top of page

Die stryd van die lewe, en ons troos...

Teks: Genesis 30:1-24

Hierdie deel wys ons dat daar ‘n bitter stryd tussen hierdie twee susters was. Boonop het hierdie stryd ook gepaard gegaan met gebed (vs. 17 & 22) en die erkenning van God se voorsienigheid (20 & 24) aan die een kant, maar aan die ander kant weer die gryp na bygelowe (vs. 14).

Die resultaat daarvan dat God nie Ragel se gebed vinnig genoeg na haar sin verhoor het nie, het daartoe gelei dat sy haar hoop in die liefdesappels gestel het.

Daarom maak Ragel ‘n ooreenkoms met Lea. Jakob mag die nag by haar slaap indien sy die liefdesappels vir haar gee.

Beide hierdie twee vrouens gebruik die liefdesappels om iets te kry wat hulle graag wil hê. Lea gebruik dit om Jakob by haar te hê. Ons sien dit ook in die benaming van Sebulon, wat daarop wys dat die geboorte van haar sesde kind vir Jakob sal maak dat Jakob nou by haar bly (vs. 20).

Ragel gebruik die liefdesappels met die hoop dat dit haar sal help om swanger te word[1].

In hierdie ooreenkoms sien ons dan dat Lea kry wat haar hart begeer terwyl Ragel steeds kinderloos bly. Lea word drie keer swanger (met Issaskar, Sebulon en Dina) voordat Ragel se gebed verhoor word (vs. 24). Daarin sien ons dat dit God is wat nuwe lewe gee. Ons kan dit nie bewerk nie.

As gelowiges kan ons ook met hierdie stryd van Ragel assosieer. Dis ‘n stryd wat ons dikwels perspektief laat verloor. Ons begeerte na sukses of kinders of liefde… maak dat ons gryp na aardse hulpmiddels sonder om ons vertroue op die Here te plaas. Dit is moeilik om te vertrou sonder om met eie mag in te gryp. Ons geduld is so min en ons vertroue in die Here is nog minder. Kyk hoe versterk die Here ons vertroue in hierdie gedeelte.

Die stamvader se name herinner ons…

Elke stamvader se naam wys vir ons vooruit na Christus wat volkome in elkeen van ons se diepste behoefte kom voorsien.

Die naam Dan, hou verband met die Hebreeuse woord vir “In my guns uitspraak gelewer.” In Jesus sien ons hoe God op ‘n wonderbaarlike manier in ons guns uitspraak gelewer het. Ons verdien die ewige dood, maar God skenk sy Seun as offer om vir ons sonde te betaal. Hy word die vervloekte sodat ons die vrygespreektes kan wees. Ons kan weer kinders van God wees.

Die naam Naftali hou verband met die Hebreeuse woord vir “Ek was in ‘n bitter swaar stryd gewikkel.” Net so was ons ook in ‘n swaar stryd gewikkel. Die dood was ons voorland en Jesus het ons uit daardie greep gered.

Die name Gad en Aser hou weer verband met die Hebreeuse woorde vir “Gelukkig.” In Jesus vind ons volkome blydskap. Daarom sê Hy vir sy dissipels:

“Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.” (Joh. 16:22-24)

Wanneer ons die heerlikheid van ons verlossing in Christus verstaan en daaruit leef, sal ons weet dat ons God met ons lewe kan vertrou.

God slaan ag op ons gebed

Wat hier interessant is, is dat daar in vers 22 staan dat God ag geslaan het op Ragel se gebed. Die woord wat daar gebruik is, is dieselfde woord wat in hoofstuk 8 gebruik is toe Noag in die ark was en die storm nog so om hulle gewoed het. Daar staan:

“Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was…” (Gen. 8:1)

Met die gebruik van hierdie woord word die genade van die Here ook hier beklemtoon. Indien die Here nie aan ons dink nie, is alles tevergeefs. Ons lewe, en dan ook in besonder die ewige lewe, kom alleen van Hom.

Dis omdat God aan ons gedink het dat Jesus na die aarde gekom het om ons van die verderf te verlos. Dis omdat Hy aan ons gedink het dat ons ewig saam met Hom kan lewe.

Hierdie genade herinner ook aan die woorde van die Psalm digter wat sê:

“As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” (Ps. 127:1-2)

Hierdie verlossingsverhaal beklemtoon die genade van die Here. Moenie op jou eie krag staatmaak nie. Vertrou op Hom.

As die Here nie aan ons dink nie, as Hy nie die pad vir ons oopmaak nie, as Hy ons nie liefhet nie, dan is alles tevergeefs.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan bygelowe of sekere situasies waar jy jou vertroue op iets of iemand anders as God gestel het.

b) Watter troos vind jy in hierdie gedeelte?

[1] Daar was die bygeloof in die antieke wêreld dat hierdie liefdesappels, 'n vrou se vrugbaarheid kon bevorder.

24 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page