Teks: Genesis 47:13
Vir die moderne leser klink hierdie verhaal na uitbuitery en een van die grootste redes daarvoor is omdat ons nie die leefwêreld van die leser van destyds verstaan nie.
Wanneer ons Levitikus 25:14-43 lees, kry ons bietjie meer lig op hierdie saak. In Levitikus word die persoon, wat die land van die armes koop om hulle as sy werknemers (slawe) aan te neem, as ‘n goedgesinde beskou. Hierdie armes moes dan vir ses jaar vir hul eienaar werk en die sewende jaar sou hulle vrygestel word sonder dat hulle iets aan die eienaar moet betaal (Eks. 21:2).
Die slawerny onder ‘n goeie werkgewer was in daardie tyd selfs beskou as ‘n beter opsie as die risiko om vry te wees en jou eie besluite te neem. Daarom het dit ook so gebeur dat sommige slawe, na die ses jaar verpligte arbeid, besluit het om permanent vir sy eienaar te werk (vgl. Eks. 21:5-6; Deut. 15:16-17).
In hierdie gedeelte kry ons met dieselfde goedgesindheid te doen en daarom staan daar ook dat die Egiptenare vir Josef gesê het:
“U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.” (Gen. 47:25)
Die probleem is egter dat alle eienaars nie goedgesind was nie en daarom het die situasie in Egipte later so ontaard, dat die Israeliete onderdruk was en dwangarbeid vir die Farao moes doen (vgl. Eks. 1-14).
Ten opsigte van ons eie situasie, moet dit ons laat dink aan wat Jesus leer wanneer daar staan:
“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (Matt. 6:24)
Jesus praat hier spesifiek van die afgod Mammon of dan geld, maar dit geld vir al die afgode in ons lewe. Indien ons eer, mag of sukses najaag, geld dieselfde vir ons. Daardie gode dreineer al ons tyd en energie.
Indien sukses jou god is, sal jy al hoe meer tyd by jou werk spandeer. Jy word letterlik ‘n slaaf van jou werk. Jou hele lewe draai later om jou werk en die gevolg is dat al die ander aspekte van jou lewe uitmekaar val.
Hierdie gode is ongenaakbaar en eis van jou alles. Jy moet jou hele lewe vir hulle op die spel plaas terwyl jy nooit ware sekuriteit en liefde ontvang nie. Jou welstand en toekoms is vir hulle glad nie van belang nie.
Daarteenoor is elke gelowige ‘n slaaf van Christus. Paulus sien dit ook so wanneer hy skryf:
“PAULUS, ’n dienskneg van Jesus Christus, ’n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God…” (Rom. 1:1)
Die Griekse woord wat met “dienskneg” vertaal is, kan letterlik vertaal word met slaaf. Paulus sien homself as ‘n slaaf van Christus. Hy beskou dit as ‘n groot voorreg om in sy diens te mag staan. Hy is ‘n Eienaar wat ons belange op die hart dra. Soveel dat Hy bereid was om vir ons te sterf.
Jesus sterf sodat ons kan lewe.
Daarom het ons soveel meer rede as hierdie Egiptenaars om vir Jesus te sê:
“U het ons lewe gered. U is ons goedgesind. Ons sal U slawe wees.”
Ons weet dat Jesus ons belange op die hart dra en daarom sal ons ons lewe afsonder om Hom te dien. Wanneer Hy sy opdragte aan ons gee is dit om ons te beskerm en nie om Homself te verryk nie.
Hy het die gestalte van ‘n slaaf aangeneem om ons uit die mag van die dood te red. Daarom sal ons saam met die Psalmdigter bid:
“Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan my hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie.” (Ps. 119:35-36)
Vrae tot introspeksie:
a) Hoe wys jy in jou lewe dat jy ‘n trotste dienskneg van Christus is?
b) In watter aspek van jou lewe moet jy meer toegewyd aan Christus leef?
Comments