top of page

Die stryd tussen geloof en ongeloof

Teks: Genesis 12:10-20

In hierdie gedeelte sien ons die worsteling tussen geloof en ongeloof. Met die droogte besluit Abram om Egipte toe te trek en om nie terug te gaan na Haran toe nie. In daardie opsig vertrou hy die Here, eerder as sy familie, om in sy behoeftes te voorsien.

Wanneer hulle voor Egipte staan, besluit hy egter om te sê dat Sarai sy suster is, eerder as sy vrou. Hy doen dit uit vrees dat hulle hom sal doodmaak wanneer hulle sien hoe mooi sy vrou is. In hierdie geval is sy geloof weer op homself gerig. Hy probeer self uitkoms bewerk in sy omstandighede.

Elke gelowige worstel met hierdie stryd tussen geloof en ongeloof. Wanneer vrees ons oorval is dit altyd moeilik om te glo. Dit is dan wat ons teruggebring word by die ou vraag, “Het God regtig gesê dat julle nie van daardie boom se vrug mag eet nie?” (vgl. Gen. 3:1) M.a.w., is God werklik so betroubaar soos wat Hy sê? Is dit moontlik dat Hy ‘n sondige mens soos ek sal red?

Ons is geneig om in krisistye terug te val op ons eie krag, wysheid en voorsienigheid. Ons vertrou dan eerder onsself vir die uitkoms, en net soos in Abram se geval, loop dit gewoonlik uit op ellende/sonde. Net soos Abram vrees ons ook die ergste. In ons gedagtes sien ons al die gevolge van ons omstandighede…..en dit is niks goeds nie.

Deur Jesus se kruisdood leer ons egter ten minste twee belangrike sake.

1. Hy is betroubaar

Dit maak nie saak wat ons omstandighede (duiwel) ons wil wys nie, ons weet dat God oneindig betroubaar is. Inteendeel, Hy is getrou al is ons dikwels ontrou teenoor Hom. Ons kan Hom in elke situasie vertrou en die opofferende liefde wat ons in Christus se kruisdood sien, is die bewys daarvan.

2. Hy gebruik omstandighede ten goede.

In Jesus sien ons egter ook dat Hy slegte omstandighede verander sodat dit tot ons voordeel is. Hy sterf, sodat ons gered kan word.

Net so sal Hy ook nie toelaat dat ons omstandighede tot die dood lei nie. Hy red ons van die verderf en daarom sal Hy altyd uitkoms gee. Dit maak nie saak in watter omstandighede ons onsself bevind nie. Ons moet net altyd bly vertrou.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n geleentheid waar jy in eie krag probeer optree het.

b) Hoe vertroos hierdie gedeelte jou?

18 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page