‘n groot woord, maar dit beteken eintlik maar net dat ons afgesonder is soos die 83 vertaling dit vertaal.
Indien jy byvoorbeeld in die Ou Testamentiese tyd ‘n beker gehad het wat jy in jou huis gebruik het en jy hom dan na die tempel toe vat om daar gebruik te word, dan is daar na so beker verwys as heilig. Hy is nou afgesonder. Hy mag nou alleen gebruik word in die tempeldiens.
Dis wat die Heilige Gees ook met ons kom doen. Hy sonder ons af om ons lewe alleen aan God te wy. Daarom staan daar:
“…soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe.” (Rom. 6:19)
Wanneer die Heilige Gees in ons werk, dan bring Hy orde in die chaos. Hy laat die lig skyn in die duisternis, en Hy help ons dat ons geloof sterker word as die ongeloof, en Hy laat die liefde vir geregtigheid oor die liefde vir sonde heers.
Hierdie krag sien ons op verskillende manier in ons lewe werksaam. In sommige van ons se lewe is Hy van kindsbeen af by ons, en die gevolg is dat ons nooit die geleentheid gekry het om in situasies te kom waar ons weet dat ons nie die sonde sou kon weerstaan het as Hy ons nie bewaar het nie.
Of vir ander van ons was dit juis omdat Hy by ons was dat daardie mentor in ons lewe gekom het wat vir ons rigting gegee het.
Of vir ander het ons hardkoppigheid gemaak dat ons weggedwaal het, maar deur sy genade het Hy ons oë oopgemaak om ons dwaasheid te sien. So beskerm en sorg en lei God ons deur sy Gees.
So, omdat God ons voor die grondlegging van die wêreld gekies het om ewig aan Hom te behoort, skenk Hy ook aan ons die Heilige Gees wat kragtig in ons werk om orde in die chaos van ons lewe te bring. Hy help ons om ons af te sonder vir God. Sodat ons alleen in God se diens gebruik word.
3. Die genade van die uitverkiesing is in die Seun wat verlos
In die tweede deel van vers 2 staan:
“…om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:2)
Wanneer ons van die besprinkeling van bloed lees, dan word ons dadelik terug gevat na die deel in die Ou Testament wat vir baie mense grusaam is. Diere wat doodgemaak word. Bloed wat oral gespat word. Kan jy jouself indink hoe daardie dooiebloed sou ruik.
Maar die bloed het op twee belangrike dinge gewys. Aan die een kant het dit gewys op die versoening van sonde. Indien ‘n persoon sonde gedoen het, dan het hy ‘n skaap na die tempel toe gebring waar hy geslag is en die bloed is dan op die altaar gesprinkel.
So, met hierdie woorde herinner Petrus ons daaraan dat die bloed van Jesus dien tot versoening van ons sonde. Dis ook wat met die doop uitgebeeld word. Dis nie omdat daardie babatjie so oulik is of omdat hy ‘n goeie lewe sal leef nie, nee! Dis omdat Jesus se bloed gesprinkel is, omdat sy bloed vergiet is kan selfs daardie babatjies se sonde vergewe word. Dis hoe groot die genade is.
Maar die bloed van diere was ook gebruik by die priesterwyding waar die priester vir sy diens aan God gewy is. Daardie bloed wys daarop dat Hy vir God afgesonder is en daarom moet hy sy lewe daaraan toewy om gehoorsaam te wees aan God. Paulus sê iets soortgelyks in Romeine as daar staan:
“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (Rom. 12:1)
Wat die bloed van diere in die ou verbond moes doen, dit het Jesus se bloed vir ons kom doen toe Hy vir ons aan die kruis gesterf het. Deur daardie offer het Hy vir ons versoening bewerk tussen ons en God en ons word in hierdie diens aan God gewy.
Maar daar is mense wat voel dat dit absurd is. Hoekom sal ‘n liefdevolle God so gruwelike ding vereis?
Maar kom ons dink net vir ‘n oomblik prakties daaroor. Indien jy sonde doen teen jou land. Gestel jy kom in opstand teen die regering deur te probeer om die presedent dood te maak of die regering omver te werp.
Die gevolg daarvan sal tog wees dat jy iewers alleen in ‘n tronk gesit sal word en daar is selfs lande wat dit erg genoeg ag om jou dood te maak.
Nou, indien ons dit as so groot misdaad ag, hoeveel te meer nie as jy in opstand kom teen die God van die heelal nie. En die Bybel leer ons ook wat die straf op hierdie opstand is. Jy word verban uit God se teenwoordigheid. Dit het begin met Adam en Eva wat uit die tuin van Eden verdryf is.
Die enigste manier hoe ons weer waardig kan word om terug te kom in daardie besondere teenwoordigheid van God, is deur die bloed van Christus wat vergiet moes word aan die kruis.
Nou, die liefde van God sien ons juis daarin dat Hy bereid is om ons terug te ontvang. Ons sal nooit die volle omvang van God se liefde verstaan as ons nie Jesus Christus ken as die een wat die volle prys vir ons sonde betaal het nie. As die EEN wie se bloed namens ons gesprinkel is nie.
Hy is aan die kruis deur God verlaat, sodat ons ewig met God mag wees. En daarom leer ons nie God se liefde ken in die feit dat Hy geen betaling van sonde eis nie. Ons leer sy liefde en genade juis ken in die feit dat Hy die volle prys in ons plek betaal.
Dis ook alleen wanneer ons die omvang van hierdie genade en liefde verstaan, wanneer dit ons harte vul met vreugde, dan sal ons gehoorsaam wil wees. Dan sonder ons onsself af. Hoe durf ons in opstand kom wanneer ons God ons so liefhet.
Dis ook die rede waarom gehoorsaamheid en die sprinkeling van Jesus se bloed hier saam genoem word. Ons sal net gehoorsaam wees indien ons besef hoe groot God se liefde vir ons is. Hy wy sy lewe aan ons toe. Hierdie liefde is die motivering wat ons nodig het om ons lewe te verander. Indien ons nie hierdie liefde verstaan nie, sal dit altyd ‘n te groot opoffering vir ons wees om gehoorsaam te wees aan God. Ons sal altyd verskonings hê.
Soms blameer ons ons ouers vir ons stukkende lewe, maar dit is na alle waarskynlikheid nie die kern van ons probleem nie. Die probleem is dat ons nog nie met Jesus se bloed gesprinkel is nie. Ons verstaan nie wat sy verlossing vir ons beteken nie. Ons verstaan nie hoe groot daardie genade is nie.
Ander van ons is weer vreeslik gedrewe. Daar is iets in ons wat maak dat ons net beter en beter wil word en meer hoogtes wil bereik. En ons sien die ongesondheid van hierdie gedrewenheid wanneer ons angstig raak daaroor of bekommerd raak oor alles wat ek kan verloor. Dis ‘n teken daarvan dat ek nie gesprinkel is met hierdie bloed van Christus nie. Ek soek my waardigheid en aanvaarding en liefde op die verkeerde plek. Net in Christus kan daar vir ons vrede wees! Ons het nodig om die diepte en omvangrykheid van sy liede te leer ken.
Maar die bloed van Christus maak ons ook nederig!
Ons sal nie meer hoogmoedig wees nie, want dis niks wat ons gedoen het nie. Die rede waarom God ons liefhet, die rede waarom Hy ons kies is nie omdat ons dit verdien of omdat my geloof so groot is of omdat ek so wys is nie. Ons ontvang God se liefde bloot uit genade en daarom kan niemand hoogmoedig wees nie. Dis nie iets wat ek doen nie, maar wat God vir my doen.
Maar ons sal ook nie ‘n swak selfbeeld hê en voel dat ons nie waardig is nie, want in Jesus word ons opgelig en waardig gemaak om selfs kinders van God te wees. Ons leef met daardie nuwe identiteit wat ‘n Christus gesentreerde nederigheid in ons bring.
In Jesus kry ons versoening en ons lewes verander onherroeplik.
Slot:
So, in die wêreld se oë is ons vreemdelinge, maar in God se oë is ons uitverkorenes.
As gelowiges word ons omvou in die uitverkore liefde van God die Vader, ons word versterk deur die kragtige werk van God die Heilige Gees en ons leef in die genade van die verlossing van God die Seun.
Kom ons leef elke dag vanuit hierdie liefde, krag en genade.
Comments