top of page

Die Heilige Gees, ons voorspraak...

Teks: Johannes 14:15-31

Teksvers: Joh. 14:16

In die vorige gedeelte het Jesus gesê dat Hy weggaan en die dissipels was tereg ontsteld daaroor. Hoe sal hulle dan regkom sonder Jesus? Petrus sê ook in vers 5 dat hulle Jesus nie kan volg nie, want hulle ken nie die plek waarheen Jesus gaan nie.

Nou begin Jesus hierdie gedeelte met die woorde, "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer."

Dit nadat Jesus vir Petrus gesê het dat hy Hom in dieselfde nag nog drie keer sal verloën (Joh. 13:38). Dit moet ons ook laat dink oor ons liefde vir Jesus. Die sonde wat ons doen getuig teen ons. Indien ons Hom werklik liefhet sal ons ons lewe aan Hom toewy.

Elke sonde wat ons doen getuig van iets wat ons meer liefhet as vir Jesus.

Jy wil dalk in beheer van mense wees, al maak jy dalk mense in die proses seer, want jy het daardie mag liewer as vir Jesus.

Dalk is dit vir jou baie belangrik om deel te wees van 'n sekere groep. Die gevolg is dat jy alles doen wat die groep aanvaarbaar vind en daarom is jy liewer vir die groep as vir Jesus.

Dit kan 'n verhouding met 'n ouer of vriend/vriendin of kind wees wat jy hoër ag as Jesus. Die gevolg is dat jy onaanvaarbare en irrasionele goed sal doen in 'n poging om daardie verhouding te beskerm.

Hierdie sonde laat ons besef dat ons nie in staat is om Jesus lief te hê soos wat ons veronderstel is om Hom lief te hê nie en daarom sê Jesus in vers 16 dat Hy vir die Vader sal vra om vir ons 'n ander Voorspraak te stuur. Kyk wat doen hierdie Voorspraak.

1. Helper (16-17)

Die woord "Voorspraak" kan ook vertaal word met "Helper' en dit verwys na iemand wat langs jou inkom om jou te bemoedig, te vertroos, raad te gee en te vermaan.

M.a.w. wat Jesus tot nou toe vir die dissipels gedoen het, sal die Heilige Gees vir hulle in die toekoms wees. Die Heilige Gees maak Jesus 'n werklikheid vir die dissipels van Jesus. Hy openbaar hierdie waarheid aan ons sodat ons nie moedeloos raak nie. Hy bemoedig ons met die verlossingswerk van Jesus en vermaan ons waar dit nodig is.

2. Hy herinner ons dat ons nie weeskinders is nie (18)

'n Weeskind worstel sy hele lewe met die feit dat hy nêrens hoort nie. Sy ouers het hom verwerp en daarom het hy geen tuiste nie. Die gevolg is dat hy altyd minderwaardig voel en alles in sy vermoë doen om deel te wees. So raak hulle dikwels deel van die verkeerde groepe.

Die Heilige Gees herinner ons aan die feit dat ons deel is van 'n groot huisgesin. Ons het nie nodig om die aanvaarding van mense op te soek nie, want ons is in Christus deel gemaak van die heerlikste familie. Die Allerhoogste is ons Vader. So help Hy ons om nie die opinies van mense hoër te ag as die wil van God nie.

3. Ons leef 'n nuwe lewe (20-24)

Jakobus 2:14-26 lê baie klem daarop dat ware geloof gepaard gaan met dade. Die Heilige Gees bring daardie nuwe lewe in die dissipel van Jesus na vore. Daardie dade wat vanuit die geloof kom, is die bewys dat die Heilige Gees sy liefde in ons harte uitstort.

Hy wys ons hoe diep en wyd en hoog en breed die liefde van Christus is en daarom kan ons nie anders as om ook so te wil liefhê nie. Ons wil Hom gehoorsaam en volg omdat sy gelyke nêrens te vinde is nie.

4. Hy herinner ons aan Christus (26)

Iets hiervan sien ons wanneer daar in hoofstuk 2 staan: later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het die dissipels daaraan gedink (2:21).

Die Heilige Gees het hulle gehelp om die Skrif te verstaan en reg toe te pas in hulle lewens.

Net so help die Gees ons ook om Jesus te sien vir wie Hy is. Die Bybel is nie daar sodat ons mooi lewenslesse daaruit kan kry nie. Die Bybel is die openbaring van God en die Heilige Gees help ons om die volle openbaring te verstaan.

5. Hy gee ons vrede (27)

Die wêreld dink aan vrede as die afwesigheid van konflik. Jesus wys sy dissipels hier daarop dat Hy vir ons beter vrede as die wêreld s'n agterlaat. Jesus se vrede het te doen met 'n persoonlike verhouding met Hom.

Die woord duiwel beteken letterlik, "aanklaer". Hy kla ons gedurig aan. Dit is hoekoms ons soms so oorsensitiewe gewete het. Wanneer daar byvoorbeeld iets slegs gebeur dink ons dadelik dat die Here ons straf oor al ons sonde. Ons gewete word aangekla.

Wat Jesus ons hier leer is dat die Heilige Gees soos 'n advokaat is. Hy wys ons daarop dat ons niks hoef te vrees nie. Ons moenie ontsteld of bang wees nie, want Jesus het namens ons die dood ingegaan. Hy het reeds die straf vir ons sonde betaal en daarom kan ons nie weer gestraf word nie.

Die Heilige Gees is ‘n wonderlike gawe wat elke gelowige ontvang het. Hy maak die verlossingswerk van Christus ‘n realiteit in ons lewe sodat ons in liefde kan leef.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter faset van jou lewe, sal jy nie sonder die kragtige werk van die Heilige Gees kan leef nie?

b) Watter bemoediging kry jy uit die werk van die Heilige Gees as Voorspraak in jou lewe?

89 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page