top of page

Die krag om te vergewe

Teks: Genesis 45:1-28

Sodra Josef sien dat sy broers se gesindheid verander het en dat hulle besorgd is oor Benjamin en hulle pa, dan kan Josef nie anders as om homself aan hulle bekend te maak nie.

Ons leer egter hier ten minste een belangrike les rondom vergiffenis.

Om te kan vergewe, beteken dat die een wat te nagekom is, bereid moet wees om die leed wat hom aangedoen is te dra.

Daar was niks wat die broers vir Josef kon doen om op te maak vir al die leed wat hulle Josef aangedoen het tydens die grootste tyd van sy verblyf in Egipte nie. Daarom is ware vergiffenis die proses om daardie leed volkome te aanvaar.

Een van die grootste redes waarom ons dikwels sukkel om te vergewe is omdat ons harte gevul is met hoogmoed. Wanneer jou beste vriend byvoorbeeld vir jou oor iets gejok het sal jy dalk sê: “Hoe kon jy so iets aan my doen. Ek sal jou nooit daarvoor kan vergewe nie.”

Wat agter hierdie woorde lê is die hoogmoed. Hoogmoed om te dink dat jy nooit so iets aan ‘n persoon sal doen nie. Asof jy nog nooit gejok het nie.

Dalk is jy kwaad omdat iemand jou toekomsplanne en geleenthede gesteel het. Daarin lê ook hoogmoed, want ons bepaal nie ons toekoms nie, maar God. Dit word baie mooi sigbaar in hierdie verhaal.

Hoe oorkom ons hierdie hoogmoed wat ons verhoed om te kan vergewe?

Josef erken God se soewereine gesag

Josef wys sy broers daarop dat hy God se hand in die verlede kan sien. Die Here het hulle sondige besluite so gebruik dat die goeie daaruit voortgekom het. Nie alleen kan die verbondsvolk van God aan die lewe bly nie, maar baie ander mense sal ook op die manier gered word van die dood (vs. 7-8).

Ons het soveel meer rede om te vertrou op God se soewereine gesag, want ons ken Jesus Christus. Ons ken die leed wat mense Hom aangedoen het en meer nog, ons ken die leed wat ons Hom dag na dag aandoen deur die sonde wat ons doen.

Ons sonde wat daartoe gelei het dat Hy moes sterf en deur die Vader verlaat word.

Tog is dit te danke aan Sy soenoffer dat ons kan lewe en dit is daardie genade wat ons sal motiveer om ander ook te wil vergewe soos wat ons vergewe is.

Jesus se dood en opstanding wys die gelowige dat niemand ons toekoms van ons kan wegneem nie. God wil net die beste vir ons gee en daardie heerlike erfenis kry ons in Christus.

Ons hoef nie ‘n wrok te hou nie want ons God is in beheer en sal regverdig oordeel op sy tyd.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat het vir jou in hierdie gedeelte uitgestaan?

b) Hoe kan die soewereiniteit (heerskappy) van God jou help om te vergewe?

17 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page