top of page

Die smart van die dood is deur Jesus gedra

Teks: Johannes 11:33-44

Teksvers: Joh. 11:33

Die Griekse woord wat in vers 33 gebruik word om Jesus se emosie te beskryf is 'n ander woord as wat in vers 35 gebruik word.

Die woord wat in vers 33 gebruik word dui 'n harde geblaas of gesnuif van 'n kwaai dier aan. In die geval van 'n mens, wys dit dat hy briesend kwaad is.

Indien ons dink oor wat Jesus hier so ontstel het, dan moet dit die pyn en hartseer wees wat die mense se sonde veroorsaak. Jesus kon tog nie so ontsteld gewees het oor Lasarus se dood nie, want Jesus weet dat Hy hom binnekort uit die dood gaan opwek (vgl. vs. 23).

Dieselfde geld vir die hartseer in vers 35. Jesus huil nie omdat Hy die dood van Lasarus betreur nie, Hy is hartseer oor 'n wêreld wat in sonde vasgevang is. Sonde wat hartseer en dood veroorsaak.

Daarom skiet Jesus se gemoed weer vol in vers 38 toe Hy die graf sien. 'n Graf wat baie lyk soos die graf waarin Hy neergelê gaan word om vir hierdie sondige wêreld se sonde te betaal.

Ons moenie die oorsaak van siekte en dood buite onsself soek nie. Ons moenie die duiwel die skuld gee of nog erger, vir God nie. Ons eie sondige natuur is die oorsaak van al die hartseer en teleurstelling en dood waarmee ons in hierdie lewe te doen kry.

Ons liefde is afgemeet en bevlek met selfsug. Ons lewens draai net om onsself en dit veroorsaak die een teleurstelling na die ander.

Die wonderlike van hierdie gedeelte is om te sien dat Jesus nie vir die sondaar kwaad is nie, maar wel vir die sonde. Daarom het Hy na die aarde gekom. Hy het gekom om met die sonde af te reken.

Die opwekking van Lasarus was maar net 'n voorafskadu van die opstanding uit die dood wat ons eendag sal beleef. Die dag wanneer al die dooies die stem van die Seun van God hoor en lewend word.

'n Dag wat in Openbaring beskryf word as,

“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” (Op. 21:3-4)

Jesus was bereid om die diepste duisternis van Godsverlatenheid in te gaan sodat ons hierdie genade kan ontvang.

Daarom hoef die dood nie meer vir die gelowige 'n dag van smart te wees nie, maar 'n dag van hoop. Hoop dat die dag vinnig nader kom wanneer Jesus se stem oor die aarde sal weerklink om ons almal uit die dood uit te roep.

Danksy Jesus se genade en liefde, is die dood se angel verwyder. Jesus het die straf van die dood gedra sodat ons dood nou net 'n deur kan wees na die ewige.

Leef met hierdie hoop!

Vrae tot introspeksie:

a) Wat van die dood, maak dat jou bang, hartseer of opstandig?

b) Hoe gee hierdie gedeelte jou hoop ten opsigte van die ewige lewe?

23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page