top of page

Volg Jesus uit diepe dankbaarheid

Tema: Johannes 13:36-38

Teksvers: Joh. 13:38

Petrus het die mooiste bedoelings, maar dit is buite God se wil en dit is buite sy vermoëns. Petrus se woorde herinner aan Jesus wat in hoofstuk 10:11 gesê het dat Hy sy lewe vir sy skape sal aflê.

Petrus dink dat hy sy lewe vir Jesus moet aflê terwyl dit andersom is. Jesus moet sy lewe vir Petrus aflê. Jesus beklemtoon dan ook Petrus se verkeerde perspektief deur sy woorde te herhaal. Hy sê, "Sal jy jou lewe vir my aflê?"

Daarom wys Jesus hom op dit wat voorlê. Voor die haan kraai sal Petrus vir Jesus drie keer verloën.

Ons sien hier iets by Petrus wat ook dikwels onwetend in ons lewens voorkom. Ons het dalk goeie bedoelings maar ons dink dat ons die Here 'n guns moet doen. Ons leef goeie lewens en ons maak baie opofferings vir Hom. Ons gaan kerk toe en ons lees Bybel. Ons sorg vir die armes en gee ons tiendes. Alles vir die Here!!

Wanneer ons so redeneer verstaan ons nog nie wat Jesus leer as Hy sê, "So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen." (Lukas 17:10)

Die bewys dat ons motief verkeerd is, sien ons in ons lewe wanneer ons soos Petrus in moeilike situasies kom. Daar waar ons 'n keuse moet maak tussen dit wat vir my belangrik is en God se eer. Ons sukkel om God se eer te kies want diep in ons hart dink ons dat ons God 'n guns doen deur ‘n goeie lewe te leef. Daarom word ons ook opstandig wanneer die slegte dinge in ons lewens gebeur. Ons is dan hierdie goeie en getroue kinders van die Here.

Ons sal hierdie gesindheid net kan verander indien ons besef dat ons diep in die skuld is by God. Ons sonde maak dat ons niks verdien nie. Boonop is die enigste manier hoe ons van hierdie sonde vry kan kom, deur die kruisdood van Jesus. Hy moes die dood sterf, wat ons moes sterf.

Daarom wys Jesus vir Petrus op die verloëning wat binnekort gaan plaasvind. Hy doen dit spesifiek om Petrus te laat besef dat Hy Jesus nodig het en nie andersom nie. Eers wanneer ons ons diep afhanklikheid van Christus se verlossing verstaan, sal ons nie meer dink dat ons goeie lewens opmaak vir al ons oortredings nie.

Ons is soos daardie slaaf wat sê dat ons maar net doen wat ons verplig is om te doen. Ons is diep in die skuld by God. Ons is ons lewens aan Hom verskuldig.

Tog is sy liefde so groot dat Hy nie eens meer aan ons sonde wil dink nie (Jer. 31:34, Ps. 103:12).

Daarom gaan dit nie vir die gelowige oor wat hy vir die Here kan doen nie, maar oor wat die Here vir ons gedoen het. Leef vanuit hierdie verlossing. Ons is diep afhanklik van Christus se verlossing.

Vrae tot introspeksie:

a) Waar in jou lewe het jy ervaar dat jy onwetend leef asof jy die Here ‘n guns doen?

b) Hoe verstaan jy die woorde: “Ons is slawe wat niks verdien nie..." (Lukas 17:10)

24 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page